Liefde Vir Jou Vyand

20 August, 2024
Luister Na Hierdie Dagstukkie Liefde Vir Jou Vyand

Romeine 12:17-21

VIDEO | OUDIO

"Moet niemand kwaad met kwaad vergeld nie, ..... leef in vrede met alle mense!" Só wys Paulus vandag vir ons vinger in Romeine 12:17 en 18. Dit druis totaal teen my hele mens-wees in en ek protesteer sommer dadelik: “Paulus, jy kan maklik praat, jy lewe nie in die wêreld waarin óns vandag leef nie!” Ek sien sommer die vraag in Paulus se oë: "Rêrag? Nou hoe dink jy hét my wêreld dan gelyk?"

Blaai ons ‘n bietjie deur die geskiedenisboeke dan kom ons op dinge af wat jou nekhare laat regop staan. Rome was die hoofsentrum van vervolging van die Christene. Die hele wêreld het boonop neergesien op hierdie “Christen-sekte!"

'n Kort tydjie nadat Paulus hierdie brief geskryf het, het die groot vervolging in ál sy walglike woede losgebars, veral onder die regering van die beginsellose, wrede Nero. Vir die “vermaak” van die Romeinse burgers is Christene aan pale vasgebind, met teer besmeer en aan die brand gesteek om as lewende fakkels te dien om die donker strate van Rome te verlig. Ander is weer, sommer vir die pure pret van die genotsugtige Romeine in die berugte Kolosseum saam met uitgehongerde leeus en ander wilde diere in die arena losgelaat. Vir die arme gelowiges was daar géén ontsnapkans nie en hulle is lewendig verskeur. Daar word vertel van ‘n vrou wat op ‘n bul se rug vasgemaak is en tussen die leeus ingejaag is! Wat ‘n aaklige dood om te sterf! Dit was ‘n alledaagse gesig om gelowiges te sien wat gekruisig is nes Jesus. Terwyl hulle in uitmergelende pyn daar hang, moes hulle boonop die spotlag van die bloeddorstige Romeinse mans en meisies aanhoor! Baie gelowiges was onthoof, verbrand of doodgemartel terwyl die owerhede hulle probeer dwing het om hulle geloof af te sweer. Ander weer is bloot voëlvry verklaar. Dit het beteken dat enigeen hulle besittings kon afneem, spot, martel of selfs doodmaak en géén haan sou daarna kraai nie!

Hierdie grusame inligting moet ons die vraag laat vra of ons dan wérklik vandag soveel opofferings vir ons geloof maak? Ons het dit vandag mos eintlik baie lekker in vergeleke met daardie tyd! Alhoewel fisieke vervolging steeds ’n alledaagse ding is in sekere dele van die wêreld, is ons in die vrye wêreld hoofsaaklik aan 'n klein bietjie geestelike vervolging blootgestel. As jy ernstig is met jou geloof, is sulke vervolging beslis nie maklik nie! Spot, veragting, neutraliteit, onbetrokkenheid, afsydigheid, hierdie is almal dinge wat ‘n mens geestelik kan doodmaak en totaal afkraak.

Die vraag is: hoe reageer jy op hierdie dinge? Hoe het die Christene in Nero se tyd gereageer? Onbeskryflike verhale is vertel van gelowiges wat Paulus se woorde onthou het en terwyl hulle wreedaardig gesterf het, lofliedere tot eer van God gesing het! Dit moes die Romeinse toeskouers ‘n pyn gegee het want hulle het spesifiek gekom om te sien hoe die Christene krepeer van angs. Daar is ook talle verhale van Romeine wat tot bekering gekom het spesifiek as gevolg van wat hulle daar sien gebeur het!

Die Christene was so totaal anders as die ongelowiges. Kan dieselfde van my en jou gesê word?

Dikwels kom hierdie dinge op ons pad met ‘n doel. Ons moet onthou dat om ‘n gelowige te wees, nie beteken dat jou paadjie hier op aarde met maanskyn en soet roosblare besaai is nie. Christen-wees is beslis nie vir sissies nie! Die bose kan my soms aanval en seermaak maar dan moet my reaksie daarop wees dat ek te alle tye sal probeer om die vervolging te gebruik om God se Naam groot te maak. As ek byvoorbeeld gespot word oor my geloofsoortuigings, is my natuurlike reaksie om terug te baklei of dalk in my dop te kruip en te huil daaroor. Vir my spotters is dit soos vet op die vuur, want dit is presies wat hulle wil sien!

As ek egter daaroor glimlag en dit duidelik maak dat hierdie dinge my net nader aan God dryf, sal hulle gespot versuur want hulle het nie hulle doel bereik nie. Maar nog meer: nét miskien sal een van hulle besef wat God se vryspraak aan my kan doen en dat hy sélf daardeur tot bekering kom. As dit gebeur, dan was die bietjie vervolging wat ek moes verduur deur en deur die moeite werd!

Gister het ons gesien hoedat ons passievol en met groot liefde by die kerk betrokke moet raak. Vandag vra Paulus baie meer: Hy vra dat ons positief, liefdevol en opofferend betrokke moet raak by die ongelowiges wat oor ons pad kom en selfs al verwerp, spot of vervolg hulle ons, moet ons steeds God se wonderbare lig en liefde teenoor hulle uitstraal. Onthou: Jesus het gesterf vir sondaars, nie vir goeie mense nie. Onthou ook dat Hy jóú gered het, in gróót liefde en dít terwyl jy nog Sy vyand was! Sal ons nie dieselfde doen teenoor ons medemens nie?

Gebed:

Here, gee my die deursettingsvermoë, durf en genade om U liefde teenoor almal uit te straal, selfs wanneer ek vervolg word!

Argiewe


Onlangse Dagstukkies

Die Ark is Terug
24 August, 2026
‘n Warm Patat
21 August, 2026
Die Ark is Gebuit!
20 August, 2026
Luister en Doen
19 August, 2026
Wanneer die Here Praat
18 August, 2026