2 Samuel 16:15-17:29
Dawid is in ‘n onbenydenswaardige situasie. Hy is ‘n vlugteling op pad na die woestyn om te gaan skuiling soek. Sy seun Absalom is besig met ‘n opmars teen Jerusalem terwyl Mefiboset homself volgens berigte tot koning gesalf het oor Israel. Intussen het Simeï vir Dawid uitgevloek vir alles wat sleg is! Kaalvoet en huilend vlug Dawid oor die Jordaanrivier die woestyn in. ‘n Droewige prentjie inderdaad!
Intussen kom Absalom in Jerusalem aan. Hy tref alles verlate, buiten die klompie byvrouens van Dawid wat die paleis oppas. En dan is daar Gusai, Dawid se raadgewer-vriend. Wanneer Absalom die paleis binnestap, word hy oorvriendelik deur Gusai begroet: “Lank lewe die koning! Lank lewe die koning!” Absalom is dadelik baie skepties oor hierdie skielike vriendelikheid, maar Gusai verseker hom dat hy by hom sal staan, want hy is mos nou die nuwe koning!
Absalom vra raad van Gusai en Agitofel oor wat hom nou te doen staan. Agitofel se raad is dat Absalom ‘n tent op die paleis dak opslaan waar almal hom kan sien. Dan moet hy daar saam met sy pa se byvroue slaap sodat almal kan weet dat hy nou die koningskap oorgeneem het - genoeg om ‘n mens te laat gril!
Later word die twee se raad weer gevra en Agitofel beveel aan dat Dawid dadelik aangeval word. Hy kamp glo iewers langs die Jordaan en hy is baie kwesbaar. Gusai skrik as hy hierdie raad hoor want hy weet dat Agitofel reg is. Daarom sê hy vir Absalom dat dit dwaas sou wees, want almal weet mos hoe ‘n slinkse krygsman Dawid is. Boonop is daardie privaat leër van Dawid baie bitter oor hulle moes vlug! Hulle sou beslis ‘n lokval opstel om Absalom se magte te uitoorlê. Dit sou darem nie ‘n goeie beeld van Absalom se vernuf wees as sy magte hier verneder word nie! Nee, Absalom moet tyd gebruik en die ganse Israel se manne oproep om te kom veg.
Absalom val vir Gusai se raad en sodoende koop Gusai vir sy vriend Dawid kosbare tyd. Later stuur hy ‘n boodskap na Dawid om hom in te lig dat Absalom beplan om hom agterna te sit en dat hy op sy hoede moet wees! Dit verg ‘n hele netwerk van priesters en slavinne en geheime boodskappers om die berig deur te kry, en so byna-byna ly dit nog skipbreuk wanneer ‘n jong seun per ongeluk van twee boodskappers te hore kom en vir Absalom gaan vertel. ‘n Slim vrou steek die twee boodskappers in ‘n put weg. Sy span ‘n doek daaroor en gooi graan op die doek sodat niemand sou agterkom dat daar twee spioene in is nie. En toe Absalom se soldate daar aankom om die twee te soek, vertel sy hulle dat die manne hier verby is na die rivier se kant toe.
Dit was naelskraap, maar toe die soldate weg is, glip die twee uit en gaan gee die boodskap aan Dawid. Hy begin inderhaas met sy hele gevolg die woestyn invlug na veiligheid.
Agitofel is baie verbitterd oor sy raad aan Absalom van die hand gewys is! Hy was inderdaad nog ál die jare die koning se raadgewer en nou luister niemand meer na sy raad nie. Agitofel weet dat sy raad aan Absalom strategies baie goed was. Al wat hulle moes doen, was om Dawid dood te maak, dan sou almal outomaties oorgegee het. Nou het Absalom die verkeerde raad gekry en Absalom gaan beslis nie hierdie geveg teen Dawid wen nie! Dit sal dan ook Agitofel se einde beteken want hy het Dawid verraai en hy sal swaar gestraf word. Nou is daar net een uitweg - hy saal sy donkie op, ry na sy tuisdorp en pleeg selfdood deur homself op te hang.
Intussen word Dawid gulhartig ontvang deur die Ammoniete. Hulle kry kos en slaapplek en word goed versorg. Nou het Dawid genoeg tyd om te hergroepeer en homself gereed te maak vir ‘n aanslag van Absalom. Is dit die einde van Dawid se koninkryk? Sou hy hier as ‘n ou man omkom in die vreemde, gejag deur sy eie seun? Môre gaan ons DV verder met hierdie spannende verhaal.
Wat leer ons uit hierdie verhaal? Vir my gaan dit oor lojaliteit. Ons lees die verhaal van twee raadgewers van Dawid. Vir die een, Agitofel het dit alles net om homself gedraai in die lewe. Hy was ‘n man wat die hoogste pos bereik het as raadgewer van die koning. Toe hy egter sien na watter kant die wind begin waai en dat Absalom dalk koning kon word, het hy sy lojaliteit aan Dawid prysgegee vir die pos waar hy in die toekoms kon muntslaan uit die situasie. Gusai, aan die ander kant, het sy lewe gewaag uit lojaliteit teenoor Dawid. As Absalom snuf in die neus sou kry, was dit klaarpraat met Gusai!
Waar lê my lojaliteit teenoor God? Gaan ek ook maar saam soos die stroom verander? Of is ek bereid om my lewe te waag vir my geloof? As daar byvoorbeeld by ‘n partytjie ‘n bespotting van die Here gemaak word - lag ek maar saam, of is ek bereid om op te staan vir my Here?
Gebed:
Here, maak my asseblief absoluut lojaal aan U!