Liefde In Praktyk

31 May, 2023
Luister Na Hierdie Dagstukkie Liefde In Praktyk

Matteus 8:1-17

VIDEO | OUDIO

In hierdie wonderlike preek wat Jesus op die berg gelewer het, het Matteus vir ons gewys met watter gesag Jesus gepraat het. Die dinge wat Hy daar gesê het, het die skares stom gelaat, en duisende mense het behóórlik aan Sy lippe gehang. Maar blote woorde beteken gewoonlik niks as dit nie met dade bevestig kan word nie. Hierdie waarheid sien ons dikwels by die manne en vroue in hoë politieke kringe. Daar word keer op keer die mooiste inspirerende toesprake gehou en die wonderlikste beloftes gemaak. En dan kom daar gewoonlik dadels van. Ons sien dit in ons land gebeur, en die man op straat raak woedend omdat die beloftes leeg bly. Die afgelope tyd het ons gesien hoe mense woedend in opstand kom omdat daar net beloftes van skoon water, krag en dienslewering is, maar daar kom absoluut niks van nie. Vullis en rommel lê die dorpe vol en die rioolstelsels werk nie meer nie. In Hammanskraal het etlike mense die afgelope week gesterf aan cholera omdat dit net by praat bly en die woorde nie na dade oorgaan nie.

Matteus wys vir ons dat Jesus soveel anders is. Wanneer ‘n melaatse man dit waag om Jesus te kom opsoek tussen die groot skare mense, dan is slegs ‘n enkele woord van Jesus genoeg om hom van sy verskriklike siekte te genees. Iemand met melaatsheid was in daardie jare ‘n uitgeworpene van die samelewing. Niemand wou of kon enigiets met hulle te doene hê nie. Die wet het hulle selfs verbied om enige kontak met mense te hê, want hulle velkwaal kon dodelik aansteeklik wees. Hy kon swaar gestraf word as hy tussen ander mense sou instap. Hierdie desperate man waag dus baie deur na Jesus te gaan en boonop tussen die skare deur te loop. Aan die ander kant, durf ‘n gesonde persoon nie ‘n melaatse aanraak nie, want dan is hy onrein. Jesus skroom nie om die melaatse aan te raak nie. Hy plaas Sy eie reputasie en reinheid op die spel en wys so dat liefde dus van jou meer vra as wat gewoonlik verwag word.

Die tweede persoon waarvan ons vanoggend hoor, is iemand wat die Jode met haat vervul by die blote noem van sy naam. Alhoewel hy ‘n man van aansien is en ‘n goeie posisie in die weermag beklee, is hy nie ‘n Jood nie, en die Jode het hom geminag met ‘n passie want hy was deel van hulle vyand, hulle onderdrukkers, die Romeine. Hoe durf hy, wat absoluut geen deel het aan die Jode en hulle geloof nie, by Jesus, die Seun van Dawid, kom aanklop om hulp? Maar die situasie is nog veel erger: dit is nie vir homself of sy familie nie, maar vir ‘n stuk nikswerd eiendom, ‘n slaaf! Hierdie offisier kom verneder homself om vir ‘n Jood om hulp te kom vra vir ‘n slaaf! Ek sien hier ‘n man wat werklik omgee, want ‘n slaaf was in daardie dae die absolute laagste klas mens, en hulle is dikwels soos diere behandel. Nogtans het hierdie geharde Romein die deernis in sy hart gehad om om te gee vir daardie slaaf. Jesus sien sy deernis en sy geloof raak, en die slaaf word oombliklik genees. Hiermee wys Jesus dat Hy nie alleen mooi dinge kan sê nie, maar dit prakties uitleef. As Hy sê dat jy jou vyand moet liefhê, wys Hy hoe jy daardie liefde in die praktyk moet toepas.

Die derde insident het ook te doene met ‘n uitgeworpene uit die samelewing. Nie alleen was sy ‘n vrou, wat terloops ook maar net ‘n stuk eiendom in die Joodse kultuur was nie, maar sy was boonop ‘n skoonma! Sy het daar gelê met ‘n hoë koors, en sy het nie eers vir hulp gevra nie, want sy het geweet dat sy nie hulp werd was nie. As vrou was sy minder belangrik, maar vir Jesus was sy van die uiterste belang want sy is ‘n mens! Sonder dat sy daarvoor vra, vat Jesus haar aan die hand, en skielik is die koors weg en sy is sprankelend gesond.

Matteus skryf dat daar daardie nag nog talle mense na Jesus gekom het, en Hy het al die siekes gesond gemaak en bose geeste uitgedryf.

Ek het aan die begin gesê dat woorde sonder dade betekenisloos is. Jesus het hier gedemonstreer hoe ons die dinge waarvan Hy gepraat het kan en móét uitleef. Vir ‘n gelowige om bloot maar te sê: “Ek glo in Jesus!” is betekenisloos as die dinge wat jy doen nie wys wat daardie geloof beteken nie. In die vorige gedeeltes het ons duidelik gesien dat jou dade ‘n stempel is op dít wat jy bely. Vandag demonstreer Jesus prakties dat dit nie alleen maar genoeg is om te sê dat jy lief is vir jou naaste nie, maar dat jy moet uitspring en iets daadwerklik doen om sy nood te verlig. Maar Hy gaan veel verder en Hy demonstreer dat dit nie noodwendig die mense is in jou vriendekring of jou familiekring wat jou praktiese liefde moet ontvang nie, maar ook die mense daar buite. Die uitgeworpenes uit die samelewing het dikwels jou praktiese liefde baie nodiger as die mense wat vir jou maklik is om lief te hê. Die vuil, stinkende boemelaar, die bedelaar, die buurman wat jou so baie moeilikheid gee, die omgesukkelde baas wat almal haat, hulle is almal mense en ook God se kinders!

Kom ons maak ‘n punt daarvan om vandag ons liefde prakties uit te leef aan elkeen wat oor ons pad kom!

Gebed:

Here, ek moet vanoggend bely dat my geloof dikwels net teoreties is, en dat die praktiese ontbreek. Help my asseblief om my liefde waarlik uit te leef!

Argiewe


Onlangse Dagstukkies

Die Ark is Terug
24 August, 2026
‘n Warm Patat
21 August, 2026
Die Ark is Gebuit!
20 August, 2026
Luister en Doen
19 August, 2026
Wanneer die Here Praat
18 August, 2026