Moeilike Opdragte

19 October, 2021
Luister Na Hierdie Dagstukkie Moeilike Opdragte

Lukas 17:1-10

VIDEO OUDIO

As gister se Skrifgedeelte, wat gehandel het daaroor dat ons ‘n oop hand moet hê vir armes, vir jou ‘n probleem was, dan sal die uitsprake wat Jesus vandag maak dalk vir jou nóg ‘n groter probleem wees. Die reaksie op gister se dagstukkie was, dat mense gevra het: “Hoe weet ek vir wie om te gee? Hoe weet ek dit gaan nie dalk net vir ‘n botteltjie vuurwater nie?” Die antwoord is gladnie so eenvoudig nie! Ek is persoonlik al dikwels ingeloop deur gladdebek swendelaars wat huilend ‘n droewige storie vertel, en dan gee jy maar. Maar intussen lag die persoon jou uit omdat jy geval het vir sy truuk! Die feit is dat jy nie altyd sal kan onderskei tussen ware behoefte en swendelary nie. Dit is egter op dáárdie persoon se gewete. God is die Een wat sal oordeel!

Vanoggend vertel Lukas van vier moeilike uitsprake wat Jesus gemaak het – situasies wat elke dag op ons pad kom, en wat ons meeste van die tyd totaal verkeerd hanteer.

Die eerste een kan ‘n baie irriterende opdrag wees, want dit vra van my om sekere dinge prys te gee ter wille van ander jong gelowiges. In kort kom dit daarop neer dat iemand wat pas tot geloof gekom het, nog soos ‘n baba is, uiters broos en die geringste dingetjie kan hom laat struikel. Ek moet dus baie versigtig wees wat ek teenoor daardie persoon sê of wat ek doen, sodat ek nie dalk die oorsaak is van sy val nie. So is daar byvoorbeeld baie vraagstukke in die Bybel waarvoor ons net eenvoudig nie ‘n klinkklare antwoord het nie. Vir die “ou” gelowige is dit nie ‘n probleem nie, want hy aanvaar dit in die geloof. Vir die splinternuwe gelowige kan dit egter ‘n onklimbare berg wees, dus moet ek liewer die onderwerp vermy as ek met hom praat. Daar kan ook goed wees wat ek as vanselfsprekend aanvaar, en wat vir hom ‘n struikelblok kan wees. Dan maak ek eerder die opoffering om daarvan weg te bly ter wille van hom.

Die tweede opdrag is om met my medegelowige te praat as hy iets verkeerd doen. Dis iets wat ek baie maklik doen! Die moeilike deel is egter dat ek hom moet vergewe as hy my te na gekom het. En as hy dit sewe keer doen? Dan vergewe ek hom sewe maal! Elders sê Jesus vir Sy dissipels dat jy iemand sewentig maal sewe keer moet vergewe! Dit beteken nie dat ek moet gaan sit en tel nie! Dis beslis nie maklik om iemand wat my grensloos irriteer maar net oor en oor en oor te vergewe sonder om iets teen hom te hou nie!

Die dissipels het besef hoe moeilik dit is om by hierdie voorskrifte van Jesus te bly, daarom vra hulle Hom dat Hy hulle meer geloof sal gee. Jesus se reaksie is dat Hy vir hulle dit nog duideliker maak hoe radikaal Sy eise eintlik is. Hy verduidelik dat as hulle maar ‘n geloof so klein soos ‘n mosterdsaadjie gehad het, dan sou hulle berge kon versit!

As ‘n klein bietjie geloof so ‘n oorweldigende aksie sou kon regkry, dan is daar maar net ‘n ou titseltjie geloof nodig om Jesus se opdragte te kan uitvoer. Ja, inderdaad is Jesus se eise baie hoog. Dikwels lyk dit na die berg Everest in my pad! Die feit is egter dat iemand wat dit in die geloof wil waag die verrassing kry dat daardie stap gepaard gaan met haas-onmoontlike krag. Baie sendelinge kan vandag daarvan getuig dat waar hulle in onmoontlike situasies ingestap het, wonderwerke gebeur het. Die groot geheim is dat ons in die eerste plek die Heilige Gees het wat ons die onuitputlike bron van onmeetbare krag gee.

Daar is egter ‘n ernstige waarskuwing: ek durf nooit, óóit hierdie Bron van krag misbruik deur God se arm te probeer draai of om Hom te manipuleer nie! Ek kan God nie dwing nie! In die tweede plek durf ek geloof nooit, óóit sien as ‘n soort “toorkrag” wat ek tot my eie voordeel kan gebruik nie! Dit moet te alle tye om die eer van God gaan.

Dit bring ons by die vierde opdrag, wat half in teenstelling is met ander uitsprake van Jesus. Deur ‘n gelykenis verduidelik Jesus dat ons soos slawe moet wees teenoor God. Nou wil jy dadelik protesteer: “Maar ons is mos Sy kinders!”

Tóg is gelowiges in ‘n sekere sin soos slawe! ‘n Slaaf verdien absoluut niks nie, want hy is sy eienaar se eiendom. Die eienaar het hom immers gekoop! Ons is inderdáád baie duur gekoop! Ek en jy het absoluut niks gedoen om God se guns te verdien nie. Alles wat ons gedoen het is ‘n gruwel in Sy oë. Nogtans het Hy ons gered en ons die saligheid gegee. Om daardie rede dien ons Hom met alles wat in ons is, sonder om gunste van Hom terug te verwag. Ons dien Hom omdat ons dankbaar is dat Hy ons geruk het uit die kloue van die duiwel en die ewige verderf en ons die voorreg gegee het om deel van Sy “gesin” te wees. Om dus te sê: “Here, ek sal hard werk vir U, maar dan wil ek graag ‘n mooi huis hê,” is totaal verkeerd. Maar nogtans, ten spyte van al ons tekortkominge, en ten spyte daarvan dat ons Hom so dikwels bedroef, oorlaai Hy ons elke dag met genadegawes. Kom ons leef dankbaar, en dien Hom met alles wat ons het!

Gebed:

Here, al wat ek vanoggend kan sê is: “Dankie, dankie, dankie!” Ek verdien niks hiervan nie!

Argiewe


Onlangse Dagstukkies

‘n Warm Patat
21 August, 2026
Die Ark is Gebuit!
20 August, 2026
Luister en Doen
19 August, 2026
Wanneer die Here Praat
18 August, 2026
Om Kinders Groot te Maak
17 August, 2026