1 Tessalonisense 4:1-8
Toe Timoteus van Tessalonika af terugkom, wou Paulus álles weet oor hoe dit daar gaan. Timoteus was opgewonde: “Daardie ou gemeentetjie is aan die brand!” vertel hy vol entoesiasme vir Paulus. “Daar is egter tóg ’n paar sakies wat krap, waaraan ons dringend sal moet aandag gee.....” Paulus het goed geluister na wat Timoteus hom vertel, en toe roer hy die jong man se bekommernisse in sy brief aan, praktiese dingetjies, wat aan die einde van die dag dalk ’n baie groot verskil kon maak. Sy lysie gaan oor die seksuele lewe; liefde tussen gelowiges; arbeidsake; wat met jou gebeur as jy doodgaan; Jesus se wederkoms en nog die een en ander.
Paulus skop af in hoofstuk 4 deur te sê dat ‘n gelowige behoort te lewe soos wat God dit wil hê. Hy sê dit nie sommer omdat dit sy eie mening is nie, maar hierdie dinge sê hy op gesag van Jesus Christus. Hy beklemtoon die feit dat jy nie maar net so halfhartig met jou geloofslewe moet omgaan nie, maar dat jy jou daarop moet toelê om dit met volle oorgawe te doen. Ek en jy moet besef dat alles wat ons doen onder die gesag en bevel staan van Jesus Christus.
Die eerste sakie wat Paulus aanraak, is ‘n ou seer puntjie. Die sedelike standaarde van die samelewing in daardie jare het veel te wense oorgelaat. Laat jou nogal dink aan presies dieselfde situasie waarin ons vandag verkeer! Dit is nou maar eenmaal so, dat ‘n mens se natuurlike geaardheid maak dat die oomblik as jy laat slaplê in jou geloof, dan gly jy terug. En die eerste ding wat gebeur, is dat jy verlei word tot onsedelikheid, oftewel seksuele sondes. Elke gelowige moet onthou dat ons ook wat die seksuele betref onder die bevel staan van Jesus Christus. Ons durf nie in ‘n seksuele verhouding staan as dit nie in ‘n permanente een-tot-een vertrouensverhouding - dus in die huwelik is nie.
“Weerhou julle van onsedelikheid.” sê Paulus vir die gemeente. In daardie tyd was onsedelikheid ‘n integrale deel van die heidene se afgodsdiens. Vandag word dit dalk ‘n bietjie anders bedryf. Die talle ontkleeklubs in ons stede het ‘n stomende (?!) bedryf geword. En dit is veral plekke soos oorlede Lolly Jackson se Teasers wat manne en selfs ook vroue by die hordes trek. Masseersalonne, gesellinklubs en prostitute het ‘n algemene verskynsel geword.
By hierdie walglike dinge raak géén gelowige betrokke nie. Wel, daar is tóg gelowiges wat so seksverslaaf geraak het dat hulle in die geheim hierdie plekke besoek. Daar is egter ook ‘n meer subtiele verleiding: slaan maar feitlik enige tydskrif oop, en jy sien die advertensies vir “foonseks”. Hier kan jy in die geheim jou fantasie uitleef, en g’n haan sal ooit daarna kraai nie! Die probleem is egter dat dit vir God g’n geheim is nie, en dat jy jou gedagtes so besoedel met hierdie dinge, dat jou verhouding met God totaal vertroebel. Dieselfde geld vir die talle sekstydskrifte wat ons winkelrakke oorstroom, en pornografiese videos, pornografie op die internet ens. Al hierdie dinge dryf jou verder en verder weg van God af, en uiteindelik kla jy dat jy teen die plafon vasbid, en dat God jou verlaat het. Nee, dit is nie God wat jóú verlaat het nie, maar wel jý wat vir Gód verlaat het!
‘n Tweede aspek is om jou te weerhou van enige buite-huwelikse seksuele verhouding. Dit mag dalk begin met ‘n “onskuldige” flirtasie of ‘n begeerlike kyk na iemand. Jesus het gesê dat as jy net na iemand kyk om haar te begeer, dan het jy reeds egbreuk gepleeg. En dit is nie om dowe neute nie, want sulke begeertes kan in jou stoom totdat dit naderhand oorgaan tot dinge wat jy nie meer kan beheer nie. Ek het al dikwels gesien watter onmeetlike pyn ‘n egskeiding kan veroorsaak. Ongelukkig is dit nie net een persoon wat seerkry nie, maar die skade wat die kinders opdoen is onherstelbaar. Boonop raak dit ook die familie en vriende. In kort kom dit daarop neer dat die liefdesgebod totaal verontagsaam word, want liefde bind mense saam, dit verbrokkel nie verhoudinge nie, en dit maak nie seer nie.
In die gedeelte praat Paulus hoofsaaklik met die manne. Daar is ‘n baie goeie rede voor: vrouens was daardie jare gebonde aan die huis (buiten natuurlik straatvrouens), en dit was die manne wat vryheid van beweging gehad het om rond te slaap. ’n Vrou het nooit die geleentheid gehad om alleen in ’n vreemde man se geselskap te verkeer nie. Vandag het dinge natuurlik totaal verander, en wat dus daardie tyd op die man van toepassing was, is vandag nét so op die vrou van toepassing.
My pleidooi is vanoggend, dat as jy besig is met enige onsedelikheid in jou lewe, breek asseblief vandag daarmee! God is bereid om jou skoon te was en totaal te vergewe.
Gebed:
Here, help my asseblief om my lewe rein te hou tot eer en verheerliking van U Naam.