1 Tessalonisense 4:13-18
Onthou jy nog die treurmares en die Jeremiades van die Briels? Ek het as kind koue rillings gekry as hulle sing van grafte en lyke en bittere, hartseer verlangens. Ek onthou nog hoe die oumense gerou het: die arme vrouens het pikswart rokke en hoede gedra vir maande na die geliefde al dood was, en die mans het swart roubandjies aan hulle arms gedra. Daar durf ook nie ‘n sweempie van ‘n glimlag op die arme weduwee se gesig wees nie, want dan sou almal dink dat sy nie ernstig was oor haar geliefde se afsterwe nie!
Vandag is daar steeds mense wat op dieselfde manier rou. Ek gesels eenmaal met ‘n Hindoe dame, en die dood kom ter sprake. Sy vertel my toe hoe hulle Hindoes so verskriklik rou wanneer iemand te sterwe kom. Ja, hulle glo ook in ‘n lewe na die dood, vertel sy, en toe verduidelik sy vinnig van reïnkarnasie. “Glo jy in lewe na die dood?” wou sy van my weet, en ek kry die geleentheid om prontuit te getuig waarheen ek gaan, en dat ek geensins bang is om te sterf nie!
‘n Paar jaar gelede was daar ‘n nuusberig oor ’n vliegtuig wat naby Barberton teen die berg vasgevlieg het, en die dood van 9 mense veroorsaak het. In ‘n onderhoud met die bejaarde ouers van een van die slagoffers, sê die pa: “Ek gedenk nie die dood van my seun nie. Ek vier sy lewe....” Wat veroorsaak dat die een persoon bitterlik rou oor ‘n geliefde, terwyl ‘n ander dit met blydskap aanvaar? Natuurlik is daar droefheid - dit is net natúúrlik, maar die bittere, hartverskeurende smart is nie te bespeur nie.
Die Tessalonisense het nie Jesus se wederkoms baie mooi verstaan nie. Hulle het geglo dat dit baie gou sou gebeur, en dat hulle almal Jesus sou ontmoet wanneer Hy op die wolke kom. Hulle het gewag, maar dit het nie gebeur nie. Intussen het daar van hulle gesterf, en hulle was baie bekommerd dat diegene wat voortydig sterf, dalk Jesus se wederkoms sou misloop! Wanneer iemand dus te sterwe gekom het, het hulle bitterlik gerou. Dit was ‘n tragedie! Dit het Paulus genoop om vir hulle te verduidelik dat die dood nie ‘n finale skeiding is soos hulle gedink het nie. Sowel die skeiding tussen liggaam en gees as die skeiding tussen gelowiges is slegs tydelik. Wanneer Jesus terugkeer, kry die gees ‘n nuwe liggaam en so word ook die gelowiges weer herenig. Dan gaan dié wat reeds gesterf het en die wat nog lewe met Jesus se wederkoms ook weer bymekaar wees. Vir altyd!
Paulus se bedoeling met hierdie skrywe was nie om ‘n haarfyn beskrywing te gee van presies wat gebeur in watter volgorde met die wederkoms nie. Dit was om die verontruste gelowiges die versekering te gee dat die ontslapenes nie ‘n agterstand het wanneer Jesus kom nie.
Paulus praat van “ontslapenes.” Elders in die Bybel word die dood met “slaap” vergelyk. Net soos wat fisiese slaap slegs ‘n tydelike toestand is, so is die dood ook maar net ‘n tydelike toestand. Jesus het die angel uit die dood gehaal. Dit is eintlik ‘n mooi beeld om die dood met slaap te vergelyk, want daar is nogal ‘n paar interessante ooreenkomste:
Soos slaap ‘n tussentoestand is, is die dood ook ‘n tussentoestand. Voordat jy slaap is jy wakker, en nadat jy geslaap het is jy weer wakker. Net so is die dood ‘n wonderlike “rus” by die Here. Wat presies daarna gebeur, is ongelukkig vir ons ‘n misterie, want daar word bitter min hieroor in die Bybel geskryf. Ons kan maar net sekere afleidings maak.
Die tweede vergelyking met slaap, is dat wanneer jy wakker word en jy kyk in die spieël, dan sien jy nog presies dieselfde mens. So is dit ook met die opstanding na die dood, waar jy nog dieselfde mens gaan wees.
Die derde vergelyking is dat nadat jy geslaap het, jy uitgerus en vars is. Jy staan as’t ware as ‘n nuwe mens op na ‘n goeie nagrus. Met die dood is nog veel meer so, want jy word ‘n totale nuwe mens, nie met ‘n verfrisde liggaam nie maar ‘n verheerlikte liggaam sonder siekte, pyn en beperkings.
Wanneer jy dus weer by die graf of sterfbed van ‘n geliefde staan, herinner jouself dan aan die woorde van 1 Tess. 4:17 en 18, en ervaar die wonderlike troos wat God jou daar gee. Inderdaad sal ons saam met ons geliefdes wees by Jesus. Verséker kom daar ‘n herontmoeting om nooit, ooit weer van mekaar geskei te wees nie. Daar lê ‘n wonderlike toekoms voor saam met die Here, nadat Hy ons nuutgemaak het. Ja, die soete trooswoorde van 1 Tess 4:13 gee aan elkeen van ons hoop: “Ons wil nie hê dat julle onkundig moet wees oor diegene wat ontslaap het nie, sodat julle nie treur soos die ander mense wat nie hoop het nie.” Natúúrlik mag ons treur en bedroef wees. Ons word immers vir ‘n tyd lank geskei van iemand vir wie ons lief is. Maar die wonderlike hoop gee vir ons vertroosting, want die skeiding is nie vir altyd nie, maar slegs tydelik.
Inderdaad is hierdie gedeelte in Tessalonisense vir my persoonlik vandag ook ‘n groot troos. Eergister (Sondag) kry ons die skoknuus dat ons skoondogter Claudette onverwags oorlede is. Vir ons gesin was dit ‘n reuse skok. Maar ons het die vertroosting van 1 Tess 4:13!
Gebed:
Baie dankie dat U ons troos met ‘n wonderlike hoop, selfs wanneer die dood ‘n skadu oor ons gooi!