Moeilikheid in die Koringland

20 February, 2025
Luister Na Hierdie Dagstukkie Moeilikheid in die Koringland

Lukas 6:1-11

VIDEO | OUDIO

Simon is 'n baie verwarde man. Die afgelope week het hy die wonderlikste dinge aanskou en die wysheid het gestroom oor die lippe van sy Meester. Maar één ding het bly krap. 'n Week gelede het hy toegekyk hoe Jesus op die heilige Sabbat eers die besetene genees en toe maak Jesus dieselfde dag nog sy eie skoonma ook gesond. Ja, natúúrlik was hy dankbaar! Maar dit kriewel...... Is dit dan nie werk nie? Hy het hóéka die Fariseërs hieroor hoor brom!

Nou loop hulle saam met Jesus deur die veld naby Kapernaum. Hulle stap deur 'n wuiwende groen koringland op pad na hulle bestemming. Simon kwyl, want hierdie evangeliewerk wat hulle saam met Jesus doen, betaal maar ‘n hongerloon. En boonop gee die mense wat alewig so om hulle saamdrom hulle nie juis tyd om aan kos te dink nie. Nou lyk die vet koringare darem ál te aanloklik. “Mag ons maar?” vra Simon vir Jesus. Hy knik instemmend. Natuurlik is die wet baie duidelik hieroor: as jy deur iemand se koringland stap, dan mag jy maar ‘n paar are pluk - dit is nie diefstal nie. Dis tog baie duidelik so opgeteken in Deuteronomium 23:25. Simon en sy maats pluk elkeen 'n aar of twee en die groen koring kraak sappig tussen sy tande. Die probleem is egter dis Sabbat! Simon was baie duidelik geleer dat wanneer jy koring pluk dan is jy besig om te oes en dan is dit natuurlik werk. En wat sê Eksodus 20 van werk op die Sabbat?

As Simon opkyk, sien hy hulle: die groepie Fariseërs wat hulle vol belangstelling dophou. Hy raak eers rooi in die gesig van skaamte, en dan word hy weer wit om die kiewe van pure vrees. Hy merk hoeka dat die geleerde manne baie dringend met mekaar gesels, en kort-kort in sy rigting vingerwys. “Ha! Het julle!”, sê die Fariseërs natuurlik vir mekaar. Die volgende oomblik storm die norse ou manne woedend op Jesus en Sy manne af. Een kêrel kom druk sy krom wysvinger hier onder die arme verbouereerde Simon se neus in en konfronteer hom met die feit dat hulle so pas arbeid verrig het op die Sabbat en dus die wet oortree het!

“Hierdie klomp suurknolle kan soms fanaties raak oor die wet,” dink Simon as hy sien dat die ou spul nou hulle aandag op Jesus begin vestig. “Hulle maak dit maar moeilik vir 'n mens, want jy durf absoluut niks doen op 'n Sabbat nie. As jy jou vinger lig is dit sonde!”

Eintlik was hierdie Fariseërs op die oog af goeie manne wat ‘n baie diep studie van die Skrif gedoen het. Ongelukkig was die kennis só in hulle ingedril deur hulle leermeesters, dat hulle nooit die ware gees en betekenis van die Skrif gesnap het nie. Dit het vir hulle gegaan om kennis en om die wet tot in sy fynste besonderhede te onderhou en dat absoluut niks hulle een enkele stukkie van die wet sou laat oortree nie. Hierdie filosofie het hulle ook op die samelewing - die doodgewone mense - probeer afdwing. Alles klink baie edel en daar is nie veel mee verkeerd nie. Oor die jare het die Fariseërs begin besef dat dit nie so maklik is om wette te onderhou nie want daar is net eenvoudig soveel verskillende interpretasies! As die wet byvoorbeeld sê dat jy nie mag doodslaan nie - sou dit dan teen die wet wees as jy iemand doodwurg? En so het hulle begin om wette rondom die wette te formuleer sodat ‘n mens nie dalk per ongeluk ‘n wet sou oortree nie.

Een van die moeilikste wette was die een oor die Sabbat, want daar is soveel skuiwergate. Wanneer is werk dan nou eintlik werk? Almal het geweet dat om te oes, werk is en totaal taboe is. Maklik! Een ou Fariseër het waarskynlik een dag vir sy kollegas gesê: “Gisteroggend sien ek my ou vrou op die Sabbat haar ooghare pluk voor die spieël en toe dink ek mos by myselwer: maar dis mos dieselfde as om te oes! Nou vra ek julle, moet ons nie ‘n wet formuleer dat vrouens nie hulle ooghare op die Sabbat mag uitpluk nie?”

“Kyk”, sê een van die ander ringkoppe, “As sy in die eerste plek nie in die spieël gekyk het nie, sou sy nie haar ooghare eers raakgesien het nie! Daar is net één genade: vrouens mag nie op die Sabbat in 'n spieël kyk nie!”

Uiteindelik is daar nie minder nie as 39 wette rondom die Sabbatswet alleen geweef. En die Fariseërs het hulleself gesien as die bewakers van die Wet.

En nou is Jesus saam met Simon en sy maats uitgevang dat hulle op die Sabbat “werk”. Daar is moeilikheid met ‘n hoofletter “M”! Simon se mond hang oop as hy sien hoe meesterlik Jesus vir ou norses verduidelik dat ‘n mens nie so onwrikbaar moet wees nie en dat selfs Dawid die wet “oortree” het toe daar nood was. Daar moet ‘n balans wees in jou lewe en boonop het hulle eintlik hier te doen met die Skepper van die Sabbat. Maar daardie gedagte sou hulle gladnie verstaan nie, want hulle het net één ding op die brein! Die manne draai woedend om en stap weg.

Die vraag is, of Jesus die Wet as onbelangrik beskou het en die Sabbat summier verwerp het? Nee, dit is beslis geensins die geval nie! Jesus wil egter vir die Fariseërs (en ons) wys waaroor die wet werklik gaan. Later verduidelik Hy dat alles rondom liefde draai. Ná Jesus se soenverdienste aan die kruis, het daar nóg ‘n dimensie bygekom - dankbaarheid. Omdat Jesus ons skuld betaal het, leef ons hierdie liefde waarvan Jesus gepraat het uit as dankbaarheid teenoor God vir die verlossing wat Hy ons gegee het. Dit gaan nou nie meer vir ons soos vir die Fariseërs om die wet te onderhou ter wille van die wet nie, of om daarmee ons saligheid te verdien nie, maar ons doen wat God vra, bloot uit liefde en dankbaarheid.

Gebed:

Here, gee asseblief vir my ‘n ware liefde in my hart - liefde gebore uit dankbaarheid vir U groot verlossingsdaad!

Argiewe


Onlangse Dagstukkies

‘n Warm Patat
21 August, 2026
Die Ark is Gebuit!
20 August, 2026
Luister en Doen
19 August, 2026
Wanneer die Here Praat
18 August, 2026
Om Kinders Groot te Maak
17 August, 2026