‘n Brief aan Efese

25 April, 2019
Luister Na Hierdie Dagstukkie ‘n Brief aan Efese

Openbaring 2:1-7

In alle erns begin Johannes die eerste afdeling van sy boek skryf. Dit sal briewe behels aan die sewe gemeentes van Asië, soos sy opdrag was van Jesus. Nee, hy gaan nie aan elke gemeente apart ‘n brief skryf en dit aan hulle stuur nie. Hierdie sewe briewe gaan ‘n integrale deel van die boek as geheel vorm.

Eerste aan die beurt is Efese. Johannes glimlag, en ‘n onbeskryflike gevoel van die grootheid en majesteit van die oomblik ril deur sy liggaam, as hy terugdink aan die gesig wat hy ervaar het. “So sê Hy wat die sewe sterre in Sy regterhand vashou en wat tussen die sewe goue lampe rondgaan,” O, wat ‘n asemrowende oomblik was dit nie! “Ek weet alles wat julle doen. Ek ken julle onvermoeide arbeid en julle volharding. Julle kan nie slegte mense verdra nie. Julle het ondersoek ingestel na die mense wat voorgee dat hulle apostels is, en dit nie is nie, en gevind dat hulle leuenaars is. Verder volhard julle ook; julle het baie vir my Naam verduur, en julle het nie moeg geword nie.”

Wat 'n pragtige getuienis is dit nie! Waarlik 'n gemeente wat lewe vir die Here! Maar ongelukkig is alles nie nét mooi en goed in die gemeente nie. Daar is ook dinge wat krap, en die Here het dit duidelik vir Johannes uitgewys. Hy moet dit reguit vir die gemeente sê. Met 'n swaar sug skryf Johannes verder: “Maar Ek het dít teen julle: julle het My nie meer so lief soos in die begin nie.”

In sy gedagtes vorm Johannes ‘n prentjie van Efese. Dit is ‘n pragtige stad met ‘n kwartmiljoen inwoners, en dit is geleë op die punt waar drie handelsroetes bymekaar kom. Waarlik ‘n baie groot en effektiewe handelsentrum! Dit is pragtig uitgelê rondom ‘n riviermonding en dit is boonop geseën met ‘n groot hawe.

En Efese kan roem op ‘n lewendige kultuur. Efese is die enigste stad wat kan spog daarmee dat die Pan-ioniese spele daar plaasvind, ‘n gebeurtenis wat elke jaar derduisende besoekers lok. En dan is daar natuurlik ook die asemrowende tempel van Artemis, oftewel Diana, soos dit in Latyn bekend staan. Hierdie baie besonderse bouwerk word beskou as een van die sewe wonders van die wêreld. Een van die dinge wat in die talle tempels in Efese bedryf word, is natuurlik keiserverering, waar die keiser as ‘n god aanbid word.

Johannes ril! Al hierdie dinge is baie mooi, maar dit maak dit bitter moeilik vir ‘n gelowige om sy geloof ten volle uit te leef. Dit is ‘n bitter stryd wat elke gelowige voer teen die magte van die bose.

Aan elkeen wat die oorwinning behaal, sal Ek te ete gee van die boom van die lewe, wat in die paradys van God is.” So sluit Johannes die brief aan Efese af om hulle aan te moedig om die stryd te stry.

Inderdaad praat die Woord van God vandag met elkeen van ons, net soos wat Hy met die Efesiërs gepraat het. Hierdie boek wat Johannes geskryf het, is tydloos, en dit is beslis nie net vir daardie sewe gemeentes bedoel nie. Dit is net so duidelik vandag aan my en jou gerig, en ons moet dit oordink en selfondersoek doen oor dit wat Johannes geskryf het.

In die brief aan die gemeente, word hulle onvermoeide arbeid asook hulle volharding aangeprys. Hulle het uit hulle pad gegaan om die boodskap van die Evangelie suiwer te hou, en die werk van vals profete is summier aan die kaak gestel.

Ongelukkig het die gemeente se ywer om hierdie dwalings uit te snuffel ook ’n prys gehad. Hulle het soveel aandag hieraan gegee, dat daar ’n baie belangrike deel van hulle verhouding met die Here verlore gegaan het. Hulle liefde vir Christus het begin verflou!

Dikwels raak ons so behep met sekere aangeleenthede, dat ons begin vergeet van die dinge wat rêrag saakmaak. Gaan dink maar watter dinge jou gedagtes oorheers. Nie noodwendig slegte dinge nie, en dikwels baie edele sake. Dalk is dit jou passie vir die behoud van ons pragtige taal. Moontlik is dit die misdaadsituasie in ons land wat jou ‘n ywer gee om dit met al jou mag te bestry. Dalk stry jy daarvoor om pornografie en Godslastering op TV te stop.

Daarmee is niks verkeerd nie, en dit is alles reg en baie edel, maar daar moet ‘n balans in jou lewe wees. As jy hierdie dinge doen, en die liefde (wat natuurlik jou lewe moet oorheers) is nie meer sigbaar nie, dan het jy liederlik gefaal in jou Christelike plig. Die belangrikste van alles, liefde, mag nooit in jou lewe vervaag nie.

Johannes sluit die brief af met die wonderlike belofte dat die Here diegene wat oorwin, sal laat eet van die Boom van die Lewe. Dit is beeldspraak wat sê dat ons as gelowiges deel sal hê aan God en aan die Lam. Wat ‘n wonderlike vooruitsig!

Gebed:

Here, vul my lewe weer vandag opnuut met U allesoorheersende liefde.

Argiewe


Onlangse Dagstukkies

Die Ark is Terug
24 August, 2026
‘n Warm Patat
21 August, 2026
Die Ark is Gebuit!
20 August, 2026
Luister en Doen
19 August, 2026
Wanneer die Here Praat
18 August, 2026