‘n Gemeente in Antiogië

24 October, 2018
Luister Na Hierdie Dagstukkie ‘n Gemeente in Antiogië

Handelinge 11:19-26

Lukas het net so terloops in hoofstuk 8 gemeld dat die gelowiges uitmekaargespat het ná Stefanus se wrede dood. Nou, in hoofstuk 11 gee hy die besonderhede. Hy vertel dat sommige na Fenisië gevlug het. Dit is ‘n smal kusstrook, slegs 12km breed tussen Israel en Sirië. Ander het na Siprus gevlug en ander weer na Antiogië. En hier in Antiogië speel die volgende deel van die verhaal af.

Antiogië was die derde grootste stad in die wêreld in daardie tyd, naas Rome en Aleksandrië. Dit het ‘n inwonertal van ‘n halfmiljoen mense gehad, waarvan omtrent 50’000 Jode was. Die stad was geleë aan die Orontesrivier (vandag Antakya).

Omdat daar soveel Jode in die stad was, het die gelowiges vinnig tuis gevoel, en het hulle die Evangelie verkondig so ver as wat hulle gegaan het. Waar die Evangelie oorspronklik slegs aan Jode oorgedra was, het dit hier egter ‘n nuwe wending geneem. Die Evangelie het begin om die Griekssprekende gemeenskap te bereik, Jode sowel as nie-Jode. Die inhoud van die “sendelinge” se boodskap was eenvoudig: “Jesus is die Here!” Onthou, hierdie heidene het niks van die Joodse Godsdiens geweet nie. Dit sou dus absoluut niksseggend wees om vir hulle te probeer verduidelik dat Jesus die Messias is wat sou kom, en dat dit deur die profete voorspel is. Die term “Here” ken hulle egter goed, want so het hulle hulle godhede asook die Keiser aangespreek. Die verskil is egter dat hulle nou moes verneem dat daar slegs één Here is, naamlik Jesus.

Die nuus van hierdie verwikkelinge het gou na Jerusalem oorgewaai, en Barnabas, een van die leiers, is gestuur om te gaan kyk of alles in ooreenstemming met die Evangelie verloop, soos die apostels dit verkondig. Hy moes ook ‘n band tussen die Jerusalemgemeente en die kerk in Antiogië bewerkstellig. Hulle is immers almal deel van dieselfde geloofsgemeenskap. Afstand, kultuur, taal, ruimte - níks mag skeiding maak tussen gelowiges nie.

Ek dink dit was ‘n bekommerde Barnabas wat die lang reis na Antiogië aangepak het. Wat sou hy daar aantref? Watter soort dwaalleringe sou daar nie dalk al rondlê nie? Daar was immers niemand wat “opgelei” was om die Evangelie te verkondig nie! Groot was Barnabas se verbasing toe hy daar aanland en absoluut geen fout kon vind met die Evangelie wat daar verkondig was nie. Barnabas het dadelik besef dat dit nie mensewerk was nie, maar die werk van God self, wat hierdie splinternuwe en baie anderse gemeente tot stand gebring het. Al wat hy kon doen was om maar net die gelowiges aan te spoor om die pad voluit te loop.

Ons kan Barnabas se oordeel oor die geestelike stand in die gemeente nie ligtelik opneem nie, want hy was ‘n man met baie besonderse geestelike kwaliteite. Hy was immers die man wat hom destyds oor Saulus ontferm het toe niemand iets van hom wou weet nie. In die rukkie wat Barnabas in Antiogië spandeer het, het die gemeente letterlik uit hulle nate gebars, want talle mense het gelowig geword.

Barnabas het begin besef dat die gemeente vir hom te groot geword het, en dat hy dit nie alleen kon hanteer nie. Hy moes gaan hulp soek! Toe besluit hy om Saulus op te kommandeer. Hy vertrek na Tarsus, waar Saulus al vir die afgelope paar jaar die evangelie verkondig het in sy geboortestad. Saulus stem in, en daar word ‘n hegte vriendskapsband gebind.

In Antiogië word die term “Christene” vir die eerste keer vir die gelowiges gebruik, want hulle was volgelinge van Christus. Hierdie is nie ‘n naam wat die gelowiges hulleself toegeëien het nie, maar dit is deur buitestaanders aan hulle gegee. Die gelowiges het hulleself bloot “geroepenes”, “gelowiges” of “die kerk” genoem.

Die Here werk op wonderlike, en dikwels onverstaanbare maniere, en dit neem ons dikwels baie jare om God se hand agter sekere gebeurtenisse te sien. Die wrede dood van Stefanus het daartoe bygedra dat die kerk geblom het, ver buite die grense van Israel, en dat ook heidene daar deel kon word van die kerk. En wat van Saulus? Hy het daar in Tarsus gesit, en dalk gewonder wat die Here se doel was met sy lewe. En toe daag Barnabas op met ‘n “werksaanbod”. ‘n Paar jaar later is dit júís die einste gemeente in Antiogië wat Saulus op sy eerste sendingreis stuur. Die res is geskiedenis! Nee, nie sommer-so se geskiedenis nie, maar ‘n opwindende verhaal van bittere swaarkry, wonderlike suksesse, verwerping, aanvaarding. En die kerk wat oor die hele wêreld versprei! As Saulus geweet het dat die tronk verskeie kere sy voorland sou wees, en dat hy doodgegooi sou word met klippe deur ‘n woedende skare (wel, amper dood!) - sou hy nog saam met Barnabas gegaan het? Sou jy? Vandag is daar talle gelowiges wat hulle in sulke situasies inbegewe, wel-wetende van wat op hulle wag. Geopende Deure is maar een van 'n hele aantal organisasies wat die Evangelie onverskrokke uitdra na plekke waar dit verbied word.

Gebed:

Here, ek loof en prys U vanoggend, want ek weet dat U in beheer is, al voel dit soms nie so nie. Dankie dat ek op U kan vertrou vir die toekoms.

Argiewe


Onlangse Dagstukkies

Die Ark is Terug
24 August, 2026
‘n Warm Patat
21 August, 2026
Die Ark is Gebuit!
20 August, 2026
Luister en Doen
19 August, 2026
Wanneer die Here Praat
18 August, 2026