Leef dit wat jy in Glo

13 June, 2024
Luister Na Hierdie Dagstukkie Leef dit wat jy in Glo

3 Johannes:9-15

VIDEO | OUDIO

‘n Paar jaar gelede sit ons een oggend en ontspan op ons Boshuisie se stoep in Marloth Park. Dit is ‘n heerlike rustige oggend en alles is mooi en vreedsaam. Dalk moet ek dit eerder vreetsaam noem, want ons het appels aan die bome opgehang vir die voëls en die houtkappertjies, spreeus en neushoringvoëls val behóórlik weg aan hierdie meevallertjie. Tussen die bome deur kan ons die rooi skynsel uitmaak van ‘n paar rooibokkies wat rustig staan en wei. ‘n Hemelse, rustige prentjie en ek sak sommer ‘n bietjie dieper in my stoel in om myself gemakliker te maak.

Dan kom daar ‘n ding aangewaggel deur die gras. Ek maak die vaal vorm van ‘n vlakvarkbeer uit, maar sommer ‘n ou gróte. Hy is net so wyd as wat hy hoog is. Sy suur gevreet is besaai met die alleraakligste knoetse en karbonkels en die keelvelle hang so drie lae opmekaar. ‘n Uitgevrete, vet vark, sou ‘n mens hom kan beskryf. Voor die stoep lê ‘n klompie mieliepitte wat ek spesiaal vir die tarentale uitgegooi het. Meneer waggel reguit daarheen en begin die pitte een vir een uit die stof uit oplek. Een ding wat my opval van hierdie vark is die onvriendelikheid wat sommer so van sy gevreet afdrup. ‘n Wrede stel slagtande plaas ‘n raam om sy nors bakkies!

Skielik kyk die ou op en gee ‘n vulgêre snork terwyl sy bloedbelope ogies die veld instaar. Ek volg sy blik en dan vang ‘n beweging my oog. ‘n Pragtige vlakvarksoggie kom aangedraf en kort op haar hakke, twee skatlike ou klein varkies, stertjies kiertsregop. Ek sit regop. Hier kom sports!

Skielik steek die soggie vas, onseker of sy welkom sal wees by die feesmaal. Ou Suurgevreet brom stywesnoet. Hy draai homself so half in haar rigting en prewel iets vir haar en ek kan duidelik hoor dat dit beslis nie romantiese woordjies is nie. Sy wil nog vriendelik nader kom maar dan stoomroller die ou op haar af en jy sien net kleintjies spaander, stertjies soos wapperende lugdraadjies in die lug. Hulle hardloop ‘n wye draai en jy sien net klippies spat. Maar dan kom hulle weer terug. Ou Suurgevreet storm weer en dan laat hy hulle in geen onduidelike taal verstaan dat hierdie sý pitte is en dat hulle baie beslis nie welkom is nie!

Die arme ou soggie en haar kleintjies kies moedeloos en verworpe die hasepad en ou suurgevreet val met ‘n swaar sug behaaglik onder ‘n rosyntjiebos neer......

As Johannes oor Diotrofes skryf, sien ek hierdie ou nors vlakvark in my geestesoog. Diotrofes beklee ‘n gesagsposisie in die gemeente. Dalk was hy leier-ouderling of iets. Maar sy leierskap bring beroerings in die gemeente. Hy laat almal verstaan dat hý die leier is en dat hy baie gesteld is daarop. Boonop het hy ‘n hekel aan enige besoekende leraar. Hierdie klomp moet hulle neuse uit sý gemeente se sake uithou. Die wonderlike soort gasvryheid waarvan Johannes skryf as hy van Gaius praat, díé is totaal afwesig by Diotrofes. Maar hy gaan ‘n stap verder en enigeen wat dit durf waag om een van hierdie besoekers te ontvang, word die kop gewas en hulle word botweg belet om hulle gasvryheid uit te leef. Nog erger, as iemand teen Diotrofes se bevele in gasvry is, word hy summier uit die gemeente geskop! Maar dis nie al nie - Diotrofes belaster en beswadder ook selfs vir Johannes.

“Sies!” sou ons kon sê. Maar dit dwing ons om dalk ‘n bietjie hand in eie boesem te steek en te gaan kyk hoe dit in ons eie gemeentes gaan. Belangriker nóg: ek moet kyk hoe my eie lewe lyk! Dalk gaan dit nie heeltemal so erg as met Diotrofes nie, maar jy kan so behep raak met jou eie sieninge van ‘n saak, dat jy skade kan aanrig aan die saak van die Koninkryk. Ek staan dikwels self skuldig hieraan. Ek kan so meegevoer raak deur ‘n gedagte waaraan ek werk, dat ek op ander trap om my plan deurgevoer te kry. En as dit die slag gebeur dat iemand anders se plan eerder gevolg word as myne, dan raak ek dikbek en suur omdat ek nie my sin gekry het nie!

Dit is nou maar eenmaal so dat leierskap nie beteken dat jy die reëls neerlê en dat almal na jou pype moet dans nie. Goeie leierskap beteken eerder dat jy mense motiveer en koördineer sodat die dinge wat gedoen moet word op die beste moontlike manier klaarkom.

In ‘n laaste woordjie wil Johannes dit vir Gaius op die hart druk (en dit geld natuurlik ook vir jou en my) dat hy moet wys dat hy aan God behoort. Hoe doen jy dit? Deur nie die slegte voorbeeld van Diotrofes na te volg nie want dit weerspieël ‘n totale verkeerde gesindheid. Dit wys dat jy nie ‘n intieme persoonlike verhouding met God het nie. Daardie soort verhouding met die Here borrel uit in goeie dade. Dit is dinge soos vriendelikheid, gasvryheid, diensvaardigheid en ‘n aansteeklike blydskap wat almal in jou lewe kan sien. Laat die leuse van jou lewe word: “Leef wat jy Glo!” Dit beteken dat jy jou geloof aktief uitleef op elke terrein van die lewe!

Gebed:

Here, leer my asseblief om U wonderbare liefde aktief uit te leef tot eer van U Naam!

Argiewe


Onlangse Dagstukkies

Brief aan Titus
24 July, 2026
In die Dodesel
22 July, 2026