Materialisme - die Monster.

15 January, 2021
Luister Na Hierdie Dagstukkie Materialisme - die Monster.

Miga 3:9-12

Video - Oudio

Miga sluit in die laaste vier verse van hoofstuk 3 sy onheilsprofesieë af met ‘n opsomming van wat hy reeds gesê het. Maar as jy hierdie verse lees, kom jy agter dat daar iets baie dieper skuil onder hierdie mantel van onreg, naamlik die monster van materialisme! Dalk moet ek net eers vertel van ‘n paar baie dierbare mense wat ons paadjie gekruis het oor die afgelope paar jaar. Nadat ons in ‘n finansiële krisis gedompel was, het Willem en Linda ons vir ‘n volle jaar gratis blyplek gegee. Hulle wou nie ‘n sent aanvaar vir ons verblyf in hulle huis nie. Na hulle was dit Danie en Adele wat presies dieselfde gedoen het, en toe daardie blyplek nie meer beskikbaar was nie, was dit Ockie en Gill wat weer na vore getree het. Vir hierdie mense gaan dit oor die uitleef van liefde soos Jesus dit vir ons voorgelê het.

Maar in Miga se gemeenskap was dit iets totaal anders. Elke ding het sy prys! Die regters sou uitspraak lewer slegs om sekere mense te bevoordeel, die profete sou profesieë lewer slegs om die mense se gemoedere te sus, en die priesters sou mooi broodjies bak en die gemeente vlei met mooi Godsdienstige raad. En agter al hierdie handelinge sit daar die een enkele motief: materialisme.

Die regters sal ‘n uitspraak lewer, slegs as die persoon betaal. En as hy ruimskoots betaal, sal die regter sy saak bevoordeel, al is hy ook skuldig, en hy sal dan die ander party onregverdig veroordeel, al is hy dan onskuldig!

Die priesters gee mooi, vleiende raad oor allerhande godsdienstige sake, maar dan ook slegs as hulle betaling die moeite werd is. Selfs die profete is bereid om te profeteer soos wat jy graag sy profesie sou wou hoor, maar die voorwaarde was weereens dat daar genoeg geld by betrokke sou wees.

Materialisme is ‘n siekte. Dis is egter nie ‘n kwaal wat slegs gebonde was aan Miga se tyd nie. Hierdie siekte het deur die eeue epidemiese proporsies aangeneem en al by verskeie geleenthede volke totaal verwoes. Dit is egter ook nie slegs tot die leiers, profete en regters beperk nie. Dit is iets wat totale gemeenskappe kan oorweldig. Die leiers is slegs die puntjie van die ysberg wat bo die see uitsteek. Onder kolk en kook en maal die ander negentig persent daarvan. Wanneer Miga dus met die volksleiers praat, dan praat hy eintlik met die hele volk.

Die een groot probleem van materialisme is dat absoluut alles in geldwaarde gemeet word. Met ander woorde, dit is nie slegs die materiële dinge nie, maar ook die dinge in die lewe wat eintlik geen geldwaarde het nie. Ons kan dink aan dinge soos goeie regspraak, op alle vlakke, egte, suiwer Godsdiens, hoë morele waardes en tragies genoeg, selfs barmhartigheid en liefde. As dit eers tot hierdie vlak gedaal het, dan is dit om van te huil en treur!

Dit is so tragies dat materialisme en geldgierigheid dikwels getooi word in ‘n geurige godsdienstige sousie! Miga huil dit uit in vers 11: Hulle sê: “Die Here is by ons, onheil sal ons nie tref nie.” Niks kan verkeerd loop solank hulle materialisme in die Naam van God bedryf nie. Maar alles het alreeds verkeerd geloop! Hoe kan jy verwag dat die Here met jou sal wees solank jy doelbewus besig is om ander mense uit te buit? Hoe kan jy op Sy seën aanspraak maak solank jy onregverdig regspreek teen iemand anders? Terwyl jy mense benadeel ter wille van geld? En hoe kan jy liefdeloos en dikwels wreed teenoor jou medemens optree, en terselfdertyd daarop aanspraak maak dat jy ‘n wonderlike, liefdevolle verhouding het met God?

Hierdie dinge rym net eenvoudig nie! Jy kan nie God en Mammon gelyk dien nie! God se heiligheid, liefde, genade en alles-omvattende nabyheid kan net eenvoudig nie besoedel word met geldgierigheid, materialisme, onreg en liefdeloosheid nie. Dit rym nie!

Miga sluit sy betoog af met ‘n verpletterende uitspraak oor die trots van die volk: Jerusalem. “Jerusalem sal ‘n puinhoop word!” voorspel Miga. Die pragtige stad gaan geplunder word, en daarmee saam die juweel van die stad, die hartklop van die volk: die asemrowende, heilige tempel. “Die tempelberg gaan ‘n hoogte vol bossies word.” waarsku Miga. Hoe tragies. En die skuld hiervoor lê Miga voor die deur van die volk en sy leiers. Hulle is verantwoordelik hiervoor. Hierdie oordeel het hulle oor hulleself gebring.

Gebed:

Here, bewaar my asseblief van geldgierigheid en materialisme. Vul my hart met liefde en barmhartigheid.

Argiewe


Onlangse Dagstukkies

Die Ark is Terug
24 August, 2026
‘n Warm Patat
21 August, 2026
Die Ark is Gebuit!
20 August, 2026
Luister en Doen
19 August, 2026
Wanneer die Here Praat
18 August, 2026