Galasiërs 5:13-15
Die berigte was in die koerante: Dominee en Ouderling raak slaags! In detail is daar beskryf hoe die twee mekaar getakel en geslaan het, want die een sou kwansuis by die ander se vrou gekuier het. Die vuil wasgoed is gewas en opgehang vir die hele wêreld om te sien, en toe maak die hele onaangename storie nog ‘n draai in die kerkraad, die ring én die hof! Hierdie spektakel het wérklik 'n paar jaar gelede afgespeel.
Ek werk eenmaal saam met ‘n kêrel wat neus-in-die-lug homself hoogheilig hou, 'n priester in sy gemeente, en hoog aangeskrewe in sy kerk. Preek heeldag lank vir my oor dít en dát, en alles wat ek doen. Toe, op ‘n mooi dag los hy sy vrou sommer net só en trek by ‘n ander jong dingetjie in, openlik en skaamteloos. Toe ek hom daaroor uitvra, toe trek hy net sy skouers op. “Sonde is in die vlees”, verduidelik hy, “maar ek leef in die Gees, en dáár is nie sonde nie!” En toe wonder ek, want ek kon dit gladnie verstaan nie!
Paulus skryf in Galasiërs baie oor vryheid - vryheid van die wet, vryheid van al die fieterjasies van die kerk en vryspraak van die sonde. Omdat jy vry is van die wet, hoef jy nie naarstigtelik die wet na te kom in die hoop dat God jou gaan vryspreek nie.
Paulus het egter baie goed besef dat mense hierdie gedagte totaal verkeerd gaan verstaan nes daardie priester wat so vieslik met sy vrou gemors het. As jy vry is van die wet, soos Paulus so herhaaldelik gesê het, dan kan jy mos maar leef nes jy wil, solank jy maar net in Jesus glo! “Moenie julle vryheid misbruik as ‘n verskoning om sonde te doen nie!” waarsku Paulus egter baie ernstig.
Alle mense is onderworpe aan hulle sondige natuur, en dit sluit jou en my ook in! Die groot gevaar is dat jy kan toelaat dat jou sondige natuur met jou op loop gaan met die Christelike vryheid wat jy in Jesus gekry het. Dit is van uiterste belang om te weet dat vryheid twee dinge beteken: dit beteken in die eerste plek dat ek vry is sodat ek sekere slaafse dinge nie hoef te doen nie. Maar in die tweede plek is ek óók vry om ander dinge wel te dóén. “Maar dien mekaar in liefde”, sê Paulus so aangrypend in vers 5. Christelike vryheid beteken júís dat my medemens vir my belangrik word. Sulke vryheid word gevoed deur liefde! Nog meer: liefde word my “baas,” en ek word as’t ware ‘n “slaaf” van die liefde deur my vryheid, hoe absurd dit ookal mag klink! Eers wanneer ek hierdie begrip reg verstaan, sal ek ophou om te sê: “Ek doen wat ék wil!” Dan sal ek eerder my Christelike vryheid op ‘n verantwoordelike manier gebruik deur te sê: “Ek doen wat God wil.”
Liefde is nie altyd maklik nie, veral as mede-gelowiges soms onredelik optree en jou dalk woedend maak. Paulus skryf in vers 15: “Julle byt en verskeur mekaar; pasop dat julle mekaar nie later heeltemal verslind nie!” Ek was eenmaal getuie toe ‘n ouderling en ‘n jeugwerker mekaar te lyf wou gaan. Die ouderling het die jongmense se fasiliteite uitverhuur sonder dat hulle ‘n sê daarin gehad het, en die vonke het gespat. Ons het ‘n vergadering gehou om die situasie te ontlont, maar dit het net vet op hulle vuur gegooi. En toe vat die twee manne mekaar! Het ons nie daardie aand tussenbeide getree nie, dan was daar lelike dinge! Die hartseer is dat albei die manne diep gelowiges was en waarlik erns gemaak het met hulle geloof. Elkeen was vas oortuig dat hy die regte ding doen, maar daar was ‘n botsing van belange. Die een het die finansies as prioriteit gesien terwyl die ander die jongmense se belange op die hart wou dra. En daar was nie kommunikasie nie!
Paulus haal ‘n gedeelte aan uit die Wet in Levitikus 19:18 om die beginsel van liefde te beklemtoon. Daar staan: “Jy mag nie wraak neem of ‘n grief koester teenoor jou volksgenoot nie, jy moet jou naaste liefhê soos jouself. Ek is die Here.” Jesus het dieselfde gedeelte aangehaal toe die Skrifgeleerdes Hom oor die Wet probeer vastrek het. Liefde is die spil waarom alles draai. Alhoewel hierdie aanhaling uit die Wet kom, moet jy in jou Christelike vryheid dit nie sien as ‘n wet wat jy naarstigtelik moet nakom nie, maar dit eerder sien as ‘n lewenswyse, ‘n riglyn om volgens God se wil te leef. In die eerste plek is dit God se groot liefde wat vir ons die vryheid gegee het, en juis daarom moet liefde jou lewe oorheers. Dit is in die eerste plek liefde vir God, en dit is nie ‘n gedwonge, vreesgevulde liefde vir Hom nie, maar ‘n vrye uit-die-hart liefde. En in die tweede plek is dit terselfdertyd liefde vir jou medemens. Vir jou mede-gelowiges moet daar veral ’n besonderse, intense broederlike liefde wees. Liefde vir jou medemens gaan egter veel verder, dit beteken ook liefde teenoor nie-gelowiges en selfs vir jou vyande! Daar moet ‘n passie wees wat jou dring om in liefde eerder goed as sleg teenoor hulle te doen.
Om sulke liefde uit te leef, is dikwels maar uiters moeilik, veral as jy dit in jou eie krag probeer doen. Maar daarvoor gee die Heilige Gees ons die krag wanneer ons dit die nodigste het. Laat Hom toe om dit te doen!
Gebed:
Here, vul my asseblief met U liefde, en neem die haat en wraak uit my hart uit.