Efesiërs 5:6-20
Vyf en twintig jaar gelede, Marloth Park:
Ek en Mosbolletjie sit knus by die warm gloed van ‘n knetterende vuurtjie. Die dansende vlammetjies skep ‘n rustige, veilige atmosfeer en verdring die pikdonker wat bosse rondom ons verswelg. Die nag is pragtig as daar iewers ‘n skopsuiltjie rustig, koer-koer met sy maat gesels. In die verte steun-kreun ‘n leeu “Oemf-oemf.” Die ou wolf-met-die-mank-been (dis nou ‘n hiëna) “hoeeeep-hoeeep”, hinke-pink op soek na ‘n sappige been, of is dit dalk na sy maat? Ons voel veilig hier by die vuurtjie. Maar voel ons rêrag veilig?
‘n Takkie kraak. Ek en Mosbolletjie vlieg gelyk om met bonsende harte. Die kragtige flitslig se straal klief deur die pikdonker. Daar is niks! Wat sou dit wees? Elke donker hoekie van die bos word noukeurig gefynkam met die verblindende ligstraal.
Tevrede sit ons weer terug en ontspan. Tóg is daar iewers in jou agterkop ‘n stemmetjie wat fluister: “Daar is iets in die pikdonker! Hy hou ons dop en hy is baie onheilig!”
‘n Leeu brul skielik baie hard en ek wip soos ek skrik! Ek probeer myself kalmeer, dat daai leeu nog ver is, seker daar onder by die Krokodilrivier. Aag, ons is veilig hier! Maar die stemmetjie gesels weer: “Daardie leeu kan gemaklik dertig kilometer per uur hardloop - dus kan hy hierdie ou kilometertjie in twee minute kafdraf!” Ek skuif nader vuur toe…….
Met gereelde tussenposes word die donker om ons gefynkam vir enige vorm van lewe - mens weet mos nooit! Dis mos nie net leeus wat in die donker rondsluip nie - hier kan skelms ook wees!
Dit is tóg interessant dat alles wat onheilig is in die donker gebeur. Rowers wag gewoonlik totdat dit pikdonker is voordat hulle jou huis beroof. Leeus lê bedags en slaap, maar as die nag sy donker kombers oor die bos gooi, dan is hulle op en wakker! En honger! Ek onthou nog baie goed hoe my hart in my keel geklop het, daardie nag toe my motor in ‘n modderpoel vasgeval het onder langs die Krokodilrivier. Ek en ‘n vriend moes in die pikdonker huistoe stap deur roofdierbesmette bosse, gewapen slegs met ‘n flits met pap batterye! Ek was nog nooit in my lewe so bly om die huis te sien nie!
Allerhande ander soorte onheilighede broei ook snags uit. Dis mos die tyd wanneer bordele flink sake doen en die dobbelhuise vol raak. Dit is ook juis dán wanneer die manne goed gesuip kan raak en wat alles wat onverantwoordelik en losbandig is gebeur. Dit is asof alles wat sleg is bang is vir die lig! Selfs in die natuur is dit al die gevaarlike en sinistêre kriepiekrôlies wat in die donker rondsluip soos roofdiere, bloedsuiende vlêrmuise, rotte en skerpioene. In die helder sonskyn kom die kleurvolle, vrolike, kwetterende voëltjies, bokkies en skoenlappertjies egter uit om die lewe op te helder!
Nou speel Paulus júís die duister af teenoor die lig. Ongelowiges het eens vroeër in die duister geleef, maar nou verlig God se helder lig ons lewens. Daarom moet ons nie meer leef soos iemand wat steeds in die duister is nie, maar eerder soos mense van die lig. Ek moet my ook nie laat mislei deur mense wat steeds ‘n duistere lewe lei nie. Dit beteken nie dat ek niks met sulke mense te doene mag hê nie! Inteendeel, dit is júís elke gelowige se plig om die Lig vir so ‘n persoon aan te bied as wonderlike alternatief vir die verlorenheid van die duister waarin hy leef.
As ‘n mens van die Lig moet ek myself gedurig afvra of dít waarmee ek besig is, aanneemlik is vir die Here? Sou Hy werklik wou hê dat ek dit doen? As ek nie positief oor hierdie vraag kan antwoord nie, dan moet ek dit uitlos! “Moenie meedoen aan die vrugtelose praktyke van die duisternis nie!” Bly weg van hulle af! Moenie eers gesels oor die geheime dinge van goddeloses nie, want dit is ‘n skande! Dis nie ek wat so sê nie, maar Paulus!
Dit beteken nie dat ek net eenvoudig my oë moet toehou vir alles wat verkeerd is nie. Inteendeel, ek moet júís iets daadwerkliks daaromtrent doen. “Stel dit aan die kaak!” sê Paulus. Nee, ek moenie ligsinnige praatjies daaroor maak nie, maar ek moet die bose dinge uitwys en standpunt daarteenoor inneem. Stilswye is ook ‘n vorm van goedkeuring!
Die gedagte is dat duister dinge vervang moet word met lig. Slegte dinge moet dus vervang word met die goeie en nuttige. Moenie net hande gevou sit en pragtig lyk nie, maar maak gebruik van elke geleentheid. Koop die tyd uit! In plaas van om in ‘n kroeg rond te hang en te suip, moet ek my eerder daarop toelê om ‘n Geesvervulde lewe na te streef. Eerder as om vuil liedjies op ‘n rowwe partytjie te sing, moet my lewe weerklink met lofliedere tot eer van God, opreg en diep uit my hart uit. Ek moet soek na die wil van God. Soek na antwoorde uit die Skrif en delf diep om uit te vind wat die Here se doel met my lewe is en wat Hy wil hê dat ek moet doen.
Ten slotte moet ek dankbaar leef en dankie sê vir elke ding wat na my kant toe kom!
Gebed:
Here, dankie dat U my uit die duister gered het na U wonderbare lig toe. Gee asseblief vandag vir my ‘n jubeling in my hart.