Manna

2 July, 2025
Luister Na Hierdie Dagstukkie Manna

Eksodus 16:13-21

???? VIDEO | ???? OUDIO

Die nasmaak van die vorige aand se kwartels lê nog vlak in die Israeliete se mond, as hulle die oggend een-vir-een begin lewe kry. “Pappa, kom kyk!” skree ‘n seuntjie sy pa wakker - so ‘n gesig het hy nog nooit gesien nie. Oor die hele kamp van Israel hang ‘n swaar misbank. Só ‘n verskynsel is die Israeliete nie gewoond nie. Die mis is so dig, dat hulle skaars die bure kan sien. Oopmond staan hulle die verskynsel en aangaap. Dit is so misterieus, asof daar iets groot opgesluit lê in hierdie wolk wat hulle oordek. Die verskyning van God in die wolk, die vorige dag, lê nog baie vlak in hulle geheues.

Dan, stadig begin die misbank lig en dan sien hulle dit: donsige vlokkies wat soos sneeu oral oor die kamp lê. “Wat is dit?” vra hulle vir mekaar, “Wat het hier gebeur?” Vir die kinders is dit ‘n heerlike lekkerte en een of twee steek dit in hulle mond. Dit proe nogal nie te onaardig nie. “Moenie!” wil ma nog keer want die goed kan dalk giftig wees!

Maar dan kom die gryse ou Moses tot hulle redding: “Dit is brood,” kondig hy aan, “dit is brood wat die Here vir julle gee.” Hy glimlag van oor tot oor. Ja, laasnag het hy lank met die Here gesels, en die Here het hom mooi vertel van wat Sy plan is met hierdie Israeliete. Hulle is eintlik nog so rou, so bitter ver van ‘n verhouding met God af. Die Here is goed vir Moses en daar is so ‘n wonderlike verhouding tussen hom en God. Hy kan dit nie aldag verstaan waarom die Almagtige God so bemoeienis maak met hom, ‘n eenvoudige mens nie! En nog minder kan hy verstaan waarom die Here soveel moeite doen met hierdie weerbarstige volk!

“Ek het vir julle ‘n opdrag.” sê Moses vir die volksleiers, nadat hy hulle bymekaar geroep het om hierdie eienaardige vlokkies aan hulle te verduidelik. “Nee, eintlik is dit nie my opdrag nie, maar God se opdrag aan julle.” En dan verduidelik hy in groot detail vir hulle dat die Here vir hulle kos voorsien. Hulle mag egter slegs genoeg van hierdie vlokkies optel vir een enkele dag se gebruik. "Daar mag niks oorbly vir die volgende oggend nie! Dit is God se opdrag!” Ja, hulle verstaan baie mooi. En so is hulle opgewonde daar weg om dit met almal te deel.

God het laasnag vir hom gesê dat Hy die volk iets wil leer van gehoorsaamheid, want dit is ‘n ding wat totaal ontbreek by hulle. As hulle nie gehoorsaam is aan hierdie eenvoudige opdrag nie, gaan hulle dit baie gou aan hulle basse voel!

Dit was ‘n komiese prentjie wat Moses aanskou het, toe die ganse Israel gebukkend rondloop om mannavlokkies op te tel. Hy moes net keer om nie hardop uit te bars van die lag nie. Daardie aand, nadat nóg ‘n swerm kwartels die kamp binnegevlieg het, gaan slaap die Israeliete, almal trommeldik geëet. Dis ‘n tevrede kamp en Moses gesels met God en sê vir Hom dankie dat Hy so wonderlik aan hulle voorsien het.

Moses skrik vroeg die volgende oggend wakker van ‘n kreet uit sy buurman se tent. Die man is hoogs ontsteld: “Sies man - wie van julle was dit?” verskree hy sy vrou en kinders. As Moses uit sy tent loer, sien hy in die donker hoe die man uit sy tent peul, gevolg deur sy hele gesin. Hy swets oor iets wat verskriklik stink in die tent. “Ga! Dis vrot!” kom nog ‘n kreet uit ‘n ander rigting. Nou is die ganse laer op hol, en oral protesteer mense oor goed wat verskriklik vrot is.

Stadig kom Moses tot die besef: Hierdie Israeliete het nie God se opdrag uitgevoer nie! En nou sit hulle met die gemors - letterlik! Moses is woedend: “En dit nadat ek dit so duidelik vir hulle uitgespel het dat daar niks mag oorbly nie!”

Sien, wat daar gebeur het, is dat die Israeliete nie volkome op God vertrou het nie! Hulle het nie vertrou dat Hy die volgende dag weer sou voorsien nie. Hulle het opgegaar nét vir ingeval God dalk nie Sy Woord sou hou nie. En toe word die goed vrot - sommer érnstig vrot! Die stank het soos 'n swaar wolk gehang oor die hele kamp van Israel!

God hét egter Sy belofte gehou en toe die dag breek het die manna alreeds klaar daar gelê. Hierdie slag het hulle nét genoeg opgetel vir die dag. Dit was ‘n duur les!

God vra vandag steeds van jou en my as gelowiges vir gehoorsaamheid. Elkeen se opdrag oor gehoorsaamheid is dalk anders. Dalk is jou opdrag om vandag die boodskap van Jesus se verlossing oor te dra aan iemand wat saam met jou werk. Moet dan nie talm nie - doen wat die Here vra. En as jy dalk daarteen opsien en verskonings wil uitdink, dat jy miskien nie genoeg weet nie - wéét dan verseker dat Hy sál voorsien. Al wat Hy van jou en my vra is om gehoorsaam te wees - Hy sal die res doen! Ek het persoonlik al ‘n hele paar toetse in my lewe gedop oor gehoorsaamheid. Kom ons doen wat Hy vra......

Gebed:

Here, ek wil vanoggend kom bely dat my gehoorsaamheid aan U veel te wense oorlaat. Help my asseblief om te doen wat U vra!

Argiewe


Onlangse Dagstukkies

Die Ark is Terug
24 August, 2026
‘n Warm Patat
21 August, 2026
Die Ark is Gebuit!
20 August, 2026
Luister en Doen
19 August, 2026
Wanneer die Here Praat
18 August, 2026