Lukas 1:26-38
Ses maande verloop sedert die engel aan Sagaria verskyn het. Die wonderwerk het gebeur presies soos die engel voorspel het, en die bejaarde Elisabet het swanger geraak. Sy en die gryse Sagaria het al lankal vrede gemaak met die feit dat hulle kinderloos sou sterf. Maar nou het God die absoluut onmoontlike gedoen! In 'n oogwink is hulle lewens totaal omgekeer!
Hulle is egter nie die enigste wat so ‘n radikale omkeer in hulle lewens ervaar het nie. In Nasaret woon ‘n jong meisie met die naam Maria. Op die brose ouderdom van 14 jaar was sy reeds verloof, soos die gewoonte in daardie jare was. Haar verlowing aan die skrynwerker Josef was deur haar pa gereël. (hierdie besonderhede word nie pertinent deur Lukas genoem nie maar ons kan dit so aanneem.) ‘n Verlowing was so goed soos ‘n huwelik, alhoewel die huwelikseremonie nog nie amptelik plaasgevind het nie. Alles was reeds gefinaliseer. Lukas beklemtoon egter die feit dat Maria nog steeds ‘n maagd was.
Anders as vandag, was dit in daardie tyd van uiterste belang dat ‘n meisie nooit omgang sou hê, tot die dag van haar huwelik nie. Só gesteld was die gemeenskap oor ‘n rein lewe, dat iemand wat egbreuk gepleeg het gestenig kon word. Hulle kon haar met klippe doodgooi!
Op ‘n dag verskyn daar skielik ‘n baie vreemde man voor Maria. Hy groet haar met: “Ek groet jou, begenadigde! Die Here is by jou!”
Ons moet verder ook in gedagte hou dat ‘n jong meisie soos Maria absoluut géén status gehad het nie, sy was skaars meer as een van haar pa se karige besittings beskou. Wanneer die engel haar dus “begenadigde” noem, skrik sy haar byna dood. Wat het sy, die eenvoudige, onbelangrike meisie gedoen om sulke groot woorde te verdien? Sy is verbysterd, wat kan dit tog beteken? Baie gou stel die engel die arme verbouereerde meisie gerus. Maar dan deel hy vir haar die ontstellende nuus mee dat sy swanger sou raak. Maria se knieë het skielik lam geword, dit was tog onmoontlik? Die engel gaan kalm voort en beskryf in detail allerhande dinge wat haar verstandjie gladnie wil begryp nie. “Hy sal die Seun van die Allerhoogste genoem word”, hoor sy die engel sê.
“Maar dis onmoontlik!” skree dit in haar binneste. “Ek droom!” Die engel gaan egter rustig voort en vertel vir haar dat sy haar Seun Jesus moet noem en dat Hy op die troon van Sy voorvader Dawid sal sit. Hy sal vir ewig as Koning heers.
Maria se kop draai! Alles is net hééltemal te veel vir haar. “Maar hoe is dit moontlik? Ek het dan nog nooit met ‘n man omgang gehad nie!”
Die engel verduidelik van die Heilige Gees wat die lewe in haar sal wek en dat haar Seun die Seun van God sal wees. Maria se verstand sê vir haar dat dit sekerlik ‘n fout moet wees, dit is tog totaal onmoontlik! Maar dan vertel die engel vir haar van haar bejaarde tante Elisabet wat ses maande swanger is. As so ‘n wonderwerk met haar kinderlose tante kon gebeur, dan is die wonderwerk wat hier besig is om voor haar oop te vou ook mos moontlik! Absoluut enigiets is vir God moontlik!
En so berus Maria daarby: “Ek is tot beskikking van die Here. Laat met my gebeur wat u gesê het.”
Baie jare later toe Maria al ‘n stokou vrou was, het sy alles wat sy in haar hart bewaar het oor daardie asemrowende gebeurtenis met Lukas gedeel. Wat tóé vir Maria as jong meisie na ‘n onmoontlikheid en totaal onwerklik gelyk het, moes sy later uitvind dat alles absoluut waar was, tot op die laaste kommatjie. Uit die woorde van die engel was dit baie duidelik dat Jesus, Maria se Seun, die Messias was waarna die ganse Joodse volk so lank al uitsien. Die verskriklike onderdrukking wat hulle nou al honderde jare lank moes verduur sou op ‘n einde wees wanneer hierdie Messias kom! Hulle het dit egter totaal verkeerd verstaan, want die Messias sou nie ‘n politieke leier wees nie. Hy sou wél Koning wees tot in alle ewigheid. As Messias is Hy die Seun van God, ‘n feit wat Lukas telkemale in sy verhaal beklemtoon. Dit is dus God wat die sentrale figuur in sy verhaal is.
Lukas vertel die verhale van Jesus en Johannes se geboortes as paralelle. Dit is twee groot wonderwerke wat gelyktydig plaasvind. Daardeur wil hy aan sy lesers oordra dat God in die menslike geskiedenis ingegryp het. Deur sy Gees het God gewerk in die geboortes van Johannes en Jesus. Die krag van God is skeppend, so sien ons ook in die skeppingsverhaal waar die Gees van God oor die watervloed gesweef het en dit beheer het in Sy skeppingsmag.
Daar is mense - selfs geleerdes - wat ‘n probleem het met hierdie maagdelike geboorte. Albei hierdie onnatuurlike swangerskappe blyk onmoontlik te wees. Tóg het dit gebeur! Ons wil vandag ál te dikwels beperkings plaas op God se almag. As hy tóé die onmoontlike kon doen, kan Hy dit vandag steeds doen. Gister het ek getuig van wonderwerke in my eie lewe, en ek wil dit vandag beklemtoon, want by Hom is absoluut alles moontlik! “Niks is vir God onmoontlik nie.” (Luk 1:37)
Gebed:
Here, God almagtig, ek wil U vanoggend loof en prys, want aan U almag is daar geen einde nie!