Man deur die Dak!

26 February, 2025
Luister Na Hierdie Dagstukkie Man deur die Dak!

Lukas 5:17-26

VIDEO | OUDIO

Simon glimlag in sy baard - daardie dag toe hy so half teësinnig besluit het om hierdie Rabbi te volg, was beslis die regte besluit. Kyk net hoe stroom die mense elke dag na Jesus toe om Sy besielende woorde te hoor. En dan maak Hy boonop nog talle siekes gesond ook!

Iets wat hom egter grief, is daardie Fariseërs wat hulle so knaend op 'n afstand volg. Hulle is beslis nie daar om saam te luister nie! Die wet is al waaraan hulle dink! En hulle dink mos dat hulle die elite is en beter is as gewone mense! Die naam Fariseër beteken hoeka mos “Afgesonderde.” Hulle beweging het sy ontstaan gehad tydens die ballingskap. Hierdie geleerdes het hulleself fanaties opgewerk om die kerkleiers te word.

Simon het heel toevallig eendag gehoor hoedat 'n paar van die manne staan en mor oor hierdie nuwe onbekende “Profeet” wat skielik soveel opslae gemaak het. "Hy was op g’n Bybelskool nie! Waar sou Hy skielik sy kennis vandaan kry? Hierdie Man kan vir ons edele beweging ‘n baie groot bedreiging word as Hy nie gou gestop word nie! Ons sal onsself móét gaan vergewis van wat Hy alles kwytraak, voordat Hy dalk die volk op ‘n groot dwaalspoor lei.”

Simon en sy maters is vandag besig met "skarebeheer" in 'n huis waar hulle Meester besig is om siekes gesond te maak en mense te leer. Dan verdwyn die innemende glimlag skielik van Simon se gesig af as hy sien hoedat die bondel mense plek maak vir iemand om in te kom. 'n Hele groep Fariseërs druk hulle pad oop deur die skare en kom sit op die voorste gestoeltes. Hulle lyk nou nie juis vriendelik nie! Die arme drommels wat daar gesit het, moes eenvoudig hulle stoele opgee!

Intussen is daar iewers in Kapernaum ‘n totaal ander drama besig om hom af te speel. “Daardie Jesus is in die dorp”, vertel ‘n man vir sy vriende, “en julle moet my asseblief help om vandag by Hom uit te kom. Dis my enigste kans!” Hy is verlam, en die lewe het vir hom ondraaglik geword. Die arme man is totaal afhanklik van ander se gunste.

“Toemaar ou maat, ons sal sorg dat jy daar kom.” Sy vriende is besorg oor hom. Op ‘n draagbaar dra hulle hom in die stofstrate af in die rigting waarheen hulle die mense sien stroom. Hulle is nog ver van die huis af, dan sien hulle al dat dit ‘n hopelose situasie sal wees, want die mense is rondom die huis gekoek soos ‘n swerm bye. “Moenie wôrrie nie,” troos hulle hom as hy in trane wil uitbars oor die onmoontlike situasie, “Ons sál ‘n plan maak!”

Hulle sit hom neer en hulle koukus: “Kyk, as ons hom net op die dak kan kry, dan kry ons hom van bo af in.”

Almal stem saam dat dit ‘n briljante voorstel is. “Ek gaan kry gou toue, en dan laat sak ons sy draagbaar deur die dak!”

Simon kyk gesteurd op as hier skielik 'n lawaai op die dak is. "Wat maak hulle daar bo?" wonder hy vererg.

Skielik is Jesus se preek onderbreek en almal kyk gesteurd op as iemand die dakteëls begin oopbreek. “Wat gaan aan daarbo?”, brom een ou nors Fariseër vererg. Simon se mond hang onbeskaamd oop as hy toekyk hoedat iemand wankelrig op ‘n draagbaar aan vier toue deur die opening afsak. Mense rek verbaas hulle nekke om te kan sien. Dan herken Simon die man op die draagbaar - hy is mos die arme verlamde van die onderdorp. 

Wanneer Simon opkyk bars hy uit van die lag vir die vier beangste gesigte wat deur die gat loer. "Dis nou vindingrykheid!" Hy sien hoedat Jesus vol deernis na die man op die draagbaar kyk: “Mens, jou sondes is jou vergewe.”

Die arme Fariseërs val byna van hulle stoele af oor hierdie “Godslasterlike” uitspraak. Simon hoor bo die rumoer hoedat een van die nors manne brom: "Ek het geweet dat daar iewers ‘n swak plek in sy mondering moet wees. G’n mens durf homself die reg tot sondevergifnis toeëien nie! Alleen God kan mos sondes vergewe!”

Simon wil hom bloedig vir die kêrel vererg, maar dan besef hy da sy Meester waarskynlik reg van die begin af regdeur hierdie skynheilige klomp gesien het. Natuurlik weet Hy dat hulle Hom as ‘n bedreiging vir hulle eie reputasie beskou!

Dan hoor Simon hoedat die Meester vir die man sê: "Ek sê vir jou, staan op, tel jou slaapmat op en gaan na jou huis."

Slegs ‘n paar woorde van Jesus genees die man voor almal se oë, en hy staan op asof hy sy lewe lank nooit iets makeer het nie. Al singende en jubelende dans hy daar uit, draagbaar in die hand terwyl die skares hulle koppe skud in ongeloof. Simon lag in sy baard: "Hierdie klomp Fariseërs het hierdie rondte slég tweede gekom!"

Die genesing van die verlamde is ‘n wonderlike verhaal waar ons nie alleen die geloof en begeerte van die man sien om by Jesus uit te kom nie, maar ook sy vriende se geloof. Hulle het dit nie maar net by geloof gelos nie, maar dit omskep in aksie deur uit hulle pad te gaan om hom by Jesus te kry. Dit is ‘n verhaal van naasteliefde sonder grense. Dit is ‘n voorbeeld vir elkeen van ons! Die verlamde man is beloon met iets baie groter as waarvoor hy gevra het! Nie alleen het hy genesing gekry nie, maar vergifnis. Jesus herstel die totale mens en bring hom so in harmonie met God. Het jy al God se vergifnis ontvang?

Gebed:

Here, ek loof en prys U wonderlike Naam, want U is groot en goed en almagtig. Dankie dat U my ook vergifnis geskenk het sonder dat ek dit enigsins verdien het!

Argiewe


Onlangse Dagstukkies

‘n Warm Patat
21 August, 2026
Die Ark is Gebuit!
20 August, 2026
Luister en Doen
19 August, 2026
Wanneer die Here Praat
18 August, 2026
Om Kinders Groot te Maak
17 August, 2026