Mosterd en Suurdeeg

13 March, 2020
Luister Na Hierdie Dagstukkie Mosterd en Suurdeeg

Matteus 13:31-35

Kyk, as jy nou ‘n groot boom wil hê, dan plant jy ‘n gróót pit. Vat nou maar ‘n kokosneutpalm: daar is darem maar vir jou ‘n menéér van ‘n pit! In die tropiese eilande waar hulle natuurlik voorkom, staan die bome dikwels reg op die strand. As die kokosneut ryp word, dan val hy af en beland gewoonlik in die see, en so word hy dikwels baie ver daarvandaan op ‘n ander eiland uitgespoel waar hy wortel skiet en groei. Baie romanties! En die Coco de Mer se pit is selfs nog baie groter. En óók romanties, maar oor ‘n héél ander rede, wat nie gepas is om in hierdie dagstukkie bespreek te word nie!

Maar die mosterdsaad - dis nou ‘n perd van ‘n héél ander kleur. Sy pitte is piepklein swart korreltjies, skaars ‘n enkele millimeter in deursnee. Hulle lyk beslis of hulle vir niks anders nut het as om mosterd van te maak nie. Dis mos net bossies wat sulke klein saadjies het! Maar plant nou maar daardie ou piepklein saadjie! As daardie ou korreltjie eers ontkiem, dan begin hy te groei en groei, totdat hy naderhand ‘n groot struik is, en voor jy weet waar jy is, dan sit jy met ‘n 3 meter hoë boom! En jy slaan jou hande saam in verbasing, want wie sou nou kon dink dat so ‘n boom uit so ‘n klein saadjie sou kon groei?

Jesus gebruik die mosterdsaadjie en suurdeeg om die Koninkryk van God voor te stel. Suurdeeg is natuurlik ‘n ander baie handige ding. Het jy al probeer brood bak sonder suurdeeg? Ek bedoel nou regte brood, nie die plêstiek soort van bruismeel of bakpoeier nie. Ek belowe jou: hy kom soos ‘n baksteen daar uit die oond, totaal oneetbaar! Maar meng jy nou suurdeeg in jou meel in, en jy laat hom staan en broei vir so ‘n rukkie, dan sien jy hoe daardie degie al groter en groter word, totdat hy naderhand oor die kante van jou skottel wil loop. En Mamma! hoe smaak so ‘n ou varsgebakte potbroodjie! En hoe water ‘n mens se mond dan nou so vroeg in die môre!

Met hierdie twee beelde, verduidelik Jesus iets van die geheim van God se Koninkryk wat jou na jou asem laat snak. Vir die Jode het alles omtrent God rondom Israel gedraai. Die Koninkryk van Israel en God se Koninkryk was vir hulle een begrip. Wanneer hulle in glorieryke taal van Israel sing, dan is God se Koninkryk terselfdertyd deel van hulle lied.

Nou kom Jesus en beskryf God se Koninkryk as ‘n piepklein mosterdsaadjie. Dit skok die Jode uit hulle sokkies uit, want die Koninkryk is mos gróót en glorieryk! Maar die groot geheim daaragter is dat daardie “piepklein” Koninkryk nie gering geskat moet word nie, want al was daar aanvanklik net ‘n ou klein handjievol mense wat Jesus aanvaar het, het die Evangelie skielik op pinksterdag ontplof, en gegroei en gegroei teen ‘n verstommende tempo, totdat dit uiteindelik oor die ganse aarde versprei is.

Die tweede voorbeeld wat Jesus gebruik, is suurdeeg. Dit is ook maar ‘n ou paar niksseggende grys korreltjies wat jy in ‘n skottel meel inmeng, en kyk net watter verrykende invloed het dit op die meel! Soos suurdeegkorreltjies het die eerste Christene die heidenwêreld geïnfiltreer,Johan Lötter en die gevolge was absoluut fenominaal!

Vandag voel ek en jy as Christene soos klein mosterdsaadjies of grys korreltjies suurdeeg in ‘n oorweldigende wêreld van Goddeloosheid en selfs God-loosheid. As ons sien hoe misdaad in al sy vorms, nie alleen in Suid Afrika nie, maar oor die ganse wêreld oor ons spoel, dan voel ons so magteloos. Maar ons moet verby die massas kyk en God se krag en almag raaksien, want in my as klein mosterdsaadjie is ‘n dinamiese groeikrag opgesluit wat net wag om tot uitbarsting te kom. Dankie tog dat dit nie ons eie krag is nie, maar die onmeetbare krag van die Heilige Gees wat in ons opgesluit lê! Ons moet maar net toelaat dat Hy daardie Krag in ons kan ontsluit.

Die probleem is egter dat ons bang is vir die gevolge. Of wanneer ons uiteindelik toegee, dan raak ons moedeloos omdat dit lyk asof daar so min gebeur aan die begin. Vat nou maar ‘n mosterdsaadjie: wanneer hy ontkiem, lyk hy steeds so klein en broos en weerbaar. Dieselfde met suurdeeg: as jy na ‘n paar minute in die skottel loer, lyk jou degie nog maar presies dieselfde. Niks het dan gebeur nie! Maar daar is asemrowende kragte aan die werk, en die uiteinde is oorweldigend! Jy moet net genoeg geduld gebruik. Uit my eie lewe kan ek met groot dank aan God getuig van die fenominale groeikrag wat Hy jou kan gee.

‘n Mosterdsaadjie lyk so niksseggend, maar dit is gepak met energie: 46% olie en 43% proteïen. Net so is die vaalgrys korreltjies van die suurdeeg eintlik ’n lewende organisme wat net wag vir die meel en water om uit te bars. Op dieselfde wyse is die Evangelie op die oog af minderwaardig en niksseggend, maar wanneer ek myself tot beskikking daarvan stel, kom die volle krag daarin opgesluit in werking.

Al wat Hy van jou vra is om gewillig te wees om gebruik te word.

Gebed:

Here, gebruik my asseblief om U krag in die wêreld tot uiting te laat kom.

Argiewe


Onlangse Dagstukkies

Voorberei vir die Dood
26 October, 2026
Voetewas
23 October, 2026
Salf vir Jesus se Voete
22 October, 2026
Jerusalem, Jerusalem!
21 October, 2026
Die Groot Gebod
20 October, 2026