Meneer Israel 950vC

31 January, 2024
Luister Na Hierdie Dagstukkie Meneer Israel 950vC

2 Samuel 14:25-33

VIDEO | OUDIO

Absalom, die mooiste man in die hele Israel - so beskryf die boek Samuel hom. Hy het behóórlik die meisies se knieë lam gemaak. Almal het gepraat van Absalom se aantreklikheid, en natuurlik was hy ook baie gewild! Ons lees dat sy dogter nét so mooi was. En dan was daar boonop daardie bos hare! Een keer ‘n jaar moes hy sy hare laat sny, omdat dit te swaar geword het en dan het daar ‘n volle 2 kilogram hare gelê! Enige vrou se droom! Absalom het beslis die koppe laat draai!

Maar ten spyte van sy gewildheid en ten spyte van sy aantreklikheid was Absolom ‘n bitter ongelukkige man want sy Pa het hom verwerp! Nadat Dawid hom laat terugkom het na Jerusalem, het daar ‘n volle twee jaar verloop sonder dat Dawid ‘n woord met sy seun gepraat het. Die situasie het absoluut onhoudbaar geword vir Absalom.

Uit radeloosheid wend hy hom tot Joab om vir hom voorspraak te gaan doen by Dawid. Joab was immers die vorige keer die bemiddelaar wat gesorg het dat hy kon terugkeer na Jerusalem. Maar hierdie slag weier Joab selfs om na Absalom toe te gaan. Dit was destyds alreeds vir Joab ‘n baie groot risiko om daardie vrou te gebruik om Dawid tot ander insigte te bring. Hy het kans gestaan om alles te verloor met daardie toneelspel. Joab het waarskynlik besluit dat hy nie kans sien om wéér so ‘n groot risiko te loop nie. ‘n Tweede keer laat roep Absalom vir Joab, maar hy weier steeds volstrek om met die man te gaan praat!

Absalom laat hom egter nie van stryk bring nie. As Joab dan nie vrywillig wou kom nie, sou hy hom op ‘n geniepsige manier dwing om te kom! Absalom stuur sy slawe om Joab se garsland aan die brand te steek en hy maak géén geheim daarvan wie die skuldige is nie. Joab móét wéét dat dit Absalom se werk is.

Dit het die regte uitwerking en Joab kom woedend in Absalom se huis ingestorm: “Waarom het jy dit gedoen?” wil hy weet.

Absalom is egter rustig oor die saak: “Ek het jou gesmeek om my te kom spreek en jy wou nie, toe moes ek maar ander metodes gebruik om jou hier te kry.”

Dan vra Absalom die seer vraag: “Waarom het jy my nou eintlik uit Gesur hierheen laat kom?” Absalom is radeloos, want sy pa wil nie met hom praat nie! Hy kon netsowel maar daar in Gesur gebly het.

“Ek wil nóú met die Koning praat!” Absolom is nou desperaat. “As ek skuldig is, dan moet hy my maar doodmaak!”

Hoe kon Joab nee sê vir iemand wat so desperaat is om maar net met sy Pa te praat? Joab is na Dawid toe om hom te vertel van Absalom: “Jou seun verlang na jou!” pleit hy by Dawid, en uiteindelik gee die Koning in. Hy laat roep Absalom en dan volg ‘n baie emosionele toneel wanneer Absalom diep voor die Koning buig. Dawid soen sy seun innig en vergewe hom vir wat hy gedoen het.

Nou gaan die gesin weer voort soos normaal. Werklik? Die vraag is of Absalom se emosionele terugkeer waarlik opreg is?

In die volgende toneel wat Samuel vir ons skilder, sien ons die aantreklike man, Absalom in ‘n spoggerige perdekar. “Niks daarmee verkeerd nie!” sou ons dalk sê, maar daar is iets aan Absalom se houding wat ons nekhare laat regop staan. Saam met die perdekar kom daar ‘n lyfwag van vyftig man. Ons sien vir Absalom waar hy in die stadspoort staan. Hy keer die mense voor wat op pad is na Koning Dawid vir regspraak, en dan kritiseer hy Dawid - hulle sal nooit hulle saak regverdig verhoor kry by híérdie ou Koning nie! En natúúrlik is Absalom ‘n baie beter regter as sy Pa! Hy gee werklik om vir sy mense, anders as Koning Dawid, wat nie ’n tiekie omgee nie!

Absalom is onderduims en blatant, maar wat hy doen is uiters effektief. Hy is ‘n regte swierbol, in teenstelling met sy pa wat maar plat op die aarde is. Dit beïndruk die mense en hy steel baie harte met sy sjarme. En natúúrlik geniet Absalom al die aandag terdeë! “As ek eendag koning is.....” sug hy. Hy hou nogal van die gedagte, maar waarom wag tot eendag, wanneer Dawid eers dood is? Waarom nie nóú al nie?

Wanneer ons hierdie verhaal lees, sien ons die rooi gevaarligte flits. Hier kom ‘n baie lelike ding!

In ons eie tyd gebeur hierdie selfde dinge nog elke dag - dalk net ‘n bietjie meer subtiel. “Ons kerk is baie beter as daardie klomp op die bult - ons gee werklik om vir ons lidmate, anders as hulle!” - so word lidmate dikwels afgerokkel. “Ons verkondig die enigste ware Evangelie.....” Al die ander wat nie daarmee saamstem nie, is verdoem! En so bou ons vir ons ‘n indrukwekkende gemeente…..

Waarom kan ons nie eerder saamstaan nie? Waarom kan ons nie eerder saam stry vir die Evangelie nie, en saam as kinders van God die ware Kerk van God bou nie? Kom ons vat waarlik hande en vergeet van ons verskille. Kom ons doen wat God beplan het vir die kerk om te doen!

Gebed:

Here, vergewe my asseblief waar ek soms ander gelowiges kritiseer,en maak asof ek die enigste is wat reg is. Maak my oë oop sodat ek ook ander se sieninge sal respekteer!

Argiewe


Onlangse Dagstukkies

‘n Warm Patat
21 August, 2026
Die Ark is Gebuit!
20 August, 2026
Luister en Doen
19 August, 2026
Wanneer die Here Praat
18 August, 2026
Om Kinders Groot te Maak
17 August, 2026