Filemon 1:4-7
Is daar verskillende grade van liefde wat ‘n gelowige moet uitleef? Nou beweeg ek eintlik op gevaarlike terrein en ons het al vurige debatte gehou oor hierdie vraag!
Wanneer die Skrifgeleerdes vir Jesus vra wat die grootste gebod is, dan antwoord Hy dat jy God moet liefhê, maar ook jou naaste moet liefhê soos jouself. Later sê Hy vir Sy dissipels dat hulle selfs hulle vyande moet liefhê, en dat hulle moet bid vir diegene wat hulle vervolg. Dis beslis nie maklik nie! In Joh. 15:12 gesels Jesus egter dringend met Sy dissipels oor liefde: “Dit is My gebod:” sê Jesus vir die manne, enkele ure voordat Hy gevange geneem word, “Julle moet mekaar liefhê, net soos Ek julle liefgehad het.”
Die vraag is of daar dan ‘n verskil is in die liefde wat ek uitleef teen ‘n gelowige, ‘n ongelowige en ‘n vyand? As ek werklik die liefde uitleef wat Jesus van my vra, dan sal ek elkeen wat oor my pad kom met onbaatsugtige liefde behandel. ‘n Mede-gelowige het egter ‘n besonderse band met my: ons is familie - bloedfamilie in Jesus! Kom ek verduidelik: As ek ‘n vreemdeling in die straat teëkom, sal ek hom vriendelik groet. As dit egter ‘n familielid is, sal ek hom omhels en selfs soen en styf teen my bors vasdruk. Dit is hierdie soort broederliefde waarvan Jesus hier praat. En dit is dieselfde liefde waarvan Paulus praat wanneer hy vir Filemon sê dat hy so dankbaar is teenoor die Here dat hy daardie soort liefde by Filemon sien.
Die vraag is, hoe lyk die liefde wat ek uitleef teenoor my medegelowiges? O ja, daar is medegelowiges wat dit baie maklik maak vir my om hulle lief te hê met ‘n warm broederliefde. Maar dan is daar die ouens wat dit vir my bra moeilik maak om hulle waarlik lief te hê. Dit is júís aan hierdie mense wat ek werklik moet werk om my liefde uit te leef soos Jesus beveel het. Dink maar net: Hy het Petrus innig liefgehad, ten spyte daarvan dat Petrus Hom verloën het. Hy het Matteus innig liefgehad ten spyte daarvan dat hy ‘n tollenaar was en uitgehang het met ‘n spul gure karakters vir vriende. Hy het my lief ten spyte daarvan dat ek nie eers náástenby leef soos wat Hy van my vra nie!
Moet ek en jy nie dalk ‘n ekstra poging aanwend om daardie broer of suster van ons wat vir ons ‘n pyn is, onvoorwaardelik innig lief te kry nie? Selfs al is sy geloofsoortuigings soveel anders as myne?
In Paulus se gebed vir Filemon raak hy ook ‘n ander uiters belangrike punt aan, naamlik dat sy “deelname aan die geloof daadkragtig mag wees, deur jou kennis van elke goeie saak wat daar onder ons is, tot eer van Christus.” (v. 6). ‘n Gelowige kan nie alleen leef en terselfdertyd geestelik groei nie! Jy het ander gelowiges nodig om jou te help groei en jou insig te help verbreed. Deur byvoorbeeld intensief Bybelstudie te doen, gaan jy moontlik jou kennis verbreed, maar dit is eers wanneer jy dit wat jy gelees het met ander gelowiges deel en bespreek, dat dit werklik vir jou waarde begin kry, soos byvoorbeeld in ‘n Bybelstudiegroep.
Deur gesprek gaan die teoretiese dinge wat jy leer gewoonlik oor na die praktiese uitvoering daarvan, en dan kry jou geloof voete en lewe. Hiermee wil Paulus by ons die dringende beroep doen om aktief in te skakel by ons gemeente se werksaamhede. Word deel van die Bybelstudie- of selgroep; neem deel aan uitreik-aksies ens.
Filemon het op ‘n baie konkrete en praktiese manier deelgeneem aan sy gemeente se bedrywighede, en nie alleen het almal daarby baatgevind nie, maar die bonus vir hom was dat hyself hierdeur geestelik gegroei het. Hy het sóveel gegroei, dat Paulus die volle vrymoedigheid gehad het om hierdie baie netelige saak van sy slaaf wat gedros het met hom te kon opneem sonder dat hy vir een oomblik bang was dat Filemon dit verkeerd sou vertolk of kleinserig daaroor sou wees!
Soos die ander rykes van sy tyd, het Filemon sékerlik ‘n paar slawe gehad - slawe wat hy ten duurste moes aankoop. So ‘n slaaf was sy eiendom, en soos met enige ander eiendom kon hy met die slaaf maak nét wat hy wou. Deur te dros kon hierdie slaaf die doodstraf kry - dit was ‘n baie ernstige oortreding! Paulus wou keer dat Filemon dalk onverantwoordelik sou optree.
Paulus was egter bewus van Filemon se goeie kwaliteite, en daarom het hy hom op hulle gewys, en dat hy hulle moes aanwend in hierdie situasie. Paulus meld nie minder nie as twee keer in een paragraaf van daardie wonderlike kwaliteit ware broederliefde wat in Filemon se lewe uitgestaan het. Hy getuig dat Filemon se liefde waarlik uitgestraal het op ‘n baie praktiese manier, nie maar net deur vir iemand te sê dat hy hom liefhet nie, maar deur dit prakties uit te leef. Deur sy liefde het Filemon mense se harte verkwik!
Ek wil vanoggend ‘n beroep op jou doen om dieselfde lewensuitkyk as Filemon aan te kweek. Wees kreatief nes daardie pragtige mens, en soek maniere waarop jy liefde kan uitleef. Straal veral ware broederliefde uit teenoor al die medegelowiges wat oor jou pad kom!
Gebed:
Here, maak asseblief my oë oop en wys my hoe ek U wonderbare liefde prakties kan uitstraal na my medegelowiges, selfs ook diegene wat dit vir my moeilik maak!