Lewensvreugde

22 January, 2025
Luister Na Hierdie Dagstukkie Lewensvreugde

Filippense 1:18-26

VIDEO | OUDIO

Die afgelope jaar moes ons keer op keer afskeid neem van dierbare vriende wat almal baie diep spore in die samelewing en ook in my eie lewe getrap het.

Om so ‘n persoon uit jou lewe te verloor is soos om ‘n geliefde af te sien wat emigreer na Nieu Zeeland. Jy's bedroef omdat jy weet dat dit dalk jare sal neem voordat julle mekaar eendag weer sal sien, maar jy gun haar die nuwe lewe oorsee! Net so is dit met gemengde gevoelens wat jy afskeid neem van iemand wat gesterf het want enersyds is jy diep bedroef omdat daardie maat van jou nie meer aan jou sy is nie en nie meer fisies deel is van jou lewe nie. Maar andersyds moet jy ook besef dat hy nou by Jesus is en dat hy nooit, óóit sal wil terugkom na hierdie onvolmaakte wêreld van ons nie, al was daar nog so baie dinge wat hy hier wou doen voor sy vertrek.

Dis vir die gelowige wat sterf soos wat dit met my gaan elke keer as ek gaan vakansie hou. Ek werk my oor ‘n mik om alles betyds klaar te kry voordat ek vertrek en dan wens ek dat ek nog ‘n bietjie tyd gehad het om nóg meer te kon doen, want daar is sovéél wat nog gedoen moet word! En dan, wanneer ek uiteindelik in die pad val, dan is dit asof ‘n groot las van my skouers afval - ek gaan mos vakansie hou! En dan vergeet ek totaal van al die dinge wat ek nie kon klaarkry nie.......

Paulus stel dit so mooi in Filippense 1:23-24 van hierdie tweestryd wat in sy lewe woed. Aan die een kant is daar die groot verlange wat in hom brand om by Jesus te kan wees “want dit is verreweg die beste” skryf hy. Maar aan die anderkant klou hy krampagtig vas aan sy aardse lewe, want “in julle belang is dit noodsaakliker dat ek bly lewe.

Ek dink dit moet verskriklik wees om te moet lewe onder die donker wolk van die gedagte dat daar géén ewige lewe is nie! Die Sadduseërs van ouds het geglo dat as jou lewe die dag op aarde verby is, dan is alles verby. Vandag is daar steeds talle mense wat so glo. Hulle leef hulle lewe voluit, want as dit verby is, is dit verby! En dan is daar die ander wat bloot onverskillig en totaal Goddeloos lewe. ‘n Voorbeeld hiervan is een van ons berugte komediante, daardie een wat so verskriklik vulgêr kan vloek. Hy is baie reguit oor die onderwerp, as hy sê dat hy twyfel oor die werklikheid van die hemel en dat hy in elk geval eerder die hel verkies bo die hemel! Hoe arrogant, onverskillig, Godslasterlik, droewig en totaal onkundig kan ‘n mens dan wees!

Hoe borrelend, verfrissend anders is Paulus as hy aan die gemeente in Filippi skryf in Filippense 1:21: “Om te lewe is vir my Christus en om te sterwe is vir my wins!

Hier raak Paulus twee uiters belangrike gedagtes aan, gedagtes wat ‘n gelowige se lewensskaal moet balanseer. Op die een skaalbak is die wonderlike waarheid van die ewige lewe. Nie alleen beteken die ewige lewe dat jy eendag wanneer jy sterwe saam met Jesus sal wees en dat jy dan deel sal hê in die asemrowende skoonheid van die hemel en God se teenwoordigheid nie. Dit beteken óók dat jy alreeds híér en nóú op aarde daardie ewige lewe begin beleef wanneer jy kennis maak met God se groot liefde en genade. Inderdaad ervaar ‘n mens dit baie sterk die dag wanneer jy ‘n geliefde aan die dood afstaan en jy die troos en nabyheid van die Vader ondervind.

Op die ander skaalbak balanseer die gedagte van jou elke dag se lewe op aarde. “Om te lewe is vir my Christus”, eggo Paulus se woorde. En dan lees ons ook so terloops in vers 22 van sy “vrugbare arbeid”. Wanneer jy die dag daardie wonderlike genade van God se vryspraak beleef, dan is dit bitter onnatuurlik om maar net te gaan sit en wag vir die ewige lewe om in te skop en sy loop te loop. Jou natuurlike reaksie is om saam met die ander gelowiges skouer aan die wiel te sit en te begin werk in die Koninkryk. Die wonderlike is dat hierdie arbeid nie soos die elke dag se vervelige ou roetine is nie, maar dit is heerlike, opwindende werk! Die resultate daarvan is dat dit onder meer ongekende blydskap in ander mense se lewens kan bring. Het jy dit al ooit ervaar wanneer iemand se lewe skielik omgekeer word die dag as hy Jesus ontmoet? Dit gee vir jouself dalk nog meer vreugde as vir daardie persoon!

Wanneer ons hierdie brief van Paulus lees, dan sien ons ‘n borrelende vreugde. Dit kan ook nie anders nie, want die vreugde wat Paulus in soveel ander mense se lewens gebring het, moes vir hom sélf ook ‘n onbeskryflike ervaring gewees het.

Wat maak dat ek elke oggend my “tyd opoffer” om ‘n dagstukkie te skryf en 'n video daarvan te maak? Is dit uit pligsbesef? Nee, beslis nie! Dit is vir my die heerlikste ervaring en die blote gedagte dat dit iets vir iemand beteken, maak elke dagstukkie vir my ‘n tintelende avontuur. Jou werk in die Koninkryk kan ook “WOW!” wees! Dit is wat jy sélf daarvan maak!

Gebed:

Here, hoe wonderlik is dit nie om ‘n medewerker in U Koninkryk te wees - dankie vir daardie heerlike voorreg om deel te mag wees!

Argiewe


Onlangse Dagstukkies

‘n Warm Patat
21 August, 2026
Die Ark is Gebuit!
20 August, 2026
Luister en Doen
19 August, 2026
Wanneer die Here Praat
18 August, 2026
Om Kinders Groot te Maak
17 August, 2026