Lig in die Duister

22 July, 2020
Luister Na Hierdie Dagstukkie Lig in die Duister

Jesaja 8

Jesaja loop hom letterlik vas teen ‘n muur van teenstand as Koning Agas die boodskap van die Here verwerp. Dan gee die Here vir Jesaja ‘n nuwe opdrag. Hy moet eers ‘n plakkaat van leer maak en daarop skryf: “Plunder en roof is naby.” Mense wat hierdie plakkaat sien, sal onthou wat hy gesê het. Twee persone wat naby aan Koning Agas is, word geroep as getuies van sy eenvoudige boodskap.

Die tweede opdrag aan Jesaja is om sy seuntjie dieselfde naam te gee: Plunder-en-Roof-is-Naby. Met hierdie twee simboliese opdragte, bevestig die Here dat die oordeel oor die twee konings wat Juda bedreig, Resin en Peka, naby is. Ons het reeds gehoor dat Damaskus en Israel ten gronde gaan. Nou kom ook Juda aan die beurt. Hulle moet maar die ergste verwag!

In vers 6 lees ons dat die volk Siloag se kalm waters verwerp het. Siloag, oftewel Siloam is ‘n kanaal uit die Gihon fontein wat Jerusalem van vars water voorsien het, selfs al was die stad onder beleg. Simbolies verwys dit na God se standhoudende versorging van Sy volk.

Nou het die volk egter Siloag se waters, oftewel God se versorging verwerp toe hulle vir Resin en Peka bang geword het. Die gevolg is dat die magtige Assirië hulle soos ‘n vloedgolf gaan tref, en letterlik die hele Juda gaan oorstroom.

Dis baie slegte nuus. Maar keer op keer sien ons dat Jesaja slegte nuus met goeie balanseer. En weereens balanseer hy hierdie nuus met die wonderlike belofte van verlossing. In verse 9 en 10 lees ons dat hulle (Assirië) maar kan optrek teen Immanuel (God met ons), daar sal niks van kom nie. Selfs die vloedgolf van Assirië sal nie God se volk, Sy kinders oorweldig nie!

Dan vra Jesaja die volk om nie Agas se voorbeeld te volg deur bang te wees en te skrik vir allerlei gerugte nie. “Julle moenie alles 'n sameswering noem wat hierdie volk 'n sameswering noem nie” (v. 12). Hulle moet God dus vertrou.

Dit laat my dink aan al die gerugte van sameswerings wat deesdae baie mense bang maak. ‘n Wêreldmag wat die Koronavirus manipuleer, die merk van die Bees in Kovid 19 entstof ens. Vertrou jy dan nie op die Here nie?

In die volgende verse maak Jesaja dit baie duidelik dat hy op die Here vertrou. Hy en sy volgelinge is die lewende getuies van God Almagtig. Hy wéét dat God se woorde absoluut waar is, al weier die volk om dit te glo. Hy luister na wat God sê, al verwerp die volk dit ook!

Maar dan maak Jesaja dit baie duidelik dat diegene wat nie op God vertrou nie, wat Hom verlaat het om afgode te dien, géén toekoms het nie. Hulle sien letterlik net die donker sy van die lewe raak. Hulle lewe dus in die duister van die sonde.

Maar weereens kom Jesaja en gee die wonderlikste nuus met die woorde van die bekende vers 23: “Maar in die land waar daar duisternis is, sal daar nie langer donkerte wees nie. In die verlede het die Here die gebiede Sebulon en Naftali verneder, maar in die toekoms sal Hy die pad na die see van Galilea toe, die Jordaanstreek en die gebied van die heidene in ere herstel.

Hierdie mense wat in volslae duister lewe, word uitgenooi om verby die donker te kyk en God se wonderbare lig te sien, Sy heerlike toekoms tegemoet te gaan. Hy gaan ‘n splinternuwe begin met Sy volk maak! Alles sal in ere herstel word.

In Johannes 1:9-11 lees ons iets baie soortgelyk as Jesaja skryf: “Die ware lig wat elke mens verlig, was aan kom na die wêreld toe. Hy wás in die wêreld – die wêreld het deur Hom tot stand gekom – en tog het die wêreld Hom nie erken nie. Hy het na sy eiendom toe gekom, en tog het sy eie mense Hom nie aangeneem nie. Maar aan almal wat Hom aangeneem het, dié wat in Hom glo, het Hy die reg gegee om kinders van God te word.

Wat ‘n asemrowende getuienis!

Natúúrlik is hierdie gedeelte uit Jesaja 8 die aankondiging van die Messiaanse ryk. Alhoewel hy nêrens eers die woord “Messias” noem nie, is dit só duidelik uitgespel dat daar ‘n baie groot verwagting, ‘n opgewondenheid is wat heers, want hier gaan iets baie groot gebeur!

En dan, in hoofstuk 9 is dit asof die hele skepping in blydskap ontplof! Maar nou loop ek dit alweer vooruit. DV lees ons more hiervan. Vandag gaan ons volstaan by die helder lig wat daar voor skyn en ons uitnooi na dít wat op pad is.

Is jy ook opgewonde as ons oor hierdie dinge praat? Dit laat die dreigemente van Kovid 19 in die agtergrond skuif, sodat ons God in al Sy glorie voor sien staan.

Gebed:

Here, dankie dat ek ook met groot opgewondenheid kan uitsien na U wonderbare lig.

Argiewe


Onlangse Dagstukkies

Stille Nag
21 May, 2024
Die Ware Jesus?
20 May, 2024
‘n Omgee-gemeenskap
17 May, 2024
Wát ‘n Wonderwerk!
16 May, 2024
Geloofsontploffing
15 May, 2024