‘n Mandjie Ryp Vrugte

26 November, 2020
Luister Na Hierdie Dagstukkie ‘n Mandjie Ryp Vrugte

Amos 8:1-3

Video - Oudio

Ek klouter behendig in die reuse ou pruimboom langs ons plaashuis naby Waterval Boven. Ek soek ryp pruime. Daar is maar enkele van hierdie pers-rooi, sappige vrugte oor in die boom. Onder op die grond styg die droewige dreun-sang van bye en brommers op tot bo in die takke - ‘n treurlied van insekte wat die sap kom opslurp van die mat van oorryp pruime wat afgeval het. Ek pluk skaars ‘n halfdosyn pruime wat enige oomblik sélf ook sal afval. As ek uit die boom afklim, moet ek mooi trap om nie op ‘n by te trap nie. Die siek reuk van gistende vrugte is oorweldigend, en ek maak my uit die voete om weg te kom van hierdie walm van dood. Ek sal dit nie weer naby daardie ou pruimboom waag totdat die vrot vrugte onder die boom deur die wurms en ander insekte weggewerk is nie. Uiteindelik sal daar net geraamtes, droë pitte nog daar rondgestrooi lê as ‘n makabere herinnering van die somer wat verby is. Ja, en wanneer die winter verby is, sal selfs die pitte al verdwyn het in die vergetelheid.

Amos sien ‘n vierde visioen, kort, kragtig en baie eenvoudig, slegs ‘n mandjie ryp vrugte. As hy nog wonder oor hierdie eienaardige gesig, dan sê die Here vir hom, “Die tyd is ryp vir my volk Israel, Ek sal hom nie meer spaar nie.” Dit is nou maar eenmaal so, dat vrugte wat ryp geword het, se tyd verby gegaan het. As hulle die punt van oorryp bereik het, dan is alles verby, hulle is vrot!

Die boodskap wat Amos kry, is een van groot droefheid. Die vrolike liedere van hofsangers in die paleis gaan vervang word met ‘n gekerm en weëklaag. Die makabere toneel van lyke wat oral rondlê, sal een te veel wees vir enigeen om te aanskou. Dit was ‘n skande om nie begrawe te word as jy sterf nie. Die val van Israel sou egter só groot wees, dat daar net eenvoudig nie die middele sou wees om al die lyke te begrawe nie. Amos kan nie eers meer voorbidding doen vir sy volk nie. Hy bly liewer stil. Die einde het aangebreek.

Tragies, as ‘n volk die dag nie meer wil luister na die Stem van die Here nie, en hulle nie wil steur aan Sy genade wat uitgerek word nie. So was dit met Israel. Selfs Amos was stilgemaak en weggejaag deur die kerk, want hy het die volk en die koning ontstig. Slegs één ding oor, God se oordeel!

Ons land, Suid-Afrika is besig om dieselfde paadjie te loop. Die gelowiges wat nog iets durf sê, word uitgelag, gespot, stilgemaak, uitgetart. In Durban word ‘n sekswinkel oopgemaak reg oorkant die voordeur van die ou kerkgebou. Prostitute word uitgestal soos in Walletjes Straat in Nederland, voor die kerk se voordeur! Uittarting!

Enkele stemme skree nog, pleit nog: “Suid-Afrika, draai terug na die Here!” maar dis enkele stemmetjies in die woestyn. Intussen is die kerke besig om leeg te loop. Talle gemeentes het al boedel opgegee, toegemaak omdat daar net eenvoudig nie meer genoeg mense is om hulle bestaan te regverdig nie. Dis tragies! Dit beteken net één ding: die kerk groei nie meer nie! Dit stagneer nie eers meer nie, maar is besig om dood te gaan. Die pruime in die boom raak op! Die laaste ryp pruime klou hardnekkig vas aan die takke!

Amos se mandjie vrugte is ‘n dringende oproep vir my en jou. Die genade van die Here is ontsettend groot, en Hy gee ons steeds tyd. Nóú is die tyd vir die gelowiges wat steeds aan hulle geloof bly vashou het om te begin werk aan hulle geloofslewe. Dalk het jy al oorryp begin word, en is jy maar net ‘n passasier op die kerk-trein. Die tyd het aangebreek dat elke gelowige uit sy gemaksone sal tree en begin saamwerk om die kwynende kerk te red van totale ondergang. Ja, ons kan dit doen, want die Here is almagtig, en deur Sy Heilige Gees sal Hy ons die krag gee vir hierdie taak.

Daar is alreeds oral gelowiges besig om te werk in die wingerd van die Here. ‘n Voorbeeld hiervan is ‘n klein Gideonsbende wat die reuse taak aangepak het om ‘n Metropoolbediening in Durban van stapel te stuur. Daar het reeds baie wondere plaasgevind. Die ou Smithstraat NG Kerk, wat fisies dood was, en slegs ‘n dosyn of wat lidmate oorgehad het, het herlewe, en daar gaan weekliks duisende voete deur die kerk, van alle kleure, nasies en tale. 

Durban is ‘n brandpunt waar klein groepies mense of enkelinge verbete werk om die Evangelie uit te dra. Bid vir hierdie reuse taak wat op die skouers van ‘n klein groepie mense rus, om uit te reik na meer as 5 miljoen mense tussen Durban en die Tugela rivier, waarvan die meeste afgodsaanbidders is. Die mandjie vrugte is ryp - gaan jy toelaat dat hulle vrot?

Gebed:

O Here, die taak is enorm groot, en die arbeiders so min. Ek bid vanoggend vir krag en ook vir mense wat bereid is om te help werk in U wingerd, voordat dit heeltemal te laat is!

Argiewe


Onlangse Dagstukkies

Die Ark is Terug
24 August, 2026
‘n Warm Patat
21 August, 2026
Die Ark is Gebuit!
20 August, 2026
Luister en Doen
19 August, 2026
Wanneer die Here Praat
18 August, 2026