Magspel

12 January, 2024
Luister Na Hierdie Dagstukkie Magspel

2 Samuel 3

VIDEO | OUDIO

Mens staan verstom wanneer jy sien deur watter metodes God soms dinge laat gebeur. Hy maak dikwels selfs gebruik van mense se swakhede of magsug om Sy heilige doel te bereik. En dis presies wat hier gebeur het om die aanspraak op die troon vir Dawid te verstewig.

Abner was Is-Boset se regterhand-man. As bevelvoerder van sy leër was Abner in ‘n sekere mate nog magtiger as die koning sélf. Hý was immers verantwoordelik om die koning op die troon te kry. Nou was Abner se oog egter sélf op die troon. Hy het gedink dat as hy een van Saul se vroue vir homself sou neem, dan was hy so ‘n bietjie nader aan die troon. Is-Boset het egter van sy set te hore gekom en Abner uitgetrap daaroor. Abner het besluit dat hierdie koninkie nie vir hóm sou voorskryf wat om te doen nie! Hy het hom gruwelik vir Is-Boset vererg, sy goedjies gevat en geloop! Hy sou nie langer Israel se leër aanvoer nie!

Maar wat is ‘n generaal dan nou sonder ‘n leër? Abner besluit dat as hy nie vir Is-Boset kon veg nie, dan sou hy maar vir Dawid gaan veg. Hy voeg die daad by die woord en stuur boodskappers na Dawid om met hom te gaan onderhandel. Dawid het hierin dadelik ook ‘n geleentheid vir homself gesien en laat weet vir Abner dat hy maar kon kom. Daar was egter ‘n voorwaarde. ‘n Paar jaar tevore het Saul Dawid se pragtige vrou, Mikal vir iemand anders gegee. Dawid se hart het steeds met ‘n punt na haar gestaan en Abner moes haar saambring as hy by Dawid wou aansluit. Abner het dadelik ingestem!

Intussen besluit Dawid dat hy liewer ‘n ander weg wou volg. Hy stuur óók boodskappers na Is-Boset en verwittig hom dat hy sy vrou terug wou hê - die vrou wat sy skoonpa van hom gesteel het. Dan word daar vir ons ‘n patetiese prentjie geskilder van Mikal wat deur Abner weggelei word terwyl haar man huilend agterna loop. Toe Abner hom soos ‘n hond wegjaag, het die arme man druipstert omgedraai.

Intussen besluit Abner dat hy eers in Israel wou voorbrand maak vir Dawid. Hy wou die mense oorreed om Dawid te aanvaar as koning. Dit sou beslis nie moeilik wees nie want baie mense was Dawid alreeds goedgesind. Met die Benjaminiete was dit egter ‘n bietjie moeiliker, want hulle was verwant aan Saul, maar selfs met húlle slaag Abner uiteindelik om goeie voorspraak te doen en só in Dawid se goeie boekies te kom.

Dan gebeur daar egter iets wat gróót reperkussies gehad het. Abner het Dawid ontmoet en hom meegedeel dat hy hard sou werk om Israel te oorreed om Dawid as Koning te kroon. Joab was nie bewus van die ooreenkoms tussen Dawid en Abner nie. Toe hy dus van Abner se besoek te hore kom, was hy woedend dat die vyand se generaal Dawid kom besoek het. Sonder Dawid se medewete gaan hy agter Abner aan en vermoor hom - sy broer se dood het nog vars in sy geheue gesit en sy wraak was soet.

Toe Dawid hoor van Abner se dood, het hy daaroor getreur. Hy wou seker maak dat almal kon sien hoe diep die tragedie hom getref het, en hy het ook seker gemaak dat almal geweet het dat hy niks met Abner se dood te doene gehad het nie.

Wat was hier besig om te gebeur? Dit het alles oor ‘n magstryd gegaan - mense se honger na meer en meer mag. Ons het hulle regdeur die geskiedenis gesien! Hitler se magshonger het gelei tot miljoene mense se dood. Die intriges, verraad en moord in die heerskappy van die Caesars is klassiek - Antonius, Cleopatra, Octavianus - alles vir mag. Nie eers te praat van die woedende magstryd in ons eie mooi land tot die aanloop van vanjaar se verkiesing nie!

Abner wou vir homself ‘n magsposisie opbou. Toe hy dit nie met Is-Boset kon regkry nie, begin hy baie subtiel te werk aan Dawid. Was dit dalk ‘n poging om homself op te werk tot ‘n posisie waar hy die leër by Joab kan oorneem? En Dawid? Wat was sy motief werklik om Mikal terug te kry? Was hy waarlik nog só lief vir haar? En dit nadat hy alreeds ‘n string ander vrouens gehad het? Of was dit ook maar net ‘n poging om sy eie posisie te verbeter om Saul se koningskap in te palm? Mikal wás immers Saul se dogter! En Joab? Was daardie moord slegs weerwraak omdat Abner sy broer se dood veroorsaak het? Of was dit dalk óók om sy magsposisie te verhoog tot die enigste generaal in Judea sowel as Israel?

Hoe dit ookal sy - deur al hierdie dinge sien ons hoedat God dit bewerkstellig het dat die weerstand in Israel vinnig besig was om te verbrokkel en hoedat mense al meer begin het om Dawid te aanvaar as hulle toekomstige koning. Is-Boset se mag was baie vinnig besig om te verbrokkel.

Moenie bang wees wanneer die magte mekaar aanvat nie, soos ons selfs vandag in ons eie land sien gebeur. Ten spyte van mense se magspeletjies en al hulle geknoeiery, kan God op die ou end steeds uit al die sleg iets goed laat voortvloei. Ons het dit gesien met die gebeure tydens Jesus se kruisiging, waar die bose magte absoluut in God se hand gewerk het. Hy was elke oomblik in volle beheer! Hy is steeds vandag nét so in beheer!

Gebed:

Dankie Here, dat ek nie hoef te vrees nie, al lyk dit asof alles verkeerd loop. U is in beheer!

Argiewe


Onlangse Dagstukkies

Om Op Water Te Loop
12 October, 2026
Kos vir ‘n Reuse Skare
9 October, 2026
Vervolging
8 October, 2026
Persecution
8 October, 2026
Sent Out
7 October, 2026