Lukas 5:27-39
Toe die Romeinse regering die pos adverteer van belasting gaarder, het Levi die gaping gesien en dadelik sy tender ingesit. Hierdie kon ‘n betalende besigheid wees! Dit sou behels dat hy belastings moes invorder van die Jode, en dan ‘n sekere persentasie daarvan hou vir homself. Meeste Jode het nie rêrag geweet wat presies die belasting moes behels nie. Levi het gehoor dat die ander tollenaars goed geld gemaak het. Hulle het hier en daar iemand verkul en ‘n bietjie meer ingevorder as wat hulle moes, en dan die res in hulle sakke gedruk. Baie gou het Levi geleer hoe om mense af te pers en te verneuk om elke hoek en draai.
Wat Levi egter nie mee rekening gehou het nie, was dat almal hom skielik begin vermy het. Daardie stigma van Tollenaar-verneuker het aan hom begin kleef, en weldra het al sy vriende opgedroog. Daar was maar een genade oor: hy moes hom maar by die res van die tollenaars skaar. Hy was met ope arms ontvang! Die ongeluk was egter dat hierdie spul nou rêrag die skuim van die samelewing was. Hulle het gesuip en partytjie gehou - nie mense met wie énige goeie Jood hom sou meng nie.
Dit was dus ‘n baie groot skok vir Jesus se volgelinge toe hulle een mooi dag by Levi se tolkantoortjie verby stap, en Jesus vir daardie gehate tollenaar aansê om Hom te volg!
Ek kan my die prentjie indink: Petrus is sommer dadelik vererg: “Meester, hoe durf U! Sy reputasie stink!” Jesus glimlag…..
Levi kan nie sy ore glo nie - niemand buite sy misrabele spul maats wil hom as vriend hê nie, en hier kom hierdie heilige Profeet en Hy roep hom, armsalige Levi! Net daar besluit hy dat dit die ideale geleentheid sou wees om vir Jesus aan sy vriende voor te stel. As Hy bereid is om vir Levi te aanvaar, dan sal sy spul vrot pêlle ook mos vir Jesus aanvaarbaar wees. Hy versprei vinnig die woord, en daardie aand nog hou hulle gróót makitie met ál die fluitjies en klokkies.
Petrus-hulle is maar bitter ongemaklik saam met hierdie spul, maar hulle móét erken dat dit nogal baie jolig gaan - ámper lekker! Hulle kan egter nie verstaan hoe Jesus so gemaklik tussen die spul sondaars inpas nie. Hulle Meester is beslis anders!
Die volgende dag was die duiwel behóórlik los: ‘n Afvaardiging Fariseërs het vir Petrus-hulle voorgekeer en sommer lélik uitgetrap oor daardie berugte partytjie van die vorige aand. “Hoe kón julle! Wat het julle besiel om te meng met daardie skuim? Julle het sowaar saam met sondaars en tollenaars gaan staan en eet en drink!” Jesus het gehoor wat aangaan, en toe kom red Hy die situasie: “Dit is siek mense wat die dokter nodig het, nie gesondes nie!” verduidelik Hy vir hulle.
En Levi? Hy was bereid om alles nét so te los om vir Jesus te volg. En ek is oortuig daarvan dat nie alleen Levi tot bekering gekom het nie, maar sékerlik ook baie van sy berugte vriende!
In hierdie verhaal sien ons dat dit nie noodwendig die mense is wat hulle hele lewe lank ‘n voorbeeldige lewe gelei het wat dissipels van Jesus word nie, maar ook die ouens wat ‘n baie vrot verlede het. By ‘n gebedsgeleentheid was een van die sprekers ‘n tyd gelede ‘n ou tronkvoël. Die ou kon nie eers behoorlik praat nie, maar die boodskap wat hy gebring het was dat die Here hom gered het, en dat hy begin werk het onder gevangenes. Ek het half ongemaklik gevoel, maar ek het net weereens besef dat Jesus nie na die persoon kyk nie.
Hierdie ongemaklike situasie wat Levi geskep het, het gelei tot ‘n onvermydelike konfrontasie. Jesus het egter juis die situasie gebruik om te toon dat Hy bereid is om enigeen te vergewe. As dit selfs moontlik is vir tollenaars en sondaars om hulle verhouding met God te herstel, dan is dit moontlik vir enige soort mens. Wat meer is, menslike taboes word onbelangrik! Ons moet leer om verby ons tradisies te kan kyk, en ander te aanvaar vir wat hulle is - skepsels van God net soos ek en jy!
Terwyl hulle besig was om oor tradisies te praat, trap die Fariseërs sommer ook vir Jesus uit omdat Hy nie soos Johannes die Doper, sy dissipels geleer het om te vas en al die ander Joodse tradisies na te kom nie. Met Jesus se antwoord gee hy ‘n nuwe perspektief op die ou Joodse gebruike. Hy verwerp nie die tradisies nie, maar Hy sê dat daar ‘n tyd en ‘n plek is vir alles. Om dus bloot ‘n tradisie na te volg omdat dit tradisie is, het absoluut géén waarde nie. Maar op sy regte tyd en plek en met die regte doel voor oë is dit nuttig.
Dalk staan jy vanoggend met ‘n dilemma omdat jy nie weet of jy ooit goed genoeg is om vir die Here van enige nut te wees nie. Sal die Here jou ooit kan gebruik? Dalk is jou sonde te groot of jou verlede te duister. Uit hierdie verhaal gee die Here vanoggend vir jou die versekering dat Hy verby al hierdie dinge kyk en iemand sien wat na Sy beeld geskep is. Hy wil jou beslis gebruik! Al wat Hy vra is jou bereidwilligheid.
Of dalk is jou dilemma vanoggend dat jy sukkel om ‘n sekere persoon te aanvaar, moontlik oor sy duistere verlede of sy kultuur. Jesus vra van jou as gelowige om daardie persoon te aanvaar nes hy is, en om hom ‘n kans te gee in die lewe, soos wat Hy bereid was om selfs vir Levi ‘n kans te gee.
Gebed:
Here, leer my asseblief om mense te aanvaar soos hulle is.