Genesis 12:4-20
‘n Nuwe land het nuwe uitdagings, so het Sara baie gou agtergekom.
Abraham en Sara het skatryk geword in die vrugbare Haran. Toe die opdrag van die Here kom dat hulle moes trek, het hulle reeds baie besittings opgegaar, en hulle kon talle slawe koop om die huishouding en die groot troppe vee te behartig. Dit was dus ‘n groot trek wat uit Haran weg is na die land Kanaän, want al die slawe moes saam en natuurlik al hulle besittings, want daar was nie ‘n terugkeer nie. Toe besluit nefie Lot dat hy óók wou saampiekel, en Abraham stem gedweë in.
Vir Sara moes hierdie ‘n baie moeilike tyd gewees het, want dit was maande lank se trek deur ‘n woestyn. En toe hulle in die nuwe land aankom, is dit nie veel beter nie. Voordat hulle kom besluit waar om te bly, moes hulle eers deur die hele land trek. En toe hulle uiteindelik in die bergwêreld van Bet-El finaal hulle tentpenne inslaan, tref die groot droogte hulle.
Noodgedwonge besluit Abraham dat hulle vir eers na Egipte trek totdat die droogte verby was, want daar was genoeg weiding vir die vee. En nét daar tref een van die grootste uitdagings in Abraham en Sara se lewe hulle.
Ek het gister genoem dat Sara ‘n beeldskone meisie was. Nou was sy reeds 65 jaar oud, maar haar asemrowende skoonheid was steeds daar. Op pad na Egipte, begin daar ‘n kommer rondom Abraham se hart saamtrek. Hy het al gesien hoe die manne van Kanaän na Sara loer. Hy vertrou daardie spul Egiptenare net mooi niks met sy mooi vrou nie. Dan vertel hy vir Sara dat hy hier gróót moeilikheid sien kom. “Hulle gaan my doodmaak net om jou te kan kry, Sara!”
“Wat gaan ons doen, my Man? Hierdie Farao kry altyd wat hy wil hê!”
Abraham het diékant toe en dááikant toe gedink, maar hy was radeloos. Dan skielik kry hy ‘n blink idee: “Jy vertel hom dat jy my suster is, dan is ons mos veilig!”
Sara stem saam dit dit die enigste uitweg is. “Ek sal wél sorg dat ek uit sy smerige kloue bly as hy by my kom flikflooi!”
Dit was ook nés Abraham voorspel het, en die Egiptenare het vir Sara met sulke leepogies aangekyk. Die nuus van die beeldskone vrou bereik Farao se ore, en voor Sara weet waar sy is, word sy opgekommandeer om voor die Egiptiese monarg te verskyn. Hy is sommer dadelik beenaf op die skoonheid, en hy oorlaai Sara se “broer” met geskenke om hulle guns te wen.
Dan gryp die Here in voordat die situasie totaal handuit ruk. Hy bring allerhande plae oor Farao se huis, sodat die magtige man naderhand vir Sara vra of dit sy is wat die ongeluk oor hom bring. Dan bieg sy, dat Abraham nie haar broer is nie maar haar eggenoot! Die Farao laat roep vir Abraham en haal hom oor die kole oor sy liegstorie. “Hier is jou vrou! Vat haar en maak dat jy wegkom!” En so word hulle uit Egipte weggejaag.
Abraham en Sara het ‘n duur les geleer, dat hulle die Here moes vertrou. Hy het hulle die nuwe land gegee, en Hy sou hulle ook deur die droogte dra. Dit sou nooit nodig wees om groen weivelde elders te gaan soek nie. Ongelukkig het hulle nie die les goed genoeg geleer nie, want baie jare later herhaal hulle hierdie selfde leuen weer, dié slag teenoor die koning van Gerar, Abimelek. Toe Abraham se lewe bedreig word oor sy beeldskone vrou, het Sara met ‘n reguit gesig vir Abimelek gelieg en vertel dat Abraham haar broer is. Wanneer hierdie drama afspeel, is Sara al byna 90 jaar oud, en steeds so mooi soos die dag toe Abraham na haar gevry het! Die koning was op die punt om haar as vrou te vat, toe die Here weereens ingryp en Abimelek in ‘n droom waarsku oor hulle slinkse streek. Ek toe kom die waarheid uit, en ons moet verneem dat Abraham en Sara lankal al besluit het om op elke plek waar hulle kom hierdie leuen te vertel.
Sara se skoonheid het al die mans lam in die knieë gemaak, maar sy het ‘n ander groot kruis gedra, die feit dat sy na al die jare steeds kinderloos was. En dít nadat die Here haar en Abraham plegtig belowe het dat hulle ‘n groot nageslag sou hê. Was die Here verkeerd? Het Hy ‘n fout gemaak? Sara het haar vertroue in die Here begin verloor. Dalk moes sy maar sélf ingryp en die Here help om Sy belofte waar te maak!
Dan neem Sara ‘n besluit wat verrykende gevolge sou hê. Dit sou die gang van die geskiedenis totaal verander en duisende jare later vir die nasate van haar en Abraham groot hoofbrekens besorg.
Gebed:
Here, ek besef vandag weereens hoe belangrik dit is dat ek my volle vertroue op U alleen moet plaas. Vergewe my waar ek al so dikwels namens U dinge wou doen om U raadsplan aan te help.