Land van Melk en Heuning

25 July, 2025
Luister Na Hierdie Dagstukkie Land van Melk en Heuning

Numeri 13:1-33

???? VIDEO | ???? OUDIO

Uiteindelik! Die Beloofde Land! Na ‘n baie lang trek deur die woestyn met hierdie opstandige volk, is Moses nou oorstelp van vreugde om die land te sien wat die Here hom en die volk beloof het. Hy gee ‘n paar huppelspronge, en dan vra hy: “Here, wat nou?” Vir hom het dit gevoel soos ‘n hond wat ‘n motor jaag - maar wat maak hy as hy daai motor vang?

“Moses,” antwoord die Here hom, “Stuur ‘n span om die land te gaan verken. Vat ‘n verteenwoordiger uit elkeen van die twaalf stamme.” Moses het gedink en gedink. Die Here vra van hom om ‘n plan van aksie op te stel om hierdie land in te neem. Die eerste stap is om hulle te vergewis van wat hulle in die land te wagte kan wees. Hoeveel teenstand gaan hulle kry van die volke? Is hulle leër van 600’000 man genoeg om die stede baas te raak? En dan moet hulle darem weet of dit alles die moeite werd is! Hulle moet mos seker maak dat die land vrugbaar is en dat hulle ‘n goeie bestaan daar sal kan maak. Hulle wil darem mos nie net blindelings in ‘n ding inloop en dan onverhoeds gevang word nie! Hulle moet voorbereid die land in besit gaan neem.

Moses het baie goed besef dat die Here by hulle is, en dat Hy vir hulle die oorwinning sal gee, soos wat Hy nog die hele tyd gedoen het. Nogtans moet hy voorbereid wees. Op dieselfde wyse moet ek en jy as gelowige vandag ook toekomsbeplanning doen en onsself voorberei vir dit wat op ons kan wag, al weet ons dat die Here met ons is. Ons kan nie sommer blindelings die toekoms instap en sê: “Die Here sal voorsien!” nie. As ek weet dat ek die Comrades gaan hardloop, gaan ek immers beplan en oefen en voorberei daarvoor.

En so stel Moses dan ‘n span spioene saam om te gaan kyk hoe hierdie land lyk. Hulle kry ‘n spesifieke opdrag oor waarna hulle moet oplet.

1. Hoe lyk die mense - sterk of swak?

2. Is daar min of baie?

3. Hoe lyk die land - goed of sleg?

4. Hoe lyk die stede - oop of beskerm?

5. Hoe lyk die grond - vrugbaar of arm?

“En bring vrugte saam asseblief!” Voeg Moses by. Hy het darem al lankal lus vir ‘n heerlike sappige trossie druiwe.

En so is die twaalf spioene die land in. Vir veertig dae lank verken hulle die land Kanaän van hoek tot kant om vir Moses al sy antwoorde te kry. Dit was ‘n goeie tyd om die land te verken, want die eerste vrugte het net mooi begin ryp word. Al die heerlike vrugte wat hulle die afgelope jaar of twee nooit gesien het daar in die woestyn nie, sien hulle nou in hierdie vrugbare land, en hulle monde kwyl. “Dis ‘n mooi land” stem hulle almal saam.

Op pad terug, langs die Eskolspruit, merk een van die manne ‘n ding wat sy mond wawyd laat oophang: ‘n wingerd vol druiwe. Maar wat vir hom totaal ongelooflik lyk, is die grootte van die trosse. Versigtig sluip hulle die wingerd binne toe niemand naby is nie, en sny een enkele tros af. Dit is so swaar dat twee manne aan hierdie enkele tros druiwe moet dra!

Veertig dae nadat die twaalftal vertrek het, kom hulle die kamp van Israel ingestap onder groot gejuig van almal. “Hoe lyk dit?” wil almal weet, en dan sien hulle die tros druiwe, en hulle monde hang onbeskaamd oop. “Is dit die soort van vrugte wat die land oplewer?” Almal is opgewonde, maar nou moet die twaalftal eers gaan verslag lewer by Moses.

Moses roep al die volksleiers bymekaar. Vandag vat dit nie lank vir die klomp om te kom nie, want almal is nuuskierig om te hoor van die nuwe land. Wanneer almal sit, begin die manne verslag lewer, en die manne se monde water eintlik as hulle vertel van al die vrugte. “Dit loop oor van melk en heuning!” stem die spioene almal saam. Die reuse tros druiwe en die bloedrooi granate wat hulle saamgebring het bevestig alles. “Dis ’n goeie land” sê die jong Josua.

“Maar,” sê een kêrel versigtig, “die mense wat in die land woon is sterk!” En dan vertel hy van die stede wat hy gesien het, en hoe verskriklik die stede ommuur is. Niemand kan daar in nie. En hulle gaan nie net met een volk te doene kry nie, daar is Kanaäniete en Jebusiete, Amoriete en Hetiete - almal gedugte teenstanders. “Ons kan hulle nooit oorwin nie - nie met ons powere weermag nie!” kerm hy.

Daar gaan ‘n gemor deur die leiers, maar dan staan Kaleb op: “Manne, ons kán dit doen. Ons kán daardie land oorwin. Ons moet beslis die land inval!” Sy vriend Josua stem saam.

“Maar die mense daar is reuse!” kerm een kort Joodjie, “Ek het hulle met my eie oë gesien!”

“Ja,” beaam sy maat, “ons was soos sprinkane teenoor hulle.” ‘n Derde kêrel reken dat daardie inwoners van die land die lewe vir Israel baie moeilik gaan maak.

Moses het ál die inligting wat hy nodig gehad het. Hoe gaan hy dit verwerk? Hoe gaan hy besluit? Hulle het nou reeds so ver gekom - hulle kan mos nie omdraai en teruggaan Egipte toe nie? Die Egiptenare sal hulle net eenvoudig uitlag!

Gebed:

Here, so dikwels sien ek net die reuse raak, en vergeet dat U baie groter as hulle almal is. Ek bid dat U my die visie sal gee om verby hulle te kyk en U raak te sien!

Argiewe


Onlangse Dagstukkies

‘n Warm Patat
21 August, 2026
Die Ark is Gebuit!
20 August, 2026
Luister en Doen
19 August, 2026
Wanneer die Here Praat
18 August, 2026
Om Kinders Groot te Maak
17 August, 2026