Moedersmelk

17 November, 2022
Luister Na Hierdie Dagstukkie Moedersmelk

1 Petrus 2:1-3

VIDEO * OUDIO

Dis in die laat negentigs en hoogsomer in die Laeveld, waar ek en Mosbolletjie soos twee uitgespande donkiekarre op die boshuisie in Marloth Park se stoep sit. Die gras staan geil en die bome is lowergroen. Dit is dus te verstane dat almal wat kleintjies kon kry kleintjies het: rooibokkies, blouwildebesies, sebratjies, vlakvarkies…….

Vroegoggend het ons al mieliepitte uitgegooi voor die stoep vir die voëltjies, maar daar is nou nie juis veel belangstelling nie. Skielik is daar ‘n geritsel in die bossies. Deur die lang gras is slegs die lugdraad sigbaar wat reguit op die huis afpeil. As dit nader kom merk ek nog vier miniatuur lugdraadjies op ‘n streep agterna. Die voëls se mieliepitte is ‘n heerlike lekkerny vir ‘n vlakvark, en die ou sog val dadelik weg en tel die pitjies een vir een op terwyl sy dankbaar op haar skurwe knietjies kniel. Die kleintjies is uitbundig en dit speel en stoei vir ‘n vale. Skielik onthou enetjie dat hy honger is. Ma-vark word stormgeloop en hy gryp na ‘n melkspeenjie. As die ander drie sien wat aan die gang is, dan lyk dit erger as Barberton se goudstormloop. Dit pomp en suig en kreun en snork van pure lekkerkry, en Ma staan net daar met ‘n salige, in-’n-ander-wêreld uitdrukking op haar gevreet!

Ek onthou nog toe my eie spruite babas was, hoe die ou bloedjies soms skoon skuinsbetjoins was en jou mal geskreeu het, en die oomblik as daardie tiet in die mond gedruk word, sak daar so ‘n salige stilte oor die huis neer. Daar is niks so welgelukmoedersalig as ‘n baba met sy melk nie. Petrus het beslis óók geken van ‘n babatjie en melk, en hy gebruik hierdie wonderlike beeld om geestelike groei te verduidelik. Hy het baie duidelik geweet dat ‘n baba wat nie melk kry nie, beslis nie kan groei nie! Nog erger, dat so ‘n kleintjie doodeenvoudig nie kan oorleef nie!

Net soos die baba, is die gelowige ook totaal afhanklik van geestelike kos. Die dag wat jy weergebore word is jy ook soos ‘n babatjie. Dán is jy totaal afhanklik van die rykste geestelike melk moontlik sodat jy kan groei en sterk word. Daardie melk is natuurlik die Woord van God, en hoe meer jy daarvan inkry hoe vinniger is jou geestelike groei.

‘n Baba verstaan nie mooi waaroor dit alles gaan nie. Hy weet absoluut niks van voedingskrag of diëetkunde nie. Al wat hy weet is dat hier onder iewers ‘n verskriklike hongerpyn is en uit ondervinding het hy al geleer dat as hy aan daardie tiet suig, verdwyn die pyn soos mis voor die son. Op dieselfde manier verstaan die nuwe Christen ook nie alles wat hy lees nie. Dikwels maak dit gladnie eers sin nie! Dit maak egter nie so groot saak nie, en die groot geheim is om maar net so veel geestelike kos as moontlik in te kry. Later sal dit wel sin maak as die dinge begin bymekaar kom. Wat maak dit byvoorbeeld tog saak waar Kain sy vrou gekry het?

As ons hierdie perikoop lees, wil dit lyk asof Petrus twee aparte opdragte gee, naamlik om te eet en om op te hou sonde doen. Dit is nie wat Petrus werklik bedoel het nie, maar eerder dat die een onlosmaaklik deel van die ander is. As jy die suiwer melk van die Woord inkry en geestelik groei, is dit ‘n natuurlike proses dat die sonde uit jou lewe sal begin verdwyn, want dan word die praktiese uitvoering van wat jy uit die Woord geleer het moontlik.

Aanvanklik is die enigste aksies wat ‘n baba regkry, om doeke nat of vuil te maak en ‘n gemors rondom hom te veroorsaak. Namate hy groei, begin hy meer goed in die lewe bemeester. Net so groei die baba-gelowige na geloofsvolwassenheid. Weldra begin hy die sondes in sy lewe bemeester. As jy dit dus nog nie kon regkry om op te hou met kwaaddoen, bedrog, huigelary, jaloesie en kwaadpratery nie - slegs ‘n paar voorbeelde wat Petrus noem - moet jy besef dat jy beslis nog nie genoeg van daardie geestelike melk ingekry het nie. Gebruik elke moontlike geleentheid om vertroud te raak met die woorde van die Bybel. So sal jy groei ervaar, en al meer groter sekerheid oor jou verlossing kry.

Petrus se laaste sinnetjie, “noudat julle die goedheid van die Here gesmaak het,” kom uit Psalm 34:9. Ons het GEPROE hoe goed die Here is! Soos ‘n babatjie wat eenmaal sy ma se melk geproe het, en nou niks anders in die lewe wil hê nie, so sal die Christen-gelowige wat eenmaal God se goedheid geproe het, smag na meer en meer. Soos die natuurlike instink van ‘n baba is om melk te wil hê, so moet jou geestelike aptyt al groter en groter word, en moet dit net natúúrlik kom dat jy van God wil leer en groei na volmaakte geestelike volwassenheid.

As ‘n baba nie kos kry nie, kwyn hy weg. As jy geestelik nie kos kry nie kwyn jy ook weg, totdat jy naderhand slegs ‘n geestelike geraamte is. Hierdie dagstukkie is slegs ‘n aptytwekkertjie, en dit is nie naastenby genoeg om jou geestelik aan die lewe te hou nie. Ware pitkos kry jy uit Bybelstudie, kerkaktiwiteite, seminare, verrykingskursusse, Bybelskool ens. Al daardie dinge is daar vir jou geestelike groei. Gebruik dit. Eet die Woord!

Gebed:

Here, gee asseblief vir my ‘n onstilbare honger na U Woord!

Argiewe


Onlangse Dagstukkies

Bruilof Sonder Wyn?
18 September, 2026
Mense stroom na Jesus!
17 September, 2026
Vissers van Mense
16 September, 2026
Johannes
15 September, 2026
Epiloog
14 September, 2026