Luuksheid en Armoede

20 November, 2020
Luister Na Hierdie Dagstukkie Luuksheid en Armoede

Amos 6:1-7

Video - Oudio

Israel het ‘n tydperk van groot voorspoed beleef, en die volk (dis nou die rykes) het in luukse weelde geleef. In die hoofstad van Juda, Sion,  was dit rustig, niemand het hulle gepla nie. En in die hoofstad van Israel, Samaria, het almal veilig gevoel. Dit was ‘n baie mooi tyd vir diegene wat dit kon bekostig. Vir die rykes was net die beste goed genoeg, selfs ivoor inleg in hulle beddens. Dit spreek van mense wat soveel geld gehad het dat hulle nie geweet het wat om daarmee te doen nie. Lui-verby het hulle uitgestrek gelê op hulle luukse, gemaklike rusbanke, terwyl hulle bedien is van kop tot tone deur hulle slawe en diensknegte.

Wie werk dan nou soos volk? As jou slawe vir jou alles kon doen, dan het jy mos die lewe geniet! Nét die beste kos is voorgesit, die sagste, sappigste snitte van lam en kalfsvleis, en dit terwyl die orkes die nuutste treffers speel op harpe en ander rustige musiekinstrumente. Die lug is gevul met die heerlike, subtiele geure van eksotiese, peperduur reukolies wat met groot koste ingevoer is uit die Ooste. Die kanne wyn is net van die hoogste gehalte, en daarvan is ‘n oorvloed in die offerkomme. 

Selfs op die politieke front gaan dit rustig en vreedsaam, en al die onrus is buite Israel se grense. Noord van die land is die Siriese stede, Kalne en Hamat nou wel deur die Assiriese Ryk verower, maar steeds is dit mos Sirië en nie Israel nie. En die buurland, Juda het die Filistynse stad Gat aangeval en ingeneem. Dit sal die Filistyne leer! Maar dit is alles daar ver, buite die grense van Israel! Hier plaaslik leef ons lekker! Hier heers voorspoed!

Ellende wag vir dié wat so rustig in Sion woon, dié wat so veilig voel op Samariaberg”, waarsku Amos. Die woordjie “Ellende” is ‘n uitroep van smart wanneer jou geliefde sterf. Daar wag ‘n dag op Israel wat gehul gaan wees in die grootste droefheid en smart, ‘n swart dag waarin alles verlore sal wees, ‘n dag waar selfs die magtige koningshuis wat soveel stabiliteit en sekuriteit aan die land verleen het, nutteloos sal neerval in die stof.

Hierdie profesie word gerig aan al die vername mense, dié wat op hulle gemaklike rusbanke uitgestrek lê om bedien te word. Is hulle werklik so verskriklik belangrik as wat hulle probeer voorgee? Amos maak dit baie duidelik dat daar nie ‘n verskil is tussen hulle en die heidense stede wat so wreed in die stof gebyt het nie. Hulle hele lewenshouding en leefstyl van gemaksug, arrogansie, selfversekerdheid en selfvergenoegdheid weerspieël absoluut niks van hulle uitverkiesing as die volk van God nie. Hulle moet ook gladnie te gerus wees nie, want die heidense stede Kalne, Hamat en Gat, wat oorrompel is deur die vyand, het ‘n baie groter grondgebied gehad as Sion en Samaria. En wat het van hulle geword? Is die Joodse stede dan soveel beter?

Die rykes van Israel het geleef asof daar nooit iets met hulle sou gebeur nie, asof die oordeel van God hulle nooit sou tref nie. Hulle is mos die uitverkore volk! Gebaai in die weelderige geur van reukolie wat hulle ‘n oneindige gevoel van genot gegee het, het hulle in ‘n salige dwaasheid voortgeleef.

Leef ons nie dikwels ook maar in daardie salige dwaasheid nie? Amos is tydloos, en so byna drieduisend jaar later leef ons nog steeds voort in dieselfde waan van valse geluksaligheid. Ons hou ons blind vir die onreg, armoede en ellende wat ons omring. Ons verlustig ons in weelde, luuksheid en vermaak. Ons bou reuse sportstadions, luukse geboue, indrukwekkende lughawens, en ons koop vir ons ultra-duur duikbote en vegvliegtuie, en dit terwyl daar miljoene in ons land is wat nie kos het om te eet nie. Ons bou vir ons paleise wat miljoene kos, terwyl daar talle mense is wat ‘n skuiling aanmekaar moet flans van ‘n paar geroeste sinkplate vol gate, waardeur die reën en wind hulle teister. Ons sit in sagte leerstoele in teaters en kyk die nuutste 3D rolprentwonders, en eet eksotiese disse in duur restaurante, terwyl miljoene daar buite wonder of hulle die volgende dag ‘n broodkorsie sal hê om te eet.

Ek dink nie Amos se bedoeling is dat ons nou skielik alles moet opgee en ons mooi klere verruil vir goiingsakke nie. Ons moet egter wakker skrik en ons oë oopmaak. Ons moet in die eerste plek die tekens van die tye raaksien, die natuur wat vertel dat ons op ‘n steil afdraendepad is, en die dinge wat gebeur wat wys dat Jesus se wederkoms baie naby is. Maar ons moet ook die nood rondom ons begin raaksien, en nie maar net sê: “foeitog!” nie, maar van die oorvloed wat ons het gebruik om ander in nood te help. Kom ons offer ‘n bietjie van ons eie gemak op om te help om die verskriklike ellende waarin sommige mense leef te verlig - om ‘n glimlag op iemand in nood se gesig te plaas. Kom ons leef liefde!

Gebed:

Here, maak asseblief my oë oop vir die nood daar buite; gee vir my ‘n vrygewige hart en ‘n oop hand.

Argiewe


Onlangse Dagstukkies

Die Ark is Terug
24 August, 2026
‘n Warm Patat
21 August, 2026
Die Ark is Gebuit!
20 August, 2026
Luister en Doen
19 August, 2026
Wanneer die Here Praat
18 August, 2026