Man deur die Dak!

6 August, 2021
Luister Na Hierdie Dagstukkie Man deur die Dak!

Lukas 5:17-26  

Oudio

Die nuus van die sukses van Jesus se bediening, Sy genesings, Sy besielende preke het soos ‘n veldbrand versprei. Dit was onvermydelik dat hierdie nuus ook die kerkleiers se ore sou bereik, en hulle was jaloers oor hierdie onbekende Leermeester. Vir baie jare moes hulle studeer, die wette oor en oor hoor van hulle leermeesters. Hulle moes die Skrifte bestudeer tot in die fynste detail, en dan na jare se harde werk kon hulle eers deel word van die elite Fariseërs. Die naam Fariseër beteken “Afgesonderde.” Die beweging het sy ontstaan gehad tydens die ballingskap. Dit was ‘n natuurlike stap dat hierdie geleerde manne juis hulleself kon opwerk om die kerkleiers te word. 

Die klomp geleerdes moes sékerlik onder mekaar gesels het oor hierdie nuwe onbekende “Profeet” wat skielik soveel opslae gemaak het. Hy was op g’n Bybelskool nie! Waar sou Hy skielik sy kennis vandaan kry? Deur die wandelgange van die tempel het daar sékerlik ‘n murmurering opgegaan: “Hierdie Man kan vir ons edele beweging ‘n baie groot bedreiging word as Hy nie gou gestop word nie! Ons sal onsself móét gaan vergewis van wat Hy alles kwytraak, voordat Hy dalk die volk op ‘n groot dwaalspoor lei.”

En so gebeur dit dan een mooi dag terwyl die skares rondom Jesus begin saamdrom waar Hy besig was in ‘n huis. Van oral oor het die Fariseërs en leermeesters gekom en die voorste gestoeltes ingeneem om mooi te kan sien wat hier gebeur. Die mense verdruk mekaar om tog net naby hierdie wonderlike Prediker te kan kom.

Intussen is daar iewers in Kapernaum ‘n totaal ander drama besig om hom af te speel. “Daardie Jesus is in die dorp”, vertel ‘n man vir sy vriende, “en julle moet my asseblief help om vandag by Hom uit te kom. Dis my enigste kans!” Hy is verlam, en die lewe het vir hom ondraaglik geword. Die arme man is totaal afhanklik van ander se gunste. 

“Toemaar, ons sal sorg dat jy daar kom.” Sy vriende is besorg oor hom. Op ‘n draagbaar dra hulle hom in die stofstrate af in die rigting waarheen hulle die skares mense sien stroom. Hulle is nog ver van die huis af, dan sien hulle al dat dit ‘n hopelose situasie sal wees, want die mense is rondom die huis gekoek soos ‘n swerm bye. “Moenie wôrrie nie,” troos hulle hom as hy in trane wil uitbars oor die onmoontlike situasie, “Ons sal ‘n plan maak!” 

Hulle sit hom neer en hulle koukus: “Kyk, as ons hom net op die dak kan kry, dan kry ons hom van bo af in.” 

Almal stem saam dat dit ‘n briljante voorstel is. “Ek gaan kry gou toue, en dan laat sak ons sy draagbaar deur die dak!”

Jesus word wreed onderbreek in die middel van Sy preek, deur ‘n rumoer op die dak. Almal kyk gesteurd op as iemand die dakteëls begin oopbreek. “Wat gaan aan daarbo?”, wil een ou nors Fariseër vererg weet. En dan hou almal asem op as hulle toekyk hoedat iemand wankelrig op ‘n draagbaar aan vier toue deur die opening afsak. Mense rek verbaas hulle nekke om te sien. Dan herken hulle die man op die draagbaar as die arme verlamde van die onderdorp. 

Wanneer Jesus opkyk, sien hy vier beangste gesigte deur die gat loer, en Hy bewonder hulle geloof en vindingrykheid.  Hy kyk vol deernis na die man op die draagbaar. “Mens, jou sondes is jou vergewe.”

Die arme Fariseërs val byna van hulle stoele af oor hierdie “Godslasterlike” uitspraak. Hulle het geweet dat daar iewers ‘n swak plek in sy mondering moet wees. “G’n mens durf homself die reg tot sondevergifnis toeëien nie! Alleen God kan mos sondes vergewe!” redeneer hulle onder mekaar.

Maar Jesus het van die begin af regdeur hierdie skynheilige klomp gesien. Natuurlik het Hy geweet dat hulle Hom as ‘n bedreiging vir hulle eie reputasie beskou. Hy het ook geweet dat hierdie maar net die eerste van baie konfrontasies met hulle sou wees, en dat dit uiteindelik sou lei tot Sy teregstelling!

Slegs ‘n paar woorde van Jesus genees die man voor almal se oë, en hy staan op asof hy sy lewe lank nooit iets makeer het nie. Al singende en jubelende dans hy daar uit, draagbaar in die hand terwyl die skares hulle koppe skud in ongeloof. Maar nie almal is beïndruk nie. Die Fariseërs het die eerste rondte slég tweede gekom......

Die genesing van die verlamde is ‘n wonderlike verhaal waar ons nie alleen die geloof en begeerte van die man sien om by Jesus uit te kom nie, maar ook sy vriende se geloof. Hulle het dit nie maar net by geloof gelos nie, maar dit omskep in aksie deur uit hulle pad te gaan om hom by Jesus te kry. Dit is ‘n verhaal van naasteliefde sonder grense. Dit is ‘n voorbeeld vir elkeen van ons! Die verlamde man is beloon met iets baie groter as waarvoor hy gevra het! Nie alleen het hy genesing gekry nie, maar vergifnis. Jesus herstel die totale mens en bring hom so in harmonie met God.  Het jy al God se vergifnis ontvang?

Gebed:

Here, ek loof en prys U wonderlike Naam, want U is groot en goed en almagtig. Dankie dat U my ook vergifnis geskenk het sonder dat ek dit enigsins verdien het.

Argiewe


Onlangse Dagstukkies

Voorberei vir die Dood
26 October, 2026
Voetewas
23 October, 2026
Salf vir Jesus se Voete
22 October, 2026
Jerusalem, Jerusalem!
21 October, 2026
Die Groot Gebod
20 October, 2026