Lofprysing in die Tronk

22 October, 2020
Luister Na Hierdie Dagstukkie Lofprysing in die Tronk

Handelinge 16:11-40

Video - Oudio

Van Troas af neem Paulus en Silas ‘n skip oor die Egeïse see. Voor hulle, die Europese vasteland. Dit moes seker vir Paulus ‘n groot oomblik gewees het toe hy voet aan wal sit in Europa. Vir hom is dit ‘n totale nuwe uitdaging. Hulle vertrek dadelik na ‘n Romeinse kolonie in Masedonië: Filippi. 

Daar is te min Jode in Filippi om ‘n sinagoge te regverdig, dus kom die handjievol Jode onder ‘n boom bymekaar. Die norm was dat daar minstens tien Joodse mans moes wees om ’n sinagoge te kon stig. Dus moes die handjievol Jode van Filippi noodgedwonge buite die stadsmure by ‘n rivier gaan aanbid.

En daar tref Paulus en Silas hulle aan op die Sabbat. Paulus se metode was om altyd eers die sinagoges te gaan opsoek om eerste vir die Jode te begin preek. Dit gee hom 'n platform vanwaar hy sy werk kan doen. Sodra dit gevestig was, het hy die heidene begin betrek. Dit is dáár langs die rivier waar Paulus vir Lidea ontmoet. Sy was afkomstig uit die stad Tiatire en ‘n handelaar in pers wolmateriaal, ‘n peperduur, kosbare stof wat hoofsaaklik deur adelstand en rykes gedra is. Sy word die eerste bekeerling op Europese bodem. Lidea en haar huisgesin word gedoop, en hulle verskaf toe ook huisvesting aan Paulus en sy geselskap tydens hulle verblyf in Filippi. Die Griekse woord “oikos” wat Lukas hier gebruik vir huisgesin, sluit die ganse huishouding in. Dit beteken die uitgebreide gesinsisteem, wat nie alleen die kinders behels het nie, maar ook die slawe en werkers asook hulle gesinne. Dit was inderdaad 'n blye dag!

Terwyl Paulus-hulle in Filippi werk, kom daar eendag ‘n slavin wat ‘n “waarsêersgees” in haar gehad het en loop soos 'n stertjie, al agter Paulus aan. Sy het hom knaend kom lastig val waar hy wou preek. Toe Paulus die gees in die Naam van Jesus uit haar verdryf, is hy in die moeilikheid, want die eienaar van hierdie slavin het sakke vol geld uit haar bonatuurlike “gawe” gemaak. En nou het Paulus sy bron van inkomste vernietig! Uit weerwraak sleep hy en sy trawante vir Paulus-hulle na die stadsbestuur, en hulle word daarvan aangekla dat hulle Joodse oproermakers sou wees.

Paulus en Silas word albei skuldig bevind. Eers kry hulle lyfstraf. Lukas vertel dat hulle klere van hulle lywe afgeskeur is en dat hulle “baie geslaan” is, dus kan jy dink hoe seer die arme twee se lywe moes wees toe hulle boonop nog in die tronk gesmyt word in die maksimum gevangenis. Om sout in hulle wonde te vryf, word hulle voete boonop bitter ongemaklik in ‘n houtblok vasgeklem. En daar sit die twee teen middernag, so bitter seer dat hulle nie kan slaap nie, en hulle kerm oor die verskriklike onreg en die pyn wat hulle moes verduur.

Nee, nee, eintlik het hulle gladnie gekerm nie. Hulle het die totaal ondenkbare gedoen, en lofliedere begin sing! In vandag se taal sou hulle seker gesing het: “Dit borrel in my, want ek is so bly: Jesus het my lief!” Oopmond van verbasing lê die ander gevangenes en luister na die pragtige klanke van Paulus en Silas se lofliedere. Die tronk word gevul met die heerlike musiek wat lof bring aan God Almagtig.

Maar skielik skrik die gevangenes hulle yskoud. ‘n Ander geluid vul skielik die tronk: ‘n onaardse rammeling wat begin om die mure te skud. Dit word al hewiger en skrikwekkender, totdat die aardbewing so erg is dat die tronkdeure almal oopval. Hierdie is egter g’n gewone aardbewing nie, want selfs die gevangenes se boeie raak los. Die bewaarder skrik wakker en storm in om te sien wat aangaan. Wat hy daar aantref laat hom nog groter skrik: sy tronk staan wawyd oop! Dis klaarpraat met hom! Hy besluit dat selfmoord die enigste uitweg is. Paulus keer hom betyds, en stel hom gerus.

“Wat moet ek doen om gered te word?” snik die man as hy voor Paulus en Silas se voete neerval.

“Glo in die Here Jesus, en jy sal gered word, jy en jou huisgesin!” Nóg ‘n siel is bygevoeg in die huisgesin van God!

Die volgende oggend kry die bewaarder ‘n boodskap van die stadsbestuur, terwyl hy besig is om sy twee nuwe broers te onthaal: “Jy kan hulle maar loslaat. Hulle kan maar hulle reis voortsit!”

“Nie so haastig nie!” reageer Paulus dadelik. “Ons is Romeinse burgers, en julle het die vermetelheid gehad om ons só te behandel! Nou wil julle stilletjies van ons ontslae raak? Dit werk nie so nie!” Druipstert is die stadsbestuur verplig om hulle in die openbaar om verskoning te kom vra. Paulus het sékerlik in sy mou gelag oor die hogere manne se vernederende verleentheid.

Alles gebeur met ‘n doel - onthou dit altyd! Selfs Paulus-hulle se marteling het tot gevolg gehad dat die bewaarder en sy gesin, asook waarskynlik ‘n paar van die gevangenes tot bekering gekom het. Moenie kla en kerm as teenspoed jou tref nie. Wees in alles dankbaar en “sing lofliedere!”

Gebed:

Here, vanoggend wil ek dit uitjubel: “Dit borrel in my, want ek is so bly …..” Help my asseblief om my hele dag ‘n loflied te maak, ten spyte van die dinge wat my probeer onderkry.

Argiewe


Onlangse Dagstukkies

Die Ark is Terug
24 August, 2026
‘n Warm Patat
21 August, 2026
Die Ark is Gebuit!
20 August, 2026
Luister en Doen
19 August, 2026
Wanneer die Here Praat
18 August, 2026