Lukas 16:19-31
Het jy al ooit dors gehad, verskriklik baie dors? Ek onthou uit my dienspligjare wat versengende dors kan beteken. Ons was dag-vir-dag gedryf deur die sersant tot absolute breekpunt! Ek onthou nog hoe my keel soos ‘n kaggel gevoel het. My tong was vasgelym aan my verhemelte, en ek het gesmag na ‘n druppeltjie water. Wanneer ek uiteindelik die geleentheid gekry het om te drink, het ek my staaldak (dis nou daardie staalhoed wat troepies dra) vol water getap en gedrink en gedrink en gedrink tot my pens so boep gestaan het. Ek kon net eenvoudig nie genoeg kry nie. Iemand anders vertel weer van ‘n oorlewingskursus wat hy in die weermag gedoen het, en waar die verskriklikste dors hom oorval het. Sy bietjie watervoorraad was op, en die son het hom genadeloos gebak. Tot sy groot vreugde spoor hy ‘n klein modderige poeletjie water in die veld op. Reg in die middel lê ‘n groot koek olifantmis. Sonder om eers tweekeer te dink, het hy die mis eenkant toe geskuif, en die modderige brousel behaaglik opgeslurp! Hoe dors kan ‘n mens word?!
Jesus trek die gordyne van die hiernamaals vir ons so op ‘n klein skrefie oop. Eintlik is Hy besig om steeds met die Fariseërs te praat nadat hulle Hom uitgelag het oor Sy uitsprake oor die gevare van rykdom. Hy vertel ‘n storie van ‘n ryk man wat in groot weelde geleef het terwyl daar ‘n arm man sit en krepeer het van die ellende voor sy huis, in die hoop dat hy so ‘n stukkie afval sou kon kry om te eet. Die kontras wat Jesus skilder tussen die twee is geweldig groot: die ryk man se beker loop oor, en partytjies is sy alledaagse norm. Die arm kêrel met die naam Lasarus verkeer, benewens sy armoede in groot pyn en sy liggaam is oortrek met swere. Die enigste verligting wat hy kry is die rondloperhonde wat sy sere lek. Terloops, hierdie is die enigste gelykenis wat Jesus vertel waar een van die karakters ‘n naam het. Sy naam, Lasarus beteken “God Help” en Jesus het dit waarskynlik simbolies gebruik.
Jesus vertel dat albei gesterf het, en skielik is die rolle omgeruil. Vir oulaas is die ryk man bederf met ‘n swierige begrafnis, en vir oulaas word Lasarus se liggaam waarskynlik weggegooi op die ashoop in die vallei van Gehinnom. Maar dan kom die transformasie, en Lasarus word weggedra deur engele na Abraham. Die ryk man? Hy beland in die doderyk, en nou is dit skielik hý wat die pyn verduur terwyl Lasarus rus en geluk vind langs Abraham!
Daardie verskriklike dors oorweldig die ryk man, en hy smag na ‘n druppeltjie water. Hy sou waarskynlik óók die olifantmis-modderwater gedrink het - ás daar maar wás. Maar daar was niks! Slegs versengende, uitmergelende hitte van die vuur wat hom verteer! Die ergste van alles was dat hy daar oorkant die kloof vir Lasarus kon sien. Hy het Abraham om te help gesmeek, maar Abraham was magteloos. Dan smeek hy Abraham om ‘n engel te stuur om sy familie wat agtergebly het te gaan waarsku. Maar Abraham het net sy kop geskud!
Die feit is dat die ryk man op aarde oorgenoeg tyd gehad het om die arme Lasarus se nood te verlig. Hy het ook oorgenoeg middele gehad, maar hy het hom nie verwerdig om enigsins aandag te gee aan hierdie arme man in nood nie. Die enigste liefde wat daar ooit in sy lewe was, was liefde vir homself. Vir ander en veral armes het hy nie ‘n dooie duit omgegee nie!
Die doel van Jesus se gelykenis was nie om ons te wys hoe dit anderkant die dood lyk nie, alhoewel ons so ‘n effense blik op die “anderkant” kry. Die tydperk direk na jou dood is eintlik ‘n soort tussentoestand, waar jou liggaam en siel geskei word. Jou verganklike liggaam bly agter terwyl jou siel die ewigheid betree, waar daar alreeds ‘n skeiding is tussen gereddes en ongereddes. Vir die gereddes is daar hemelse saligheid saam met al die ander gereddes deur die eeue. Vir die ongereddes wag die verskrikking van die doderyk. Hierdie is blykbaar nog nie die Hel nie! Met die wederkoms van Jesus gebeur daar iets wonderlik, wanneer mense weer ‘n nuwe liggaam kry. Maar hierdie is ‘n bespreking vir ‘n ander dag!
Wat is Jesus se boodskap vandag vir ons moderne mense? Nee, nie dat dit verkeerd is om ryk te wees nie. Die vraag is egter hoe jy jou rykdom hanteer en bestuur. Ja, en dit geld nie net vir die stinkrykes nie, maar ook vir jou en my, die doodgewone mense. Is jy bereid om met ‘n oop hand te lewe en jou oë oop te maak vir die nood van ander mense? Alles kom weereens net neer op liefde: Jesus het dit by verskeie geleenthede op mense se harte gedruk dat jy nie alleen liefde vir God moet uitleef nie, maar nét so belangrik dat jy liefde teenoor jou medemens moet uitleef op alle terreine.
Gebed:
O Here, ek staan só skuldig waar dit by die uitleef van liefde kom. So dikwels kyk ek liewer die ander pad. Vergewe my, en help my asseblief om my liefde ten volle uit te leef.