Lewensvreugde

25 November, 2022
Luister Na Hierdie Dagstukkie Lewensvreugde

1 Petrus 3:8-12

VIDEO * OUDIO

“Ten slotte”, skryf Petrus in vers 8, en daarmee sluit hy hierdie afdeling in sy brief wat handel oor ons verhoudings, af. Hy het gepraat met ons oor ons verhouding met die staat, ons werkgewers en ons huweliksmaats. Nou gesels Petrus oor ons verhouding met ons medemens in die algemeen.

Vandag se gedeelte is ‘n sleutel tot ware lewensvreugde. Die woorde in vers 10: “Wie die lewe wil liefhê, en goeie dae wil beleef.....” is ‘n aanhaling uit Psalm 34:13-17. As jy hierdie jou lewensfilosofie wil maak, is daar sekere riglyne om te volg teenoor jou medemens. Volg jy hulle, verskaf dit jou nie alleen lewensvreugde nie, maar bring jou terselfdertyd nader aan die wil van God. Die riglyne is saamgevat in verse 8 en 9:

Eensgesindheid. By verskeie geleenthede is ek al aangevat oor sekere klemverskille waaroor mense in die kerk net eenvoudig nie kan saamgestem nie, bloot omdat die Bybel nie duidelike riglyne daaroor gee nie. Eensgesindheid beteken dat ons vir mekaar ruimte gee oor ons verskille sonder om daaroor te stry of mekaar geestelik af te breek. Vergeet eerder van die verskille en vind aansluiting by dit waaroor ons saamstem. Sodoende bind die bande van eensgesindheid ons saam as ‘n eenheid.

Meelewend. ‘n Persoon wie se geliefde van haar weggeruk is deur die dood, het iemand nodig wat waarlik omgee om haar deur hierdie droefheid by te staan. Dit moet iemand wees wat verstaan waardeur sy gaan, en daardie skielike alleenheid begryp. Medelye behels dat jy bereid moet wees om daar te wees vir so ‘n persoon. Deur maar net te luister en om ‘n skouer te wees op wie sy kan huil, beteken vir so ‘n persoon meer as wat jy ooit kan dink. Meelewendheid het ook ‘n ander sy, naamlik om ‘n ander se vreugde met hom te kan deel en om jubelend opgewonde te kan wees saam met iemand oor sy of haar groot vreugde.

Koos se seun het die eerste rugbyspan gehaal, en hy is baie opgewonde: “Baie geluk!” sê ek, maar ek stel nie rêrag belang nie, en Koos kan dit sommer in my houding sien dat hierdie belangstelling aangeplak is. Hy voel afgehaal, want ek was hoflik, maar my lyftaal verklap dat ek nie rêrag in sy opgewondenheid deel nie. Dink jouself in Koos se situasie in en voel sy borrelende vreugde. Wees dan opreg uit die hart uit bly saam met hom en wys dit met jou hele lyftaal. Koos sal voel dat daar mense is wat waarlik omgee, en dit sal sy geloof versterk.

Vol Broederliefde. Hierdie begrip dek ‘n baie wye veld. Een voorbeeld van ‘n liefdevolle lewe is om nie op jou medemens se foute te fokus nie maar hulle eerder te bedek. Iemand wat oorgewig is wéét van haar probleem! Jy hoef nie vir haar te sê dat sy nou beter begin om reg te eet nie. Kyk liewer by haar probleem verby en probeer die mooi persoonlikheid sien. Vergeet van die foute en konsentreer op die persoon se sterk punte.

Vol Ontferming. Hierdie is dikwels ‘n baie moeilike een! Jy wil liewer nie ‘n ander se swaarkry raaksien nie, want dit laat jou skuldig voel. Ware ontferming of goedhartigheid roer jou binneste en dit maak jou hart en hand oop om te help waar jy kan. Sodoende leef jy God se liefde uit op ‘n praktiese wyse.

Nederigheid. As ek al goed op die geloofspad gevorder het, is dit tog so maklik om neus-in-die-lug te loop met ‘n “Ek’s heiliger as jy!” uitdrukking op jou gesig, net om te beklemtoon dat jy êrens op die pad van heiligmaking gekom het. Jesus het eenmaal gepraat van die Fariseër wat so op die straathoeke staan en bid sodat almal kan sien hoe heilig hy is. Dalk is dit ‘n oordrewe hoogmoed, maar ons kan ook maklik op ‘n baie subtiele manier geestelike hoogmoed openbaar.

Ware nederigheid is om nooit te vergeet hoe klein en gering jy werklik voor God is nie, en dat alles wat jy in die lewe bereik het suiwer genade van God is. Jy moet duidelik besef dat jy selfs die geloofshoogtes wat jy bereik het nie verdien het nie. Dit was nie jou eie goedheid nie, maar God het dit onverdiend vir jou gegee omdat Hy vir jou lief is.

Voordat Petrus die stempel van Psalm 34 opsit, sluit hy af met die hooftema van die brief, oor hoe jy op verontregting en kwaad moet reageer. Vir die ongelowige is dit totaal aanvaarbaar om iemand terug te kry as hy jou te na kom. Vir die gelowige is dit anders: draai die ander wang! Jesus het immers so gesê! God gee deur sy Gees vir jou die krag om verhewe te wees bo vergelding, en om eerder die kwaad met ‘n seënwens te beantwoord.

Die boodskap uit Psalm 34 som hierdie gedeelte op met die woorde: “Wie die lewe wil liefhê, en goeie dae wil beleef ..... laat hy vrede soek en dit najaag!”

Gebed:

Here, hervorm asseblief my hart om vrede te soek en U wonderbare liefde vir my medemens aktief uit te leef!

Argiewe


Onlangse Dagstukkies

Die Ark is Terug
24 August, 2026
‘n Warm Patat
21 August, 2026
Die Ark is Gebuit!
20 August, 2026
Luister en Doen
19 August, 2026
Wanneer die Here Praat
18 August, 2026