Leierskap

19 March, 2018
Luister Na Hierdie Dagstukkie Leierskap

1 Timoteus Inleiding

Ons sit met ‘n leierskapskrisis! Oral waar ons vandag gaan, is dit die kwessie wat mense se harte omklem. En die kerk? Bekruip dieselfde probleem die kerk? Die vraag is: Wat is dit wat ‘n suksesvolle Christenleier maak? Sonder goeie leierskap kan ‘n gemeente kwalik suksesvol bestaan. In Matt 9:36 lees ons juis van so ‘n “gemeente” wat leierloos gedwaal het: “Toe Hy die menigtes sien, het Hy hulle innig jammer gekry, want hulle was moeg en hulpeloos soos skape wat nie ‘n wagter het nie.” Jesus sê dan vir Sy dissipels: “Die oes is groot, maar die arbeiders min.

Om iewers op die platteland op ‘n grondpaadjie ‘n trop skape in die pad te kry sonder ‘n herder, is uiters frustrerend. Probeer ‘n bietjie tussen hierdie spul deurgery kom! ‘n Skaap is seker die domste ding op die ganse aarde! Dit is eers wanneer ‘n herder wat hulle ken, of ‘n skaaphond leiding neem, wat die spul sal padgee sodat jy kan deurry. Nou wil ek darem vinnig sê dat ons gemeente beslis nie ‘n spul dom skape is nie. Maar ek het al gesien hoedat ‘n gemeente sonder effektiewe leierskap baie dom dinge kan doen!

Dit is egter baie belangrik dat ons altyd moet onthou dat daar maar slegs een ware Leier is, naamlik Jesus. In Joh. 10:11 sê Jesus: “Ek is die goeie Herder.” Hy is die een ware Herder en leier. Maar Hy delegeer Sy pligte. In Joh. 21:15-19 lees ons hoedat Hy opdrag gee dat Sy skape opgepas moet word. Hieruit sien ons dus dat die héél belangrikste element van Christen-leierskap is dat ons nooit mag vergeet wie die ware Herder (Leier) is nie. Die tweede belangrike ding is dat Hy die leiding aan my delegeer. Ek neem egter slegs leiding namens Jesus. Boonop word ek geroep deur Jesus om daardie leiding te neem, of om sekere pligte uit te voer. Ek is dus in diens van Jesus.

Ek kan dus nie maar leiding neem soos ek wil nie, maar ek moet dit doen volgens Jesus se voorskrifte en opdragte. Hy is die Een wat die doelwitte stel wat ek as leier moet nastreef. As leier is ek dus ook nie die “baas” nie, maar slegs die een wat rigting gee aan Jesus se opdragte. Hy het daardie gedagte uitgeleef en vir ons die voorbeeld kom stel van hoe dit gedoen moet word. As hoogste Gesag in die ganse heelal, was Hy niks meer as ‘n Dienende Kneg nie, en het Hy selfs sulke lae dinge gedoen as vuil voete was, siekes help en vir honger mense kos gee.

Maar is hierdie boek dan slegs vir “leiers” geskryf? Is dit net die dominee, pastoor of leier-ouderling wat dit moet lees? Allermins! Enige gelowige kan en MOET! ‘n leier wees op die een of ander terrein.

Daar is mos deesdae die tendens in die sakewêreld om allerhande fênsie titels te gee vir die eenvoudigste werke, soos die ou wat moet sorg dat die toilette in die gebou skoon is, word “Hoof van Higiëne en Ontspanning,” en dan kry daardie ou so ‘n groot trots in sy werk, dat alles blink. So was daar die storietjie wat die rondtes op internet gedoen het van die “Besembestuurder” (jy móés hom al gelees het!), waar die man sy nuwe titel met groot trots uitgeleef het. Dit is baie slim taktiek, en dit verseker produktiwiteit. As ons nou dieselfde in die kerk sou toepas, dan raak die gemeente ook produktief.

In ons eie gemeente het ons ‘n aantal diensterreine ingestel, en hulle word nie beman deur kerkraadslede nie, maar “doodgewone” gemeentelede. Dit was oorspronklik “kommissies” gewees, en soos jy seker weet, is al wat ‘n kommissie ooit doen, om vergaderings te hou. Nou verrig die diensterrein, soos byvoorbeeld Evangelisasie, sekere dienste. Elke persoon wat homself aan so ‘n diensterrein verbind, kry spesifieke opdragte, waar hy moet leiding neem om die ratwerk van die gemeente glad te laat verloop. Dit werk, want mense is entoesiasties, en hulle spoor weer ander aan tot diens.

Paulus het hierdie inspirerende brief oorspronklik aan Timoteus geskryf om die konsep van effektiewe leierskap aan hom te verduidelik. Timoteus was natuurlik een van Paulus se getrouste metgeselle. Hy het vir ‘n tyd lank saam met Paulus gewerk in Efese, en toe Paulus tevrede was dat Timoteus ‘n gemeente kon behartig, laat hy hom daar agter as voltydse leraar. Natuurlik het so ‘n aanstelling baie probleme gehad, en ek dink die arme Timoteus het hoofpyn beleef soos min! Daar was dwalinge wat sy nuwe gemeente geteister het, en Paulus moes hom bystaan met raad en daad om dit te bekamp. In hierdie brief bemoedig Paulus dan ook vir Timoteus en gee hy hom vertroue om daardie dwaalleer te stuit en ander hoofpyne op te los.

Vir my en jou vandag is hierdie brief van groot waarde, want dit beantwoord vrae soos: Hoe ver strek my verantwoordelikhede as leier? Het ek genoeg gedoen? Hoe ver moet ek gaan met dit wat mense van my verwag? Wat verwag God werklik van my as leier? Die feit is dat ek met my gewete moet saamleef en uitleef wat my gewete vir my sê. ‘n Goeie gewete sal my as leier help om liefde uit te leef soos wat Jesus dit van my vra.

Gebed:

Here, leer my asseblief om my leierskap effektief en met groot entoesiasme uit te leef volgens U wil.

Argiewe


Onlangse Dagstukkies

Die Ark is Terug
24 August, 2026
‘n Warm Patat
21 August, 2026
Die Ark is Gebuit!
20 August, 2026
Luister en Doen
19 August, 2026
Wanneer die Here Praat
18 August, 2026