‘n Feesmaal saam met Sondaars

15 June, 2017
Luister Na Hierdie Dagstukkie ‘n Feesmaal saam met Sondaars

Matteus 9:9-17

In ‘n tolhuis sit ‘n man wat in ‘n sekere sin bitter eensaam is. Ja, hy het vriende, maar niemand kan juis trots wees op so ‘n korrupte spul nie! Hoe wens hy nie dat die samelewing hom sal aanvaar nie. Ag, as iemand met ‘n “skoon karakter” ook met hom sou praat asof hy ‘n mens is! Dis sy beroep wat dit veroorsaak, seker een van die mees gehate beroepe in Israel, dié van tollenaar. Hy moet belastings vorder en geld uit mense wurg, mense wat dikwels alreeds baie swaar trek. Soms moet hy onderduimse metodes gebruik om die Jode se swaarverdiende geld van hulle af te pers. Dit is moeilik en bitter eensaam om ‘n tollenaar te wees! Gerespekteerde mense meng hulle beslis nie met jou nie. Jy moet dus maar tevrede wees met duistere karakters vir vriende. Matteus sug swaar. Hoe wens hy nie........

Daar breek ‘n groot opgewondenheid los, hoër op in die straat. Matteus rek sy nek om te kan sien wat daar aangaan. ‘n Groot bondel mense kom stadig aangestap. Dit lyk vir Matteus asof almal rondom een Man koek en almal se aandag net op Hom is. Ai! Dit sal darem lekker wees om ‘n bietjie positiewe aandag te kry!

Toe Matteus destyds getender het vir hierdie pos as belastingopgaarder, was daar strawwe kompetisie. Jy kan goed geld maak, want die Romeine kontroleer nie juis jou invorderings nie, solank hulle net genoeg kry. Jy bepaal eintlik maar jou eie inkomste uit die “onwettige” geld wat jy van mense kry. Steel? Nee, hy sal dit darem nou nie steel noem nie, maar dis beslis nie ver daarvan af nie! Almal verdink hom in elkgeval maar daarvan dat hy ‘n dief en ‘n skelm is. Hy is dit nou al gewoond en dit rol soos water van ‘n eend se rug af.

Daar kom ‘n snaakse opgewondenheid by Matteus op as die skare reg op sy tolhuis afstap. Wie is hierdie Man wat so baie aandag trek? Is dit nie dalk daardie nuwe Profeet wat so baie opslae maak nie? Sy Naam is glo Jesus.

As die skare by Matteus se “kantoor” verbykom, gaan staan die Man skielik stil en Hy kyk Matteus reg in die oë. Dit voel vir hom asof die Man reg dwarsdeur hom kyk, asof Hy sy elke gedagte kan lees soos ‘n boek. “Volg My” sê die Man vir Matteus. Op daardie oomblik weet Matteus dat daar net een pad vir hom is. Wie presies hierdie Man is weet hy nog nie mooi nie, maar hy los sy werk nét so en hy loop agter Jesus aan. Hy drink elke woord uit Jesus se mond soos ‘n spons.

Vanaand wil ek by jou gaan eet” kom die versoek onverwags. Matteus skrik hom asvaal skrik! Maar dan borrel dit van opgewondenheid in hom. Hy luister nie eers meer na die wonderlike dinge wat Jesus sê nie. “Ek móét net eenvoudig vir my pêlle gaan vertel!” Hy begin hardloop. So baie dinge om te doen! Wat gaan hy vir Jesus voorsit? Wie moet hy almal nooi? Daar is nie baie tyd nie! As hy ‘n koninklike maaltyd wil voorsit, sal hy bitter vinnig moet maak. “Kom eet vanaand by my - ons het baie spesiale gaste!” skree hy in die verby-hardloop vir ‘n baie duistere karakter. Matteus knyp homself om seker te maak dat hy nie dalk droom nie. Iemand stel in hom wat Matteus is belang vir meer as net sy geld!

Wanneer die skemer oor Nasaret daal, trippel Matteus senuweeagtig rond. Die tafels kreun onder die kos, en een-vir-een kom sy ongure vriende daar aangedrentel. Baie skuldig dink Matteus daaraan dat hulle nou nie juis die tipe geselskap is wat hy graag met hierdie heilige “Profeet” wil deel nie, maar dit is die enigste vriende wat hy het. Dit lag en gesels vulgêr-luidrugtig. En dan kom Jesus aan, gevolg deur ‘n spannetjie baie ongemaklike dissipels. Nog nooit in hulle lewe het hulle ‘n tafel gedeel met so ‘n spul sondaars nie. “Dis maar ‘n skurwe klomp hierdie!” fluister Simon vir sy broer Andreas.

Ja, wat sou die Rabbi tog besiel om hier te wil kom eet?”

Daardie omstrede maaltyd ontglip nie die valkoë van ‘n paar Fariseërs nie, en met minagting luister hulle na die vrolike klanke uit Matteus se huis. Die volgende dag moet Jesus ‘n paar lastige vrae beantwoord. Waarom het Hy Hom nou juis met hierdie skuim gemeng? “Gesonde mense het nie ‘n dokter nodig nie,” verduidelik Hy vir die hoogheiliges. “God wil barmhartigheid hê, nie offers nie. Ek het juis gekom om diegene te roep wat op die verkeerde pad is.

Wat ons as gelowiges dikwels nie mooi wil verstaan nie, is dat die uitleef van jou geloof nie alleen bestaan uit jou gemeenskap met ander gelowiges nie. As gelowige durf ek my nie soos ‘n monnik onttrek uit die wêreld nie. Ek moet júís in hierdie wêreld van roekeloosheid en sonde instap en die vergifnis van sonde verkondig. Toe Jesus hierdie duister karakter, Matteus geroep het, het Hy deur hom onmiddellik toegang gekry tot ‘n klomp ander sondaars wat Sy vergifnis nodig gehad het. Wat meer is, is die feit dat daardie selfde sondaar moontlik die Matteus was wat ‘n apostel geword het, en later sélf talle mense na Jesus gelei het. Hy het die lewens van duisende mense aangeraak deur sy prediking. Dit was ‘n sneeubal-effek wat net eenvoudig groter en groter geword het. Jesus het juis gekom om sondaars te red! Hy red mense sonder hoop, totaal verlore vir die Koninkryk van God.

Gebed:

Here, maak asseblief my oë oop sodat ek baie wyer kan sien as slegs die gelowiges in my kringetjie. Gee my asseblief ‘n passie vir verlore sondaars.

Argiewe


Onlangse Dagstukkies

‘n Omgee-gemeenskap
17 May, 2024
Wát ‘n Wonderwerk!
16 May, 2024
Geloofsontploffing
15 May, 2024
Onverskrokke
14 May, 2024
Vuur uit die Hemel
13 May, 2024