Leef wat jy Glo

30 August, 2018
Luister Na Hierdie Dagstukkie Leef wat jy Glo

3 Johannes:9-15

n Paar jaar gelede sit ons een oggend en ontspan op ons Boshuisie se stoep in Marloth Park. Dit is ‘n heerlike rustige oggend, en alles is mooi en vreedsaam. Dalk moet ek dit eerder vreetsaam noem, want ons het appels aan die bome opgehang, en die houtkappertjies, spreeus en neushoringvoëls val behóórlik weg aan hierdie meevallertjie. Tussen die bome deur kan ons die rooi skynsel uitmaak van ‘n paar rooibokkies wat rustig staan en wei. ‘n Hemelse, rustige prentjie, en ek sak sommer ‘n bietjie dieper in my stoel in om myself gemakliker te maak.

Dan kom daar ‘n ding aangewaggel deur die gras. Ek maak die vaal vorm van ‘n vlakvarkbeer uit, maar sommer ‘n ou gróte. Hy is net so wyd as wat hy hoog is. Sy suur gevreet is besaai met die alleraakligste knoetse en karbonkels en die keelvelle hang so drie lae opmekaar. ‘n Uitgevrete, vet vark, sou ‘n mens hom kan beskryf. Voor die stoep lê ‘n klompie mieliepitte wat ek vir die tarentale uitgegooi het. Meneer waggel reguit daarheen en begin die pitte een vir een uit die stof uit oplek. Een ding wat my opval van hierdie vark, is die onvriendelikheid wat sommer so van sy gevreet afdrup. ‘n Wrede stel slagtande plaas ‘n raam om sy nors bakkies.

Skielik kyk die ou op en gee ‘n vulgêre snork terwyl sy bloedbelope ogies die veld in staar. Ek volg sy blik, en dan vang ‘n beweging my oog. ‘n Pragtige vlakvarksoggie kom aangedraf, en kort op haar hakke, twee skatlike ou klein varkies, stertjies kiertsregop. Ek sit regop. Hier kom sports!

Skielik steek die soggie vas, onseker of sy welkom sal wees by die feesmaal. Ou suurgevreet brom stywesnoet. Hy draai homself so half in haar rigting. Hy prewel iets vir haar, en ek kan duidelik hoor dat dit beslis nie romantiese woordjies is nie. Sy wil nog vriendelik nader kom, maar dan stoomroller die ou op haar af, en jy sien net kleintjies spaander, stertjies soos wapperende lugdraadjies in die lug. Hulle hardloop ‘n wye draai, en jy sien net klippies spat. Maar dan kom hulle weer terug. Ou suurgevreet storm weer, en dan laat hy hulle in geen onduidelike taal verstaan dat hierdie sy pitte is. Hulle is baie beslis nie welkom nie!

Die arme ou soggie en haar kleintjies kies moedeloos en verworpe die hasepad, en ou suurgevreet val met ‘n swaar sug behaaglik onder ‘n rosyntjiebos neer.

As Johannes oor Diotrofes skryf, sien ek hierdie ou nors vlakvark in my geestesoog. Diotrofes beklee ‘n gesagsposisie in die gemeente. Dalk was hy leier-ouderling of iets. Maar sy leierskap bring beroerings in die gemeente. Hy laat verstaan almal dat hý die leier is, en dat hy baie gesteld is daarop. Boonop het hy ‘n hekel aan enige besoekende leraar. Hierdie klomp moet hulle neuse uit sý gemeente uithou. Die wonderlike soort gasvryheid waarvan Johannes skryf as hy van Gaius praat, díé is totaal afwesig by Diotrofes. Maar hy gaan ‘n stap verder: enigeen wat dit durf waag om een van hierdie besoekers te ontvang, word die kop gewas, en hulle word botweg belet om hulle gasvryheid uit te leef. Nog erger, as iemand teen Diotrofes se bevele in gasvry is, word hy summier uit die gemeente geskop! Maar dis nie al nie: Diotrofes belaster en beswadder ook selfs vir Johannes.

Sies!” sou ons kon sê. Maar dit dwing ons om dalk ‘n bietjie hand in eie boesem te steek, en te gaan kyk hoe dit in ons eie gemeentes gaan. Belangriker nóg, moet ek kyk hoe my eie lewe lyk. Dalk gaan dit nie heeltemal so erg as met Diotrofes nie, maar jy kan so behep raak met jou eie sieninge van ‘n saak, dat jy skade kan aanrig aan die saak van die Koninkryk. Ek staan dikwels self skuldig hieraan. Ek kan so meegevoer raak deur ‘n gedagte waaraan ek werk, dat ek op ander trap om my plan deurgevoer te kry. En as dit die slag gebeur dat iemand anders se plan eerder gevolg word as myne, dan raak ek dikbek en suur oor ek nie my sin gekry het nie.

Dit is nou maar eenmaal so dat leierskap nie beteken dat jy die reëls neerlê en dat almal na jou pype moet dans nie. Goeie leierskap beteken eerder dat jy mense motiveer en koördineer sodat die dinge wat gedoen moet word op die beste moontlike manier klaarkom.

In ‘n laaste woordjie wil Johannes dit vir Gaius op die hart druk (en dit geld ook vir jou en my) dat hy moet wys dat hy aan God behoort. Hoe doen jy dit? Deur nie die slegte voorbeeld van Diotrofes na te volg nie, want dit weerspieël ‘n totale verkeerde gesindheid. Dit wys dat jy nie ‘n intieme persoonlike verhouding met God het nie. Daardie soort verhouding met die Here borrel uit in goeie dade. Dit is dinge soos vriendelikheid, gasvryheid, diensvaardigheid en ‘n aansteeklike blydskap wat almal in jou lewe kan sien. Laat die leuse van jou lewe word: “Leef wat jy Glo”. Dit beteken dat jy jou geloof aktief uitleef op elke terrein van die lewe.

Gebed:

Here, leer my asseblief om U wonderbare liefde aktief uit te leef tot eer van U Naam.


 

Argiewe


Onlangse Dagstukkies

Die Ark is Terug
24 August, 2026
‘n Warm Patat
21 August, 2026
Die Ark is Gebuit!
20 August, 2026
Luister en Doen
19 August, 2026
Wanneer die Here Praat
18 August, 2026