'n Lied in die Hart

26 October, 2020
Luister Na Hierdie Dagstukkie 'n Lied in die Hart

1 Tessalonisense 5:16-28

Video - Oudio

Paulus druk dit vir ons op die hart in 1 Tessalonisense 5:16: “Wees altyd vol blydskap.” In Filippense 4:4 sê hy dieselfde: “Wees altyd bly in die Here! Ek herhaal: Wees bly!” As ek en jy maar net so sorgvry en opreg jubelend-bly soos die veervolkies en ander diere van die veld kan wees. En nou verlang ek darem met ‘n seer hart na die bos - ons was jare laas daar! Op 14 September 2008 maak ek die volgende inskrywing in my dagboek:

Ek sit die oggend op ons boshuisie, Duikerdoedoe se stoep, en bekyk die vuurrooi son wat met een oog loer tussen die deurmekaar takke van die doringbome deur. Hy mik-mik so oor die horison, en dan kleur hy die lug met sagte skakerings van oranje, rooi en geel. ‘n Groenvlekduifie kla steen en been dat die dag alweer so verskriklik warm gaan wees. Hy voel dit sommer aan in sy twee vuurhoutjiebeentjies: “Die dag, O, die dag gaan warm wees - ek voel dit sommer aan.” Die oggendluggie het ‘n byt in hom gehad, en jy kan amper nie dink dat dit die vorige dag so warm was nie. Die Laeveldson het ons gekóók, diep in die veertigs gewees. Dit was ‘n baie droë jaar en die arme rooibokkies het soos geraamtes gelyk, smagtend na ‘n bekkie vol groenigheid. Maar daar was niks, net die kaal, dorre, songebakte grond.

Nogtans was daar ‘n jubeling in die lug. ‘n Paar tiptolle het opgewonde gekwetter toe hulle ‘n appel ontdek wat ek aan ‘n boomtak vasgesit het, en ‘n grootoog duikertjie het skugter nadergekom, op soek na ‘n paar mieliepitte. Iewers het ‘n Swartkop Wielewaal sy hart uit gesing, terwyl ‘n patrysie luidkeels die aanbreek van die nuwe dag verkondig het, so asof almal nie alrééds geweet dat die nuwe dag daar was nie. 

Op die oog af was die bos dood en dor, maar die jubelsang het oorweldigend weerklink, en weergalm tussen die dorre takke deur. ‘n Hoep-hoep, ‘n paar luidrugtige kakelaars, ‘n visvangertjie en ‘n paar uitbundige kolganse het baljaar langs die Krokodilrivier, almal opgeruimd en vrolik. ‘n Twintigtal tarentale het verby gehuppel. Hoe kon almal so vrolik wees terwyl dit so swaar gaan? Die son het intussen sy rooi nagkombersie afgegooi, en hy het al witwarm bo die boomtoppe gehang. “Vandag gaan ek julle skroei!” het hy gesis. “Dis lekkeeerrrrrr in die bos!” kwetter die tarentale opgewonde. ‘n Geelbek neushoring het gesukkel om aan die gang te kom, soos ‘n dieselenjin op ‘n koue oggend, maar toe hy eers gevat het, was daar nie keer aan hom nie. Selfs ‘n bloukuifloerie het uitbasuin dat die bos nie so ‘n slegte plek is om te bly nie, ten spyte van al die swaarkry.

Wat maak dat almal so gelukkig en opgewonde en uitbundig kon wees te midde van al die swaarkry? Kon hulle nie die knellende droogte sien nie? Dalk is die antwoord opgesluit in die liedjie, die smeekgebed van ‘n naguiltjie: “Liewe Heer, bewaar ons tog!” Toe ek daardie oggend opstaan, weerklink sy gebed steeds: “Liewe Heer, bewaar ons tog!” Is dit dalk die rede waarom die rooikop houtkappertjies hulle borrelende duet so lustig kon sing, al was daar nie ‘n enkele vrug vir hulle om te eet in die dorre veld nie?

Gister het ons gepraat van skeppingsverwondering. Blydskap sien ons in die natuur, en dit moet ons aanspoor om dit deel van ons lewe te maak.

Paulus sê ook in vers 17: “Moenie ophou bid nie!” Soos die naguiltjie heelnag deur gebid het, moet ons dit deel van ons lewe maak, om te bid, heeldag deur. Maar dan vra Paulus ook in vers 25 dat die gemeente vir hom en sy medewerkers moet bid. Ja, selfs die grote Paulus het voorbidding nodig gehad. Hoeveel te meer elke werker in die wingerd van God, elke sendeling, leraar en evangelis. Dit is veral die mense wat bereid is om die Woord uit te dra wat nodig het om gedra te word deur ons gebed, sodat hulle krag sal hê om die wonderlike boodskap te versprei.

Wanneer ons hierdie dinge in ons lewe begin regkry, dan sal ons die wonderlike vrede van God begin ervaar, die vrede waarvan Paulus in sy groeteboodskap in vers 23 praat. Vrede is nie iets wat deur mense bewerkstellig word nie. Dit is God alleen wat ware vrede kan gee.

Paulus sluit sy brief af met die vertroostende seën: “Mag die liefdevolle goedheid van ons Here Jesus Christus met julle wees.” Dit is dan ook my gebed vir jou vanoggend, dat jy vandag daardie liefdevolle goedheid van Jesus sal ervaar. Dit gaan egter slegs gebeur as jy self skouer aan die wiel sit en die dag vir jouself positief en jubelend en dankbaar maak. Die Sleutel hiervoor is Jesus!

Gebed:

Here, ek borrel vanoggend van opgewondenheid oor hierdie wonderlike dag wat vir my voorlê. Dalk gaan dit ondraaglik warm wees, maar die blote wete dat U saam met my is, is vir my genoeg om dankbaar en jubelend te wees!

Argiewe


Onlangse Dagstukkies

‘n Warm Patat
21 August, 2026
Die Ark is Gebuit!
20 August, 2026
Luister en Doen
19 August, 2026
Wanneer die Here Praat
18 August, 2026
Om Kinders Groot te Maak
17 August, 2026