Méér as Oorwinnaars

5 August, 2024
Luister Na Hierdie Dagstukkie Méér as Oorwinnaars

Romeine 8:31-39

VIDEO | OUDIO

Dit was die jaar 1552, ‘n volle 100 jaar voor oorl’e Oom Jannie sy historiese voet aan die Kaapse kus geplant het. Twee Portugese skepe, die St. John en die St. Jerome seil uit die verre Ooste, swaar gelaai met speserye en handelsware, op pad huistoe na Portugal. Die enigste pad is verby Jan van Riebeeck se toekomstige Kaap.

Wanneer hulle egter die ooskus van Suid-Afrika tref, kom daar ‘n verskriklike storm op en die St. Jerome sneuwel naby die Umhlatuzirivier, waar Richards Baai vandag is. Nie ‘n enkele mens oorleef nie. Die St. John, die grootste galeiskip daardie jare in die handelsvloot, vorder egter tot aan die Wildekus by Port St. Johns, waar dit verpletter word teen die rotse. (Die dorp Port St. Johns is na hierdie ramp vernoem.) 500 Mense, waarvan 300 slawe was, oorleef die ramp. Hulle enigste redding sou wees om daarvandaan na die naaste nedersetting, Inhambane te stap. Dit was 1000 km teen die kus op. Dit was ‘n nagmerrietog, veral vir die 200 ryk Westerlinge wat nie gewoond was aan swaarkry nie!

Aan die begin was party van hulle deur hulle slawe gedra! Riviere in vloed, sand, ‘n moordende son, wilde diere, koue, reën en ‘n gebrek aan kos het alles hulle tol geëis. Die inheemse bevolking in Mosambiek het meestal ‘n koue skouer gedraai. Hulp sou dáár nie van hulle af kom nie. By een geleentheid is hulle gekonfronteer deur ‘n impi vyandiggesinde krygers. Die manne het Dona Leonora, die skeepskaptein se edele vrou raakgesien en geëis dat sy haar kaal uittrek. Sy het geweier, maar toe sy gedwing word, het sy haar naakte liggaam in die sand begrawe tot by haar nek en geweier om weer daar uit te kom. Daar is sy uiteindelik dood. Van die 500 mense bereik slegs ’n bedremmelde groepie van 22 uiteindelik die hawe van Inhambane, onder begeleiding van ‘n paar inboorlinge. Die oorlewendes is aan die Portugese handelaars deur hulle begeleiers verkoop vir twee en ‘n kwart pennies elk!

Waarom het die plaaslike bevolking hulp geweier? Eenvoudig: hierdie Portugese was slawehandelaars! Menige van die plaaslike inwoners se familie is deur hierdie einste mense gevang en as slawe verkoop. Die wiel het beslis gedraai!

In ‘n skrille teenstelling met hierdie droewige verhaal, hef Paulus ‘n oorwinningslied aan: “God is vír ons, wie kan dan teen ons wees?” Soveel anders as die Portugese van die St. John, is ons as gelowiges méér as oorwinnaars saam met Christus. En ons strompel ook nie “Inhambane” binne soos die paar oorlewendes van die ramp nie, maar ons mars op in ‘n jubelende triomftog! Vir die Romeine was ‘n triomfoptog natuurlik nie ‘n nuutjie nie, want elke keer as ‘n generaal ‘n groot veldslag gewen het, was dit sy voorreg om só ‘n triomftog deur die strate van Rome te hou en dit het gepaard gegaan met feeste en spele en almal was uitbundig!

Vir ons as gelowiges kan elke dag ‘n triomftog wees met al die feesvieringe wat daarmee saamgaan! Onthou: ons is in die stryd gewikkel met die duiwel, die grootste vyand. Maar die “Generaal” wat ons geveg aanvoer is niemand anders nie as Jesus Christus sélf. Die feit is egter dat Hy alreeds hierdie geveg gewen het en dat ons nou veilig is in Sy kragtige beskerming. Christus is die oorwinnaar en niks en niemand kan keer dat God sy genadewerk in ons lewe voltooi nie! Nou kan ons met volle oorgawe die llied: "Voorwaarts Christenstryders!" sing!

Hierdie feit beteken dan ook verder dat ons nood God se aandag sal kry. Die eerste deel het Hy reeds gedoen deur sy Seun, Jesus vir ons te gee. Hy sal sy genade nooit van ons terughou nie. Dit beteken natuurlik nie dat ek as gelowige nooit sal swaarkry nie. Maar die troos is dat ek selfs in my swaarkry op Jesus kan staatmaak, want Hy is reg langs my om my deur die swaarkry te help en vir my by God te pleit wanneer ek struikel. Kyk maar hoe Hy vir Petrus opgehelp het, elke keer as die arme man geval het, selfs toe hy vir Jesus verloën het toe Jesus hom só nodig gehad het! Petrus kon in die krag van God opstaan en hy hét oorwin! Ek en jy kan ook.....

Beteken dit dat al my swaarkry verby is as ek in Jesus is? Nee, géénsins. Die feit is egter dat absoluut géén omstandighede ons van Jesus se liefde kan skei nie. In vers 38 en 39 gee Paulus ‘n lysie van die skrikwekkendste dinge wat potensiëel tussen ons en Jesus kan kom: dood en lewe, engele en magte, hoogte en diepte en allerhande kragte. Hierdie dinge plaas ‘n verskriklike beklemming om jou hart. Ons kan hierdie lysie aanvul met die dinge wat vir ons ‘n nagmerrie kan wees, soos rooftogte, kapings, werkloosheid, bendegeweld, brandstofpryse, klimaatsverandering. Hoe verskriklik hierdie dinge ookal mag voorkom, in Jesus kan ons geborge lewe. Hy sal ons deur al hierdie verskrikkings van die lewe dra en in Sy sterk arms toevou. Deur Jesus se liefde kan ons elke oomblik van die dag waarlik vrede ervaar wat alle verstand te bowe gaan!

Gebed:

Here Jesus, dankie dat ek in die volle vrede van U genade kan leef en dat ek elke oomblik kan besef dat ek ook ‘n oorwinnaar in U is!

Argiewe


Onlangse Dagstukkies

Voorberei vir die Dood
26 October, 2026
Voetewas
23 October, 2026
Salf vir Jesus se Voete
22 October, 2026
Jerusalem, Jerusalem!
21 October, 2026
Die Groot Gebod
20 October, 2026