My Daaglikse Brood

22 May, 2023
Luister Na Hierdie Dagstukkie My Daaglikse Brood

Matteus 6:9-15

VIDEO | OUDIO

Met die belangrikste deel van die gebed agter die rug, kom die tweede deel wat gaan oor myself en my medemens. Dit gaan oor my daaglikse behoeftes, die vergifnis van my sondes en die versoekings in my lewe. Met ander woorde, ek bid vir die dinge wat ek nodig het om te kan oorleef, fisies sowel as geestelik.

Wanneer ek hierdie dinge bid, dan wil ek vir die Here sê dat al my vertroue op Hom is, want ek is afhanklik van Hom vir alles in die lewe. Daar is niks wat ek op my eie suksesvol kan doen nie, want selfs die brood wat ek eet is ‘n gawe van God!

Tydens ‘n vakansie in Marloth Park in die Laeveld, besluit ons om sommer dadelik eers mieliepitte en voëlsaad uit te gooi vir die voëls met ons aankoms. Ons is nog besig om die motor af te pak, toe is die eerste kliënt al daar, ‘n rooibek neushoringvoël. Hy lyk maar bra skrikkerig vir ons want hy gryp net ‘n stukkie kos en daar vlieg hy weer. Ek is teleurgesteld, want ek sou sy teenwoordigheid ‘n bietjie langer wou geniet!

Enkele minute later is hy egter weer terug vir nog kos, en weereens bly sit hy nie om dit te geniet nie, maar vlieg sommer dadelik daarmee weg met die kos in sy bek. Ek is sommer vies! Is ons teenwoordigheid nie meer goed genoeg nie? Na die vyfde keer wat hy terugkom vir nog, begin ek snuf in die neus kry, want hy vlieg dan elke keer in presies dieselfde rigting weg, en hy volg presies dieselfde roete tussen die bome deur. Dit is toé dat Mosbolletjie my daarop attent maak dat sy die geluid kan hoor van klein voëltjies wat skreeu, elke keer net nadat hy gevlieg het.

Ek besluit om die neushoring te volg, en daar sien ek hoedat hy sy lang rooi snawel in ‘n nou spleet in die rowwe stam van ‘n knoppiesdoring indruk. In die dieptes van die boom sien ek ‘n beweging agter die spleet, en toe weet ek: daar is ‘n nes! In ‘n gat in die boomstam het hy vir Ma-Neushoring toegemessel en slegs ‘n klein opening gelos waardeur hy haar en die kleintjies voer. Daar het sy haar eiers gelê en uitgebroei, en daar maak sy hulle kleintjies groot totdat hulle gereed is om die buitewêreld in die oë te kan kyk. Wanneer sy so toegemessel en afgesonderd van die wêreld sit, is sy en die kleintjies totaal afhanklik van Pa vir elke behoefte in die lewe. Die arme kêrel werk homself vodde om kos aan te dra, sodat hy skaars tyd kry om sélf ‘n happie te eet!

Natuurlik doen Ma nie niks nie! Sy het ‘n baie belangrike taak om die kleintjies te versorg. Maar sy is steeds totaal afhanklik van Pa.

Wanneer ons bid vir ons daaglikse brood, bely ons hiermee ook ons totale afhanklikheid van God vir absoluut alles in die lewe. Ons is soos daardie neushoringwyfie wat nie ‘n dag kan lewe sonder die liefdevolle versorging van Pa nie. Moenie dink dat as jy ‘n goeie sakeonderneming het, jy nie meer vir God nodig het vir jou materiële behoeftes nie. In ‘n oogwink kan die mat onder jou uitgepluk word! Inderdaad hét dit met my gebeur, en toe moes ek agterkom dat ek totaal verlore is sonder God se sorgende hand! ‘n Mens begin eers waarlik jou afhanklikheid van God besef wanneer jy die dag in ‘n finansiële verknorsing beland!

Soms gebeur dit dat ‘n gelowige te selfversekerd begin raak in sy lewe, wanneer alles vir hom reg loop en hy hom nie oor enigiets hoef te bekommer nie. ‘n Goeie betrekking met ‘n inkomste wat in alles voorsien. Dit is dan so maklik om van God te vergeet. Wanneer die slae van die lewe jou tref en jy alles verloor, is dit nie die straf van God nie. Dis dan wanneer jy beleef dat God getrou bly en jou dra, in die moeilikste van tye. Tydens beproewing leer ons dikwels noodsaaklike lewenslesse en besef wat regtig saakmaak in die lewe.

Dit is opvallend dat Jesus se modelgebed nie vra vir ‘n toekomsbeplanning nie. Ek bid byvoorbeeld nie dat dit met my onderneming goed sal gaan sodat ek aan die einde van die jaar ‘n vet profyt sal kan wys nie. Nee, Hy leer ons om dag-vir-dag te lewe, en om elke dag in afhanklikheid voor Hom te staan vir vandag se behoeftes. Sou dit nou beteken dat ek my polisse moet opsê en al my toekomsbeplanning en voorsorg moet laat vaar? Nee, beslis nie! Dit sal mos suiwer dwaasheid wees! Hy wil egter hê dat ons moet besef dat ons van Hom afhanklik is vir vandag.

Oor die afgelope paar jaar moes ek dikwels aanskou hoedat die Here elke dag op ‘n asemrowende manier voorsien. Nét wanneer daar nie meer geld oor is vir kos of brandstof nie, dan stop iemand my ‘n koevertjie in die hand met genoeg in om te voorsien, of daar word geld in my bankrekening inbetaal op ‘n kritieke oomblik. Dikwels kom dit van iemand wat nie weet wat my behoeftes werklik is nie. Die gebed om my dag se brood het vir my ‘n werklikheid geword om dag-vir-dag na God op te kyk vir slegs vandag se behoeftes. Ek dank Hom daarvoor.

Gebed:

Here, ek bid nie vir rykdom of oorvloed nie, maar slegs vir vandag se brood. Dankie dat U voorsien!

Argiewe


Onlangse Dagstukkies

Kruisig Hom, Kruisig Hom!
29 April, 2024
Petrus se Verraad
26 April, 2024
Hosanna, Hosanna!
25 April, 2024
Nasaret Verwerp Jesus
24 April, 2024
Jesus se Doop
23 April, 2024