Lukas 6:12-23
Simon hou sy Meester dop waar Hy vroegoggend van die berg afgestap kom. Heelnag het Simon en 'n hele klomp ander dissipels hier aan die voet van die berg gewaak, Jesus het die vorige aand vir hulle gesê dat hy gaan bid. Vir Simon beteken bid om 'n paar minute in gebed deur te bring. Maar nie vir sy Meester nie. Hy het dwarsdeur die nag gebid. “Watter toewyding!” bewonder Simon sy Meester.
Wanneer Jesus onder kom, roep Hy die manne bymekaar. Hulle voel sommer aan dat hierdie 'n baie belangrike gebeurtenis moet wees, want vanoggend is hulle Meester ernstig.
“Jakobus en Johannes, kom sit hier by My,” roep Jesus twee van die manne nader.
“Waaroor gaan dit dan nou?” wonder Simon.
“Filippus, kom jy en Bartolomeus ook hiernatoe,” gaan Jesus voort. Nou is Simon se nuuskierigheid baie geprikkel. “En jy ook, Matteus, kom sit hier.”
Matteus, die nuutste toevoeging tot die dissipels spring opgewonde op en gaan sit by die groepie aan Jesus se voete.
“Thomas, ek soek ook vir jou en Jakobus, Alfeus se seun.”
“Simon!” Simon spring op, maar tot sy teleurstelling sien hy dat Jesus nie vir hom kyk nie, maar vir Simon die Fanatikus. Hy gaan sit weer “Die twee Judasse kan ook maar nader kom.” hoor hy Jesus se stem voortdreun. Sy gedagtes is al klaar op 'n ander plek. “Andreas, kom na My toe.” roep Jesus Simon se broer.
Wat dit ook al is wat hierdie manne spesiaal maak, hy is nie deel van hulle nie. Hy's seker maar nie goed genoeg om deel van Jesus se uitgesoekte klompie bevoorregtes te wees nie.
“Simon!” hoor hy sy naam asof in 'n waas, en hy reageer nie. “Simon, Ek het jou nodig!” word Simon na die werklikheid toe terug geroep.
Simon spring opgewonde op – so dan is hy tóg deel van die groep, wát dit ook al mag beteken.
Jesus neem die groep van twaalf manne 'n ent berg-op. “Ek het lank gebid hieroor en nou het Ek besluit dat julle groepie van nou af My Apostels gaan wees.”
Simon voel sommer 'n tinteling van opgewondenheid deur sy liggaam gaan: “Ek is een van Jesus se apostels!” jubel dit in hom. Maar dan besef hy dat hy nie eers die vaagste idee het waaroor dit alles gaan nie. Wat doen 'n apostel? Ja, hy weet dat 'n apostel 'n “uitgestuurde” is, maar wat beteken dit nou eintlik?
“Van nou af gaan julle groepie 'n baie intensiewe opleiding kry,” verduidelik Jesus hulle, “maar dit gaan nie maklik wees nie en julle gaan swaar tye moet trotseer.”
Wanneer die groep manne die berg afstap na die vlakte toe, tref hulle 'n reuse skare mense aan wat vir Jesus staan en wag. Simon sien sommer dadelik dat hierdie mense almal vol afwagting is. Hulle het gehoor van die wonderlike dinge wat Jesus reeds gedoen het en hulle het gekom met al hulle siekes. Natuurlik is hulle ook hier om die wonderlike dinge te kom hoor wat hierdie “profeet” sê.
'n Splinternuwe sin vir verantwoordelikheid neem dadelik besit van Simon. Hy sien dit as sy taak om die skare te beheer sodat hulle nie totaal vir Jesus vertrap nie. Tot sy verbasing sien hy dat die ander elf manne dieselfde idee het. Saam begin hulle om die skare te organiseer sodat die mense ordelik by Jesus uitkom.
Teen die middag is al die siekes geholpe en Jesus gaan sit op 'n rots: “Geseënd is julle wat arm is,” begin Jesus die skare leer, “want aan julle behoort die Koninkryk van God.”
Só het Simon nog nooit iemand hoor preek nie. Al die geleerde manne preek dat jy die wet moet onderhou en dat God jou sal straf as jy dit nie doen nie. Nie Jesus nie!
“Geseënd is julle wat nou honger het, want julle sal versadig word. Geseënd is julle wat nou huil, want julle sal lag.”
Jesus se woorde val soos musiek op Simon se ore. Dit is so vars en verfrissend
“Geseënd is julle wanneer die mense julle haat en julle verstoot en uitskel.......”
Dit is soos salf in Simon se wonde. Hy het nog steeds nie die Romein vergeet wat hom so verneder en geklap het nie. Vir die eerste keer begin Simon besef dat God omgee vir die doodgewone mens soos hy. God het hóm, die eenvoudige visserman, Simon gekies om 'n spesiale uitgestuurde te word. En God seën diegene wat arm en honger is en seerkry. God gee werklik om vir die alledaagse doodgewone mense!
Ja, en vandag gee Hy steeds om vir gewone mense soos ek en jy! En Hy kies ons ook as Sy “uitgestuurdes” om dinge vir Hom te doen.
Gebed:
Here, dankie dat U doodgewone mense kies om U werk te doen. Dankie dat U my ook gekies het. Gee my asseblief die entoesiasme en deursettingsvermoë om te doen wat U vra!