Handelinge 2:43-47
As jou lewe aan die ryper kant van sestig of sewentig trek, dan kan jy vanoggend saam met my terugdink met groot weemoed aan ‘n eenvoudige, ongekompliseerde lewe waar mense nog waarlik vir mekaar omgegee het. In die dae voor rekenaars, selfone, internet en TV was dit soveel makliker en eenvoudiger. Kuier was ‘n alledaagse ding. Nie partytjies nie maar eenvoudige kuier waar vriende of familie bymekaargekom het op ‘n Saterdag en ‘n heerlike piekniek gaan hou het en saam êrens in die veld langs ‘n waterstroompie kon gaan eet. Saam met ‘n groot groep vriende het ons dikwels Waterval Boven se talryke berge en klowe ingevaar en die heerlike skoon lug en asemrowende natuurskoon geniet. Of gaan uitspan by die ou vyfboogbrug en op die seepgladde rotse afgegly tot in die groot waterpoel in die Elandsrivier. Nee, daar was nie staproetes nie en jy het maar geloop waar dit mooi was en niemand het jou óóit gepla nie!
Sondag na kerk was dit die familie se beurt en dan is daar ‘n hond uit ‘n bos gekuier, gesels, onthou-stories vertel en saam geëet. Ons het waarlik vir mekaar omgegee en mense het uit hulle pad gegaan om mekaar te help. Nie een van ons was ryk nie maar ons was dolgelukkig!
Wat het gebeur dat dit alles so verander het? Rykdom is een van die grootste euwels. Ons besittings het ons van mekaar vervreem. Dit begin in die gesin, waar ons saans dinge saam gedoen het. Ons het kaart gespeel, om die tafel gesit en ook daar geëet en gesels. Vandag is ‘n gesin vasgenael voor die TV, selfoon of rekenaar wanneer hulle by die huis is en daar word skaars met mekaar gepraat. Naweke kuier vriende selde, buiten moontlik as hulle saam om die TV is om te kyk hoe die Haaie die Leeus mekaar die stryd aansê in die Kerriebekerfinaal. Familie ken mekaar skaars, buiten vir af en toe ‘n telefoongesprek of ‘n haastige WhatsApp boodskap.
Vakansies was vir my as kind ‘n groot ondervinding, veral wanneer ons Xai-Xai toe gegaan het en hordes familie saamgepiekel het. Die oumense het in lekkende houthuisies gebly en al die ander het tente opgeslaan in ‘n reuse familiesaamtrek. Dit was Sports met ‘n hoofletter ES, veral wanneer ons saam die magtige Limpoporivier aangedurf het. Ons het met roeiboot-safari's tot by die riviermond gevaar om te gaan visvang (daar het jy nie gehengel nie, jy het visse gevang!) Almal het dan sommer so op die sand onder die sterre geslaap vir ‘n paar nagte. Kyk, gemaklik was dit nou nie juis nie en die krappe het snags oor jou geloop. Maar die ongelooflike stilte en afgesonderdheid en vreedsaamheid was asemrowend! Die wonderlike samesyn en kuier tot laatnag om ‘n vuurtjie, gebou van dryfhout tydens sulke geleenthede was ‘n wonderlike belewenis wat ek vir altyd sal onthou!
Lukas beskryf in Handelinge 2:42-47 die leefstyl wat die nuwe Christene in Jerusalem gehandhaaf het. Dit was ‘n dinamiese, Geesvervulde gemeente waarmee ons hier te doen kry. Daar is ‘n paar aspekte van hulle leefstyl waarna ons móét kyk:
● Hulle onderhou die leer van die apostels getrou. Wat beteken dit? Die leer van die apostels het gewentel om die persoon en werk van Jesus Christus. Dit het onder andere die verkondiging van die Woord van God asook die uitleef van liefde behels. Jesus was dus die middelpunt van die mense se lewens.
● Hulle is onderling aan mekaar verbonde. Daar is dus ‘n baie spesiale gemeenskapsband wat hulle aan mekaar bind. Lukas gebruik die woord “koinonia,” wat beteken dat daar ‘n splinternuwe band van liefde tussen die gelowiges gevorm het. Hulle is nou nie meer vreemdelinge nie maar broers en susters! Hulle is bloedfamilie binne die nuwe gesin van God.
● Hulle het gemeenskaplike maaltye geniet. In daardie tyd was ‘n maaltyd baie meer as net om gou ‘n stukkie kos af te sluk soos so dikwels vandag ons lot is. Dit was dikwels ‘n godsdienstige ritueel waar familie saam was en die kos ‘n geestelike betekenis gehad het. Hierdie nuwe gelowiges het die tradisies voortgesit, maar met ‘n héél nuwe betekenis. Tydens die maaltyd is daar gedink aan Jesus se groot offer en veral ook aan die teenwoordigheid van die opgestane Here in hulle midde!
● Dan was daar die kwessie van volgehoue gebed, wat ‘n kenmerk was van die gemeente. Waar die Gees aan die werk is, is gebed ‘n integrale deel van jou lewe!
● Eensgesindheid is ‘n ander wonderlike kenmerk van hierdie gemeente. So heg het hierdie band geword, dat mense selfs bereid was om hulle besittings met mekaar te deel. Daar heers ware broederskap want mense gee waarlik om vir mekaar en hulle leef aktief hierdie omgee uit.
Ek dink, ek en jy het baie om te leer van hierdie eerste gemeente. Dit het tyd geword dat gelowiges weer saamgebind word as die gesin van God en dat ons familiebande ons nader aan mekaar trek. Dit help nie om maar net daaroor te filosofeer nie! Ons moet daadwerklik ‘n besluit neem en iets daaromtrent doen! As ons bereid is sál die Heilige Gees ons daarmee help. In ons eie gemeente het ware omgee die afgelope paar jaar baie pertinent na vore getree en almal van buite praat van die liefde en gasvryheid wat hulle hier kry. Kom ons begin weer die “koinonia” waarvan Lukas praat, prakties uitleef in ons gemeentes.
Gebed:
Dankie Here, vir wonderlike herinneringe. Help ons asseblief om weer waarlik omgee-Christene te word!