Liefde vir jou Vyand

15 May, 2023
Luister Na Hierdie Dagstukkie Liefde vir jou Vyand

Matteus 5:43-48

VIDEO | OUDIO

Oorlog is ‘n verskriklike ding, en ek dink ons ou wêreld het die afgelope klompie jare genoeg gehad daarvan. Vandag heers die sinnelose oorlog tussen Rusland en die Oekraïne terwyl die Israelies en die Palestyne mekaar vodde skiet. As jy vandag egter een van die oues van dae is, dan sal jy seker nog die verskrikking van die tweede wêreldoorlog onthou. En baie van ons middeljarige manne het nog in die angswekkende grensoorlog geveg. Maar dit is juis in sulke grusame omstandighede waar jy mense die snaaksste dinge sien doen, dikwels onder haglike omstandighede. Dit gebeur baiekeer dat ‘n man sy eie lewe waag om een van sy makkers wat gewond is, te red. Maar soms gebeur dit ook dat iemand sy lewe waag om een van die vyand te red wat gewond is! En dan wonder ons wat in daardie man se gedagtes omgegaan het.

Ek het ‘n paar jaar gelede verslae gestaan toe daar weereens ‘n sinnelose moord gepleeg was, dié slag op ‘n jong predikant. Die natuurlike reaksie van die jong man se pa moes eintlik van vergelding wees, om in woede die wrede aanvaller te vervloek. Hy het dit egter nie gedoen nie! Die onverstaanbare reaksie van die verslae pa was om te sê dat hy bid vir sy seun se moordenaar! Almal onthou seker nog die wrede aanval op die egpaar, Louis en Hettie Brittz, en dat Hettie boonop verkrag was. Hettie en Louis se reaksie was dat hulle daardie verkragter vergewe het en absoluut géén wrok teen hom gedra het nie!

Ons natuurlike reaksie is om dadelik te vra hoe dit dan moontlik is? ‘n Mens kan mos net eenvoudig nie anders as om so ‘n gewetenlose skurk te haat nie! En wat van jou vyand in die oorlog? Jy móét hom mos haat! Of hoe?

Jesus se sesde teenstelling laat die hare op jou nek regop staan, wanneer Hy sê dat jy jou vyand moet liefhê! Jou eerste reaksie is om te sê: “Here, nou maak U ‘n fout! ‘n Mens kan mos tog sekerlik nie?” Dis nie in die mens se natuurlike aard nie en dit druis in teen alles wat mens is binne-in jou! Is dit hoegenaamd menslik moontlik om aan so ‘n opdrag van Jesus gehoor te gee? Maak jy nie nou ‘n moordkuil van jou hart as jy sulke dinge moet doen nie?

Kom ons wees nou maar eerlik met mekaar: dit is seker nie menslik moontlik om jou vyande lief te hê nie. Maar dit is nie waaroor dit primêr gaan nie! Dit gaan allereers oor God, en hoe Hy is. Vers 45 beskryf die onbeskryflike goedheid van God en hoe Hy ál Sy gawes skenk aan goeies sowel as slegtes. Hy gee onbeperk aan vriend en vyand. Hy is bereid om die gawe van die ewige lewe te gee aan enige mens wat bereid is om in Jesus te glo. En dikwels is dit mense wat in die grootste vyandskap met God geleef het. Hy is bereid om daardie vyandskap te vergewe en daardie rebel ‘n nuwe hart te gee, en boonop Sy Gees in daardie mens te gee. ‘n Voorbeeld hiervan is Paulus.

God wil hê dat daar iets van daardie soort liefde in ons sal deurskemer. Ons moet wees soos Hy is! Natuurlik is dit nie moontlik nie, maar Hy wil hê dat ons ten minste moet probeer, érnstig probeer om só ‘n liefde na te streef. Dit is eers in die lig van God se liefde, en dan spesifiek Sy liefde vir Sy vyande, dat hierdie opdrag van Jesus begin sin maak. In teorie klink dit onmoontlik, maar in die praktyk is dit al oor en oor bewys dat hierdie soort liefde wél uitvoerbaar is. Wees kreatief! Dit sal net van jóú afhang hoe vindingryk jy hierdie liefde kan deurvoer, en hoe jy daarmee kan woeker. Nee, eintlik is dit nie heeltemal waar nie, want alleen deur die krag wat die Heilige Gees jou gee, raak hierdie opdrag uitvoerbaar. As ek bereid is om die Heilige Gees toe te laat om in en deur my te werk, dan word dit wél moontlik.

As Jesus dus sê dat ons so volmaak moet wees soos God, dan bedoel Hy dat daar by ons ‘n deurlopende strewe moet wees na hierdie volmaaktheid. Nee, natuurlik sal ons dit nooit kan bereik nie, maar ons durf nooit ophou om daardie pad te stap van “probeer” nie, en jy moet daardie pad met oorgawe loop. Sommige mense gaan baie verder op die pad vorder as ander. Dit moet egter vir elkeen van ons ‘n liefdesreis wees, een waar ons ons liefde uitleef teenoor God en ons naaste. Ja, en selfs ook teenoor ons vyande! Dit kan egter alleen geskied in die krag van die Heilige Gees.

Gebed:

Here, ek staan diep skuldig voor U wanneer dit gaan oor liefde vir my vyande. Gee my asseblief ‘n ware hart van liefde.

Argiewe


Onlangse Dagstukkies

Vir Oulaas, Timoteus
27 July, 2026
Brief aan Titus
24 July, 2026
In die Dodesel
22 July, 2026