Genesis 14:1-17
Oorlog! Oorlog! Oorlogswolke hang swaar in die lug. Abram het hom uit hierdie speletjies uitgehou van die gespuis wat mekaar aan die keel gryp.- ‘n Man van vrede was hy, tevrede om maar net met sy kuddes vee te boer. Maar Nefie Lot was reg in die middel van al hierdie skermutselinge. Al het hy nie deelgeneem aan die ander klomp se oorlogspeletjies nie, het alles reg rondom hom gebeur. Ja, dit was een van die nadele van die keuse wat hy gemaak het om homself in die Jordaanvallei te gaan vestig.
In die vorige dagstukkie het die vraag sékerlik by jou opgekom, waarom stede soos Sodom en Gomorra nou juis by die Dooie See gebou sou wees? Daar is vandag géén lewe in hierdie stuk hiper-sout water nie, en niemand sou ooit daar wou bly nie. Die antwoord kry ons weggesteek in vers 3, waar die gebied beskryf word as die Siddemvlakte, ‘n gebied wat waarskynlik baie vrugbaar moes gewees het. Wat daar gebeur het, kan ‘n mens maar net raai, want teen die tyd wat die boek Genesis geskryf is, het die Dooie See alreeds hierdie vrugbare stuk aarde verswelg. Het dit iets te doen gehad met die verwoesting van Sodom en Gomorra? Het die aarde dalk weggesak? Daar word in vers 10 gepraat van “asfaltgate.” Was dit dalk al ‘n gevaarteken van vulkaniese aktiwiteit in die gebied? Was God dalk so teleurgestel in die verskriklike sonde van hierdie mense dat Hy besluit het om alles vir ewig met dooie soutwater te bedek? Ons sal dalk nooit antwoorde hê op enige van hierdie vrae nie. Dit is raaisels om ons net weereens in verwondering voor God te laat neerval.
Maar hierdie is nie die enigste raaisels nie. ‘n Ander vraag wat die geleerdes vir hulleself gevra het, is wie die invallers in die gebied was? Daar word ‘n klomp name van konings genoem, maar niemand weet wie hulle eintlik was, en waar hulle vandaan kom nie. Dit is ook nie belangrik nie. Die belangrike deel is dat Lot uiteindelik die slagoffer geword het van die oorlog, en dat hy as krygsgevangene weggevoer is, natuurlik met al sy besittings, want dit is hierdie rykdom wat hulle wou buit. Toe dit gebeur, het Abram geen keuse gehad as om ook deel te neem aan die oorlog nie. Sy familie was in die gedrang, en hy moes vir Lot gaan red. Met ‘n skamele 318 slawe wat vir hom gewerk het, omsingel Abram die vyand in die nag en oorval hulle. Lot word gered asook al die ander gevangenes en hulle besittings. Abram se brawe poging laat ‘n mens nogal dink aan Gideon, wat baie lank daarna op dieselfde wyse ‘n reuse vyand verslaan het.
‘n Paar baie belangrike dinge kom hier na vore: Geloof vereis waagmoed. Vir jare het die opgeleide, geharde soldate al die stede van die streek oorheers. Abram is egter bereid om hierdie goed-geoliede leër aan te durf met driehonderd veewagters. Abram storm egter nie blindelings in die geveg in soos die gebruik is nie, maar hy gaan sit en doen deeglike beplanning. Hy werk ‘n goed-deurdenkte strategie uit. Die verassingsaanval in die nag, van alle kante af, is een te veel vir die vyand, en hulle vlug. Die belangrikste is egter dat dit God is wat die oorwinning vir Abram gee, nie om te roof en buit soos die ander nie, maar om te red en terug te win.
Geloof is nie ‘n blinde roekeloosheid nie, dit is berekenend. As jy glo, moet jy jou omstandighede goed kan opsom en jou vermoëns eerlik evalueer. Dan moet jy met oorleg te werk gaan. Beplan alles deeglik asof dit totaal van jouself alleen afhang om die taak uit te voer. Maar die belangrikste is dat wanneer dit by die uitvoering kom, doen jy dit asof alles van God alleen afhang, en jy maar net die instrument is.
Waarom het Abram vir Lot gaan red? Ons het Lot leer ken as die nefie wat maar net ál agter Abram aangedrentel het. Nêrens lees ons dat hy ooit ‘n konstruktiewe bydrae gemaak het nie. Boonop het ons intussen agtergekom dat hy selfsugtig is en hy dink net aan homself. Toe Abram hom voor ‘n keuse gestel het, het hy nie vir een enkele oomblik aan sy gryse Oom Abram gedink nie. Hy het dadelik die beste vir homself gekies, en Abram moes maar opsnork in die droë bergwêreld. Maar die ergste van alles is dat Lot nie vir ‘n oomblik gehuiwer het om homself in die middel van die sonde-hool te gaan plant nie. Dáár waar die sonde op sy ergste floreer, daar gaan plak Lot. Later kom hy dan ook sommer in gróót moeilikheid daar. Ten spyte van al hierdie dinge, is Abram bereid om alles op te offer vir Lot. Waarom? Hy is familie!
Tweeduisend jaar later sien ons hoedat die eerste Christene bereid is om ook alles op te gee om hulle medegelowiges, hulle familie in Christus, te help waar hulle in nood is. Dit is die boodskap wat vandag dan ook helder en duidelik na ons as gelowiges deurkom: dat dít is hoe die Here wil hê dat ons liefde moet uitleef. Hy vra van ons ‘n ware omgee ten spyte van dinge wat dalk krap. Hy vra van ons om die swakhede, en dikwels irriterende sondes van ons medegelowiges nie in berekening te bring wanneer hulle in nood is nie, maar hulle te alle tye te behandel soos naby bloedfamilie. Is dit nie immers presies wat hulle is nie?
Gebed:
Here, gee my asseblief vandag ‘n groot liefde in my hart vir my broers en susters in Christus, en dat ek hulle sal liefhê ten spyte van hulle swakhede.