Maar Nou.....

28 February, 2023
Luister Na Hierdie Dagstukkie Maar Nou.....

Romeine 3:21-31

VIDEO * OUDIO

Vir die volgende week kyk ons wat Paulus aan die Romeine geskryf het oor genade. Ons begin met die bekende Romeine 3:23, waar Paulus sê dat almal gesondig het maar dat God dié wat glo uit genade vrygespreek het. Maar kom ons begin voor:

Maar nou ....” - so begin Paulus hierdie perikoop. In die voorafgaande gedeelte skryf hy van sonde, ellende en verlorenheid: “Niemand is regverdig nie...... die gif van adders is op hulle lippe..... verwoesting en ellende is op hulle paaie..... geen vrees vir God nie…..” Hierdie woorde: “Maar nou” bring ons by die tweede gedeelte van sy brief, en dit lui ‘n totale nuwe bedeling vir die ganse skepping in, naamlik ‘n NUWE TYD, en daardie tyd is NOU!

Dink nou net: waar sou ek en jy vandag gewees het as God se genade, God se “Maar nou” nie aangebreek het nie? Ons sou dalk soos die Jode van ouds steeds met die verskriklikste wette moes worstel om vir ons ‘n plekkie oop te werk na die saligheid. MAAR NOU het God ingegryp in hierdie hopelose situasie. Hy het die “Maar nou” gegee sodat ek en jy, en elke mens op aarde, ook vandag deel kan hê aan God se onbeskryflike genade.

Die Skrifgedeelte waarna ons vandag gaan kyk, is seker die deel wat die meeste gebruik word deur “sielesoekers” (dis nou mense wat ander na Jesus lei.) Romeine 3:23-24 is die evangelie in ‘n neutedop, en daardie enkele woordjies het al gelei tot redding van talle mense. Maar hierdie verkwikkende fonteintjie in die Bybel kom eintlik eers tot sy volle reg as jy die voorafgaande deel oor sonde deurgeworstel het!

In die vorige hoofstukke word jy al meer in ‘n hoek gedryf, wanneer Paulus met fyn berekende argumente indringende vrae oor jou vra, vrae wat jou lewe tot op die been oopvlek. Die verskriklike gevolge van ‘n lewe sonder God word woord-vir-woord uitgespel, totdat jy moedeloos uitroep: “Wee my! Ek is verlore!

Dan kom Paulus met die onbegryplike, allesoorheersende nuus van God se vryspraak. Maar voordat ons dalk dink dat God sommer net al die sonde vergeef en daarvan vergeet, moet ons baie duidelik besef dat God absoluut heilig is, en dat sonde vir Hom ‘n verskriklike ding is wat nie ongestraf durf bly nie. GOD STRAF SONDE! Die ongelooflike nuus is egter dat God se vryspraak behels dat sy onskuldige Seun, Jesus Christus, belaai is met al die straf vir ons sondes. My skuld, en joune is inderdaad betaal .... deur Jesus!

Hier vind nou eintlik ‘n wonderlike “ruiltransaksie” plaas. Jesus neem jou sonde weg, en jy ontvang Sy onskuld. Jesus sterf, en in ruil daarvoor leef jy. Jesus word verneder terwyl jy verhoog word om in God se heerlikheid te deel. Jesus word skuldig verklaar, en jy is vry. Maar nie sommer net vry nie, HÉÉRLIK VRY!

Maar hoe kry jy deel aan hierdie vryspraak? Slegs een enkele dingetjie is nodig: GLO. Paulus herhaal dit telkens in hierdie hoofstuk, verse 22, 26, 28 en 30. As jy glo in Jesus kry jy daardie verruklike vryspraak!

Baie mense het my al hierdie tergende vraag gevra: “Maar hoe kan ek werklik seker wees van my verlossing? Het God my óóit werklik aangeneem?” As dit vanoggend jou vraag is - gaan lees hierdie perikoop ‘n paar keer deur totdat die volle waarheid daarvan in jou hart en verstand ingesink het.

God vra alleen van jou ‘n eenvoudige, kinderlike geloof. Dis al! Dan sal jy seker ook sê: “Maar dit kan tog sékerlik nie genoeg wees nie? Ek moet tog ook die wet onderhou!”

Paulus vryf dit deeglik in wanneer hy die volgende paar versies skryf. Die onderhouding van die wet kan vir jou nooit, óóit saligheid gee nie, alleen geloof! Goeie werke en die onderhouding van die wet, doen jy om vir God dankie te sê vir die vryspraak wat jy alrééds gekry het. Om die wet te onderhou as deel van jou poging om vryspraak te verkry, is soos wanneer iemand oorboord val in die rowwe see, en hy skree: “Help, ek verdrink!” Iemand gooi dan vir hom ‘n reddingsgordel, maar dan skree hy: “Toemaar, ek sal self regkom dankie!”

Wanneer jy die wonder van God se vryspraak beleef het - maak dit jou dan beter as die ongereddes daar buite? Dan is jy mos ‘n trappie hoër, en nader aan God, nie waar nie?

Inderdaad nee! Niemand het iets uit homself waarop hy kan roem nie. “Daardie ongelowiges”, op wie ons as gereddes so graag wil neersien, is maar net mense wat nog op die waglys is vir God se vryspraak. Onthou: ek en jy was ook op daardie einste waglys! Daardie mense, maak nie saak hoe sleg hulle is nie, het my gebed nodig, eerder as my hooghartige verwerping of veragting. Sien elke ongelowige as ‘n potensiële gelowige, iemand wat nog nie die gawe van geloof ontdek het nie.

Gebed:

Dankie Here, dat U ook mý gered het! Laat my asseblief waarlik omgee vir elkeen wat nog nie glo nie, en gee my die ywer, wysheid en krag om hierdie wonderlike boodskap van die Evangelie uit te basuin aan elkeen wat kan hoor!

Argiewe


Onlangse Dagstukkies

Brief aan Titus
24 July, 2026
In die Dodesel
22 July, 2026