Lydingsvreugde

30 November, 2022
Luister Na Hierdie Dagstukkie Lydingsvreugde

1 Petrus 4:1-6

VIDEO * OUDIO

Ds. Hennie du Toit was ‘n emiritus-predikant wat destyds hier in Ballito kom aftree het. Uiteindelik kon hy hier sy stokperdjie van houtwerk kom uitleef, en darem so af en toe nog ‘n ou geldjie verdien as hy op ‘n Sondag ‘n preekbeurt kon kry. Jare en jare se preke het aan hom ‘n oratoriese vaardigheid besorg wat maak dat jy net eenvoudig nie anders kon as om te luister na wat hy sê nie.

Dáárdie Sondag het hy egter ‘n uiters besónderse preek gelewer, en ek het op die punt van my stoel gesit en hang aan sy lippe. Elke woord het my hart getref, en die ganse gemeente was diep aangeraak. Ná die diens smeer ek hom heuning om die mond oor sy mooi preek, maar nét daar knyp ds. Hennie my tjank skoon af! Hy is bitter ongelukkig oor my mooi woorde. “Weet jy Louis”, was sy ontstelde opmerking, “as iemand die dag vir jou vertel hoe mooi jou preek was, dan moet jy begin bekommerd raak, want dan is daar êrens gróót fout!”

Ek was skoon afgehaal. Nou wat het ek dan verkeerd gesê? Eers later het ek besef dat ‘n “mooi” preek gewoonlik die een is wat jou gewete streel. Dr. Peet Botha het soms in ons gemeente gepreek, en sommige mense het reguit gesê dat hulle nie kerk toe sou kom wanneer hy die dag preek nie, want hy het dinge gesê wat hulle nie graag wou hoor nie. Hy het sonde by die naam genoem, en hulle wou liewer van liefde en genade hoor! Dit het hom egter min geskeel as mense hom verwerp het, want ek dink dat hy Petrus se woorde baie goed ter harte geneem het!

Petrus sê dat, omdat Jesus só onverdiend moes ly, is lyding vir die persoon wat ernstig is oor sy geloof ook onafwendbaar. Moenie dat lyding as gevolg van jou geloof jou onkant vang en moedeloos maak of in vertwyfeling laat kom nie. Dit moet eerder as ‘n bewys dien dat jy met die sonde afgereken het. Dit is immers waaroor hierdie paragraaf in Petrus se brief gaan. As jy eens ‘n roekelose lewe geleef het en tot bekering gekom het, moet jy verwag dat jou eertydse vriende jou gaan verlaat. Wees rustig daaroor, want hulle sal aan God moet rekenskap gee!

Die tipe lyding waaroor Petrus praat is dít wat jy moet verduur omdat jy aanhou om te doen wat God van jou vra. Dit is nie maklik nie, want van nature probeer ‘n mens enige vorm van lyding vermy, maar die dag as jy ‘n navolger van Jesus word, moet jy bereid wees om ook volgens God se wil te leef, al beteken dit selfs dat jy ander mense se spot of verwerping moet verduur. Wanneer jy dít reggekry het, het jy eers werklik begin om met die sonde in jou lewe af te reken.

Jy moet besef dat daar met jou wedergeboorte ‘n totale nuwe regering in jou lewe gekom het. Eers was jy regeer deur jou eie menslike begeertes, aangevuur deur die duiwel, maar nou het God die regering oorgeneem. Volgens Romeine 6:15-20 staan jy nou in ‘n nuwe diens met ‘n nuwe dienskontrak en ‘n nuwe Eienaar. Jy gaan dus nie meer saam met daardie stroom van losbandigheid waarvan in 1 Pet. 4:4 gepraat word nie. Jou lewe word nie meer oorheers deur uitspattigheid, begeerte, dronkenskap, brassery ens. (4:3) nie, en jou eertydse vriende vind dit baie vreemd dat hierdie soort van goed nie meer vir jou belangrik is nie.

En nou verlaat hulle jou!

Jy is nou nie meer bereid om mee te doen aan hulle sondige aktiwiteite nie, dus het jy (volgens hulle) ‘n “godsdiens-dweper” geword. Jy moet besef dat jou omgekeerde lewe ‘n aanklag is teen die dinge waaraan hulle hulleself skuldig maak. Dalk laat dit hulle ongemaklik of skuldig voel en dit is waarskynlik een van die redes vir hulle giftige aanvalle op jou.

Moenie dat hulle gedrag jou van stryk bring nie! Byt vas! Hulle rekenskap voor God sal kom. As jy vir ‘n oomblik terugdink aan die gedeeltes wat ons in Openbaring gelees het oor die oordeel wat wag op diegene wat hardkoppig bly vasklou aan ‘n goddelose lewe, sal jy onthou dat dit afgryslik is, en dat jy dit vir niemand toewens nie. Onthou terselfdertyd ook dat die oordeel nie joune en myne is nie, maar God s’n. Ons moet onsself dus nie probeer vergeld nie, maar liewer hulle bespotting doodlééf! Sodoende word ons ambassadeurs vir God. Wie weet, nét miskien is dit jou nuwe lewenswyse wat daardie einste spotter oorwen vir Jesus!

Ek het al baie preke in my lewe gehoor, selfs mense wat op straathoeke staan en preek vir enigeen wat daar mag verbyloop en dalk tog net ‘n stukkie van die wonderlike Evangelie hoor. Relatief min preke het egter al mense tot bekering gelei. Die beste preek óóit, is die stille preek van iemand wat leef volgens die wil van God ten spyte van teenkanting. Jy hoef niks te sê nie, maar jou dade en jou lewensvreugde verklaar dat God leef en dat Hy Meester van jou lewe is. Baie mense smag na die stralende lewensvreugde en vrede wat hulle in jou lewe sien, en kry ‘n honger na só ‘n lewe. As jy daardie honger in één persoon se lewe aangeblaas het, dan het jy reeds die doel in jou lewe bereik.

Gebed:

Here, maak my asseblief vandag ‘n lewende preek vir U!

Argiewe


Onlangse Dagstukkies

Die Ark is Terug
24 August, 2026
‘n Warm Patat
21 August, 2026
Die Ark is Gebuit!
20 August, 2026
Luister en Doen
19 August, 2026
Wanneer die Here Praat
18 August, 2026