Galasiërs 5:13-15
Die berigte was in die koerante: Dominee en Ouderling raak slaags! In detail is daar beskryf hoe die twee mekaar getakel en geslaan het, want die een sou kwansuis by die ander se vrou aangelê het. Die vuil wasgoed is uitgestal vir die hele wêreld om te sien. Die onaangename storie maak sy draai in die kerkraad, die ring, die sinode én die hof! ‘n Liederlike spektakel!
Ek werk jare gelede saam met ‘n “hoogheilige” kêrel wat heeldag lank vir my gepreek het oor alles in my lewe wat so verskriklik verkeerd was. Hy was 'n hoog aangeskrewe priester in sy kerk. Op ‘n dag verneem ek dat hy sy vrou sommer net só verneuk het en by ‘n ander vrou ingetrek het, openlik en skaamteloos. Toe ek hom daaroor uitvra, trek hy net sy skouers op, en gaan aan om vir my te preek. “Sonde is in die vlees”, beduie hy vir my, “maar ek leef in die Gees!” Daardie verduideliking kon ek gládnie verstaan nie!
Oor die afgelope paar hoofstukke het Paulus bly hamer op vryheid - vryheid van die wet, vryspraak van die sonde en vryheid van al die fieterjasies van die kerk. In kort: jy hóéf nie naarstigtelik die wet na te kom in die hoop dat God jou gaan vryspreek nie!
Paulus het egter baie goed besef dat mense hierdie gedagte hééltemal verkeerd kon verstaan, nes daardie priester wat so vieslik met sy vrou gemors het. As jy vry is van die wet, soos Paulus so oor en oor en oor gesê het, dan kan jy mos maar leef nés jy wil, solank jy maar net in Jesus glo. Paulus waarsku: “Moenie julle vryheid misbruik as ‘n verskoning om sonde te doen nie!”
Alle mense is onderworpe aan hulle sondige natuur. En ja, dit sluit my en jou ook in! Die groot gevaar is dat jy kan toelaat dat jou sondige natuur met jou op loop gaan met die Christelike vryheid wat jy in Jesus gekry het. Dit is van uiterste belang om te weet dat vryheid twee dinge beteken. Inderdaad beteken dit dat jy vry is sodat jy sekere slaafse dinge nie hoef te doen nie. Maar terselfdertyd is jy óók vry om ander dinge wel te dóén. “Maar dien mekaar in liefde”, verduidelik Paulus so aangrypend in vers 5. Christelike vryheid maak juis dat jou medemens vir jou belangrik word! Sulke vryheid word deur liefde gevoed! Nog meer, liefde word jou “baas,” en jy word as’t ware ‘n slaaf van die liefde deur jou vryheid, hoe absurd dit ookal mag klink! As jy hierdie begrip eers reg verstaan, kan jy nooit sê: “Ek doen wat ék wil!” nie. Jy sal eerder jou Christelike vryheid op ‘n verantwoordelike manier gebruik deur te sê: “Ek doen wat God wil!”
Liefde is nie altyd maklik nie, veral as mede-gelowiges soms onredelik optree en jou dalk bitter kwaad maak. Paulus skryf in vers 15: “Julle byt en verskeur mekaar; pasop dat julle mekaar nie later heeltemal verslind nie!” Ek was eenmaal getuie toe ‘n ouderling en ‘n jeugwerker mekaar te lyf wou gaan. Die ouderling het die jongmense se fasiliteite uitverhuur sonder die jeug se medewete, en die vonke het gespat. Ons het ‘n vergadering gehou om die situasie te ontlont, maar dit het net olie op hulle vuur gegooi. En toe vat die twee manne mekaar! Het ons nie daardie aand tussenbeide getree nie, dan was daar lelike dinge! Die hartseer is dat albei die manne diep gelowiges is en waarlik erns gemaak het met hulle geloof. Elkeen was vas oortuig dat hy die regte ding doen, maar daar was ‘n botsing van belange. Die een het die finansies as prioriteit gesien terwyl die ander die jongmense se belange op die hart wou dra. En daar was nie kommunikasie nie!
Paulus gaan haal ‘n gedeelte uit die Wet in Levitikus 19:18 om die beginsel van liefde te beklemtoon, iets wat reeds diep in die geskiedenis gewortel was. Daar staan: “Jy mag nie wraak neem of ‘n grief koester teenoor jou volksgenoot nie, jy moet jou naaste liefhê soos jouself. Ek is die Here!” Jesus het dieselfde gedeelte aangehaal toe die Skrifgeleerdes Hom oor die Wet probeer vastrek het. Liefde is die spil waarom alles draai. Alhoewel hierdie aanhaling uit die Wet kom, moet jy in jou Christelike vryheid dit nie sien as ‘n wet om naarstigtelik na te kom nie, maar eerder as ‘n lewenswyse, ‘n riglyn om volgens God se wil te leef. In die eerste plek is dit God se groot liefde wat vir ons die vryheid gegee het, en juis daarom moet liefde jou lewe oorheers. Dit is in die eerste plek liefde vir God. Nie ‘n gedwonge, vreesgevulde liefde nie, maar ‘n vrye uit-die-hart liefde. Tweedens is dit ook liefde vir jou medemens. Jesus het dit duidelik gestel dat daar veral vir jou mede-gelowiges ’n besonderse broederlike liefde moet wees. Maar ook teenoor nie-gelowiges en selfs jou vyande, moet daar ‘n passie wees wat jou dring om eerder goed as sleg teenoor hulle te doen.
Soos reeds gesê, is dit dikwels maar uiters moeilik, veral as jy dit in jou eie krag probeer doen. Maar daarvoor gee die Heilige Gees jou die krag wanneer jy dit die nodigste het. Laat Hom toe om dit te doen!
Gebed:
Here, vul my asseblief met U liefde, en neem die haat en wraak uit my hart uit.