Nag van Verskrikking

14 September, 2017
Luister Na Hierdie Dagstukkie Nag van Verskrikking

Matteus 26:31-46

Jesus se dissipels het begin besef wat hier aan die gebeure is. Hulle Meester sou gevange geneem word! Het hulle nie immers tog sélf gesien hoedat Judas bleek word toe Jesus vir hom sê dat hy die verraaier is nie? Nou wéét hulle dat dinge baie vinnig gaan begin gebeur. Hulle is bitter onseker, want wat presies gaan gebeur, is steeds vir hulle ’n geslote boek. Maar één ding is seker: hulle weet presies wat húlle gaan doen! Natúúrlik gaan hulle mos by Jesus staan tot aan die bitter einde! Kom wat wil!

Julle almal gaan My in die steek laat”, hoor hulle met ‘n skok. Skielik is die manne opgeruk. Hoe kan Jesus dan só ‘n verskriklike ding van hulle sê?

Maar nadat alles verby is, sal Ek julle in Galilea ontmoet.” Hierdie laaste sin hoor hulle nie eers nie. Die beskuldiging, dat hulle vir Jesus in die steek gaan laat, het hulle dwars in die krop gesteek.

Nie ekke nie!” skerm Petrus, diep seergemaak. “Húlle miskien, maar ék? Nog nóóit!”

Petrus, jy gaan my boonop vannag nog verloën, drie maal, nog voordat die haan kraai.”

Nou is Petrus hewig ontsteld! Hoe kan sy Meester dan so sleg van hom, Petrus die Rots dink? Hy is immers die sterk een, die een wat skrik vir g’n niks! En nou beskuldig Jesus hom van sulke lafhartigheid. “Ek sal dit mos nóóit doen nie! Ek sal U nóóit verloën nie, al beteken dit dan ook dat ek saam met U moet sterwe!” Brom-brom stem die ander manne saam met Petrus. Hulle het immers so deel van Jesus geword dat dit totaal ondenkbaar is dat hulle Hom óóit in die steek sal laat.

Maar dan kom die eerste toets, en hulle dop daardie toets met vlieënde vaandels. Van die bovertrek waar hulle die nagmaal geniet het (het hulle dit werklik geniet?), stap hulle ‘n ver ent die nag in, al in die Kidronvallei af tot hulle uiteindelik in Getsemane, die olyfpers tuin kom. Dit is geleë aan die onderkant van die tempelberg. Die manne is moeg. Dit is al laatnag.

Ek gaan bid,” deel Hy die manne mee. Hy het dikwels so alleen gaan bid.Sit hier, en wag vir My.”

Petrus, Jakobus en Johannes word opgekommandeer om saam met Hom te gaan waar Hy gaan bid. Die manne merk dadelik op dat Jesus bitter benoud is, en dat Sy trane baie naby sit. Dit ruk hulle aan die hart. Hulle is doodmoeg as hulle gaan sit terwyl Jesus in ‘n diepe sieleworsteling met die Vader verkeer. Hy weet presies wat vir Hom voorlê, en menslik-gesproke is dit absoluut onmoontlik om deur hierdie verskrikking te gaan.

Asseblief Vader, kan hierdie lydensbeker nie maar verbygaan nie? Maar Ek sal nogtans doen wat U vra.”

As Jesus omkyk, sit die drie manne vas aan die slaap. Hy is ontsteld! Kan hulle nie eers vir een enkele ou uurtjie Hom in Sy nood bystaan nie? Was dit nie húlle wat so pas ‘n uur of twee gelede nog so heftig gereageer het, en gesê het dat hulle deur dik en dun by Hom sou staan nie? Jesus praat baie hard met Petrus - hy is tog immers die leier. Maar dit help niks, want skaars het Hy weer begin bid, dan slaap die drie al weer.

Vader, ek besef nou dat Ek die volle beker van lyding moet drink. Ek is bereid om te doen wat U vra.” Bloedsweet loop oor Jesus se gesig wanneer Hy opstaan. Die spanning is ondraaglik. Weëmoedig kyk Hy na Sy slapende volgelinge. Kon hulle nie maar Sy lyding so ‘n klein bietjie ligter help maak het nie? Kon hulle nie maar net hierdie kort ou tydjie saam met Hom gewaak het nie? Hy draai om en bid verder, vir die heel laaste maal. Hy het nou vrede gemaak met Sy lyding. Hy voel bitter jammer vir die manne, want hulle besef nie deur watter verskriklike tyd hulle nou sal gaan nie. Nou is hulle nog braaf, maar binnekort gaan hulle uitmekaargejaag word.

Jesus maak die manne wakker: “Die uur het gekom!” deel Hy hulle mee.

Watter uur?” wil hulle nog wonder, maar dan sê Jesus vir hulle dat dit tyd geword het dat Hy oorgelewer word, en dat Judas al klaar op pad is met die soldate.

Die elf manne het die eerste rondte van die verskriklike geveg liederlik verloor. Hulle was só positief dat hulle deur alles by Jesus sou staan, maar hulle kon nie eers wakker bly in Sy uur van gebed nie.

Dikwels vra Jesus vandag ook vir jou en my om maar net in klein dingetjies getrou aan Hom te bly, en dan gaan dit so bitter moeilik. Moenie die dissipels verwyt nie! Gaan doen gerus maar net ‘n bietjie introspeksie in jou eie lewe, en dan sal jy sien dat ons maar presies dieselfde doen. Soms voel ons totaal verlore, soos daardie manne dalk daar gevoel het. Hierdie was vir hulle maar die begin. Dit sou nog baie erger word! Jesus se belofte, dat Hy hulle weer bymekaar sou bring, was egter hulle troos. So ook troos Hy jou en my, al lyk dinge soms totaal verlore. Hy wag steeds daar vir ons aan die einde van die pad. Maar nog véél meer: Hy stap ál die pad deur ons beproewing saam met ons. Boonop, anders as die dissipels se powere poging, laat Hy ons nie vir een enkele oomblik in die steek nie.

Gebed:

Dankie Here, dat ek vandag daardie wonderlike versekering kan hê dat U altyd daar is vir my, en al voel dit soms asof ek totaal verlore is, dat U steeds met uitgestrekte arms vir my wag.

Argiewe


Onlangse Dagstukkies

‘n Warm Patat
21 August, 2026
Die Ark is Gebuit!
20 August, 2026
Luister en Doen
19 August, 2026
Wanneer die Here Praat
18 August, 2026
Om Kinders Groot te Maak
17 August, 2026