Mosterdsaadjie

4 October, 2021
Luister Na Hierdie Dagstukkie Mosterdsaadjie

Lukas 13:10-21

VIDEO OUDIO

Op ‘n Sabbatdag was Jesus besig om te preek in ‘n sinagoge. Onder die groot aantal mense wat na Hom kom luister het, was daar ‘n vrou wat al vir agtien jaar lank kromgetrek was deur ‘n “bose gees” wat haar swaar laat ly het en haar al vir agtien jaar haar totaal verswak het. Sy kon gladnie meer regop kom nie. Meeste siektes was volgens Joodse geloof veroorsaak deur “onrein geeste” oftewel die duiwel homself. Wanneer Jesus dus hierdie bande van die duiwel losmaak en haar bevry van haar siekte, het Hy gewys dat Hy besig was met die werk van God, en dat God in beheer is oor alles, selfs ook jou gesondheid. Die vrou se reaksie was dat sy onmiddellik regop gekom het en God geprys het. Sy het Hom dus gesien as die Een wat haar genees het en van haar gebrek verlos het.

Maar alles was nie kosjer in die sinagoge nie. Die hoof van die sinagoge was uiters verontwaardig! Waarom moes Jesus dan nou spesifiek op die Sabbat die vrou kom staan en gesond maak het? “Julle moet julle siekes op ‘n weeksdag na Jesus bring!” trap hy die mense uit.

Jesus se teenreaksie was om die man en sy kollegas “huigelaars” te noem. Hy het voortgegaan deur hom daarop te wys dat hulle sélf op ‘n Sabbat hulle diere versorg. Hierdie vrou was tog baie meer werd as ‘n dier en hoe lank het sy nie al gely nie? Wonder bo wonder sien ons hoedat die kerkleiers skaam gekry het oor hulle eie optrede, en dat die skare bly was oor die wonderlike dinge wat hulle sien gebeur het. Inderdaad was dit dieselfde skare wat net voor dit so skepties was teenoor Jesus. Was daar darem nog by hulle ‘n behoefte tot bekering? Sou hulle betyds reageer? Jesus se pad na Jerusalem het nou baie kort begin raak en die tyd het al minder geword!

Jesus het elke oomblik wat nog oor was aangegryp om die mense te leer. Gelykenisse was al wat hulle sou onthou, dus het Hy kosbare waarhede tuisgebring deur gelykenisse te tref met dinge wat by die mense goed bekend was. Hy het die voorbeeld van ‘n mosterdsaad en suurdeeg gebruik om die Koninkryk van God te verduidelik.

Die mosterdplant is ‘n eenjarige plant wat tot vier meter hoog kan groei. Sy saadjies weeg ‘n skamele 1mg, en is die kleinste van al die gekweekte sade. Die gedagte agter die beeld is dat dit wat dalk vir iemand totaal onbelangrik klein mag voorkom, die begin kan wees van ‘n magtige Koninkryk. Die piepklein saadjie word dus ‘n reuse plant, en slegs ‘n ou klein bietjie suurdeeg kan ‘n groot klomp meel laat rys.

Inderdaad sou hierdie skare mense uiteindelik totaal verdwyn en Jesus se aanhangers sou krimp tot ‘n klein handjievol bitter-bang mensies wat agter geslote deure moes bymekaarkom uit vrees vir die kerkleiers. En toe kom die pinksterdag-ontploffing wat die kerk van Jesus laat groei tot ‘n magtige Koninkryk binne ‘n baie kort tydjie.

In ‘n sekere sin sit ons vandag met baie dieselfde situasie, waar die kerk dikwels bestaan uit ‘n ou klein handjievol gelowiges wat veg om oorlewing, nes die dissipels van ouds. Met groot kommer moet ons vandag sien hoedat lidmaat getalle besig is om drasties te krimp. In gemeentes waar daar ‘n paar jaar gelede nog ‘n groot aantal lidmate was, is daar nou slegs ‘n handjievol oor. Gemeentes wat ‘n paar jaar gelede nog finansieel sterk gestaan het, sukkel nou om kop bo water te hou. En nee, dit is nie die gevolg van Kovid 19 nie! Ja, die virus het wél ‘n invloed gehad, maar dit het die proses maar net ‘n bietjie aangehelp.

In die twee dobbelhuise noord van Durban is daar elke dag meer mense as wat ons in ‘n jaar se eredienste sal sien - ‘n wriemelende massa wat honger is vir geld. Bordele, alhoewel hulle onwettig is, is besig om op te skiet soos paddastoele! Ons voel magteloos teen die verskriklike oormag van sonde. Die golf van misdaad wat spoel oor ons soos ‘n tsunami en die polisie trek net hulle skouers op. Dikwels is hulle sélf by die misdaad betrokke!

Maar dan, as ons in perspektief na hierdie dinge begin kyk en ons luister na Jesus se gelykenis, dan begin dinge vir ons ‘n bietjie anders lyk. Ek en jy is daardie piepklein mosterdsaadjies waarvan Jesus praat. Ons is die onsinnige klein ou korreltjies suurdeeg in die reuse bak meel. Ons moenie ons blind staar teen die verskriklike oormag van die bose nie. Ons moet net eenvoudig doen wat die Here van ons vra om te doen en dan sal ons sien dat hierdie klein, klein ou mosterdsaadjie kan groei en groei en groei, en dat die suurdeegkorreltjie hom kan deurwriemel deur die ganse skottel meel. Ons moet terugkeer na die beginsels van die vroeë kerk, waar elke gelowige ‘n sendeling was wat al vlugtende vir die vervolgers, die Woord verkondig het aan elkeen wat hulle ontmoet. Kom ons volg hulle voorbeeld, en ons sal sien hoedat die Koninkryk groei soos nog nooit tevore nie!

Gebed:

Here, maak my gewillig om U Woord te verkondig aan almal wat wil luister.

Argiewe


Onlangse Dagstukkies

‘n Warm Patat
21 August, 2026
Die Ark is Gebuit!
20 August, 2026
Luister en Doen
19 August, 2026
Wanneer die Here Praat
18 August, 2026
Om Kinders Groot te Maak
17 August, 2026