Lukas 10:38-42
Oor vandag se baie kort verhaaltjie is daar al baie preke gemaak, en ek dink nie dat enige prediker ooit daaroor uitgepreek kan raak nie!
Jesus en sy geselskap het op hulle reis na Jerusalem by die dorpie Betanië aangedoen. Hierdie dorpie is net buite Jerusalem geleë en dit is hier waar Marta en Maria saam met hulle broer Lasarus gewoon het. Die twee hoofkarakters in die verhaal was die susters Marta en Maria.
Op die oog af is die drama wat hier afspeel net ‘n insidentjie wat jy dalk binne minute alweer sal vergeet. Marta was baie bedrywig in die kombuis om alles vir die manne reg te kry, maar haar sussie het besluit dat sy liewer by Jesus wil gaan sit en luister na wat Hy alles te sê het. Marta raak naderhand warm onder die boordjie oor haar sussie se laksheid, en sy gaan praat met Jesus hieroor. Maar dan kom die verrassing as Jesus vir Marta teregwys omdat sy so besig is. Die “lui” Maria is eintlik die een wat reg optree.
As ons die verhaaltjie vir die eerste keer lees, dan lyk dit vir jou so bitter onregverdig. Waarom word die een wat hard werk oor die vingers getik, en die sussie wat sit en niksdoen word geprys? Ons moet eintlik die optrede van hierdie twee susters beoordeel in die lig van wat dit werklik inhou om ‘n volgeling van Christus te wees.
Ons het werklik simpatie met Marta wat haar liefde vir Jesus wys deur Hom en sy dissipels te bedien. Eintlik moes Maria haar suster gehelp het, maar sy was passief. In die lig van die gelykenis wat ons so pas gister oor gesels het, van die barmhartige Samaritaan, moet ons werklik Marta se diens waardeer. Sy het presies gedoen wat Jesus gepreek het oor die Samaritaan. Tóg sê Jesus dat Maria “die beste deel gekies het”. Wat is die “beste deel” waarna Jesus hier verwys? Om alle ander dinge te los en Jesus se woorde in te drink. Hiermee sê Jesus nie dat dit verkeerd is om besig te wees en hard te werk in die Koninkryk nie. Hy sê ook nie dat jy maar eerder jou huishoudelike pligte moet verwaarloos om met die dinge van die Here besig te wees nie.
Die groot geheim is dat jy moet weet wanneer die tyd reg is vir werk en wanneer dit reg is vir stilword. Maria het net besef dat dit nie nou die tyd is om rond te hardloop en dinge vir die Here te doen nie, maar dat dit die tyd was om die Here toe te laat om iets vir haar te doen. Sy moes oop en ontvanklik wees op daardie oomblik, want Jesus het dinge gesê wat vir haar baie belangrik was. Ja, sy kon wél later weer haar gasvroupligte doen en al haar huishoudelike probleme oplos. Jesus was egter slegs vir ‘n kort tydjie by haar, en sy moes elke oomblik daarvan kwaliteitsmomente maak.
Deur hierdie verhaaltjie leer die Here my ook om baie sensitief te wees vir die momente in my eie lewe wanneer Hy deur sy Gees met my wil praat en my leer en sterk wil maak. Natúúrlik is dit van groot waarde as ek bereid is om my moue op te rol en koninkrykswerk met passie en méning aan te pak. Dit behoort deel van my lewe te wees en dit maak my geestelik sterk terwyl ek terselfdertyd die liefdesgebod so kan uitleef en tot diens van God en my naaste kan wees. Maar daar kom tye in my lewe wanneer ek moet besef dat ek nou moet stilword voor die Here. Dat ek moet ophou rondskarrel met my dagtake sodat ek net kan indrink wat Hy vir my wil fluister. Dit is op sulke tye wat ek ook aan die voete van Jesus moet gaan sit en net luister na wat Hy vir my sê. Sulke oomblikke is uiters kosbaar. Dit is hier waar ek weer gevul word met krag. Dit is hier waar ek Jesus se nabyheid ervaar. Dit is hier waar ek weer besef hoe afhanklik ek werklik van Hom is!
As jy die langpad aandurf met jou motor, kan jy nie maar net aanhou ry en ry nie - êrens moet jy stilhou vir brandsof! Boonop is dit vir jou as bestuurder ewe noodsaaklik om net ‘n bietjie te ontspan, anders gaan jy uitbrand. Op dieselfde wyse is dit ook nodig om geestelik “stil te hou” en die allernoodsaaklike brandstof van die Heilige Gees in te neem. Dit kan jy nie doen terwyl jy staan en hardloop nie, maar jy het nodig om rustig te raak.
Daarom is dit baie belangrik om soms ook net weg te breek en iewers alleen met die Here te gaan verkeer. Johannes die Doper, Elia en Jesus het na die woestyn gegaan om daar alleen te wees. Dit kan kosbare momente wees om maar net iewers langs ‘n spieëlgladde riviermond te gaan sit of dalk in die bos en die stilte in te drink terwyl jy met die Here gesels. Ek het baie sulke tye wat ingebrand is in my mooimomente-kamertjie, wat ek vir ewig wil onthou!
Gebed:
Here baie dankie vir daardie stiltye wat U vir my gee - vir die hemelse oomblikke wanneer U met my praat deur die stilte en rustigheid.