Matteus 5:27-32
Wys my die man wat nie ‘n oog vir ‘n mooi meisie het nie! En wys my die vrou wat nie met waardering kan kyk na ‘n aantreklike man nie! Ai toggie! As ek dan na die eise kyk wat Jesus stel in hierdie preek, lyk hulle mos totaal onrealisties en onbereikbaar. Dan moet ’n man mos dood wees.…. Of is hulle werklik so erg?
Tydens ‘n huwelikseminaar het die aanbieder per geleentheid gesê dat as ‘n mooi meisie by jou verby stap, dan is dit maar net natuurlik dat ‘n man, selfs ook ‘n getroude man met waardering na haar sal kyk. Daarmee is niks verkeerd nie. As jy egter, wanneer sy om die hoek verdwyn, agterna hardloop om ‘n baie deeglike kykie te kry, dan begin die rooi gevaarligte wild flikker! Dit is dán wat jy moet begin selfondersoek doen, want dit is die begin van egbreuk. Dit gaan alles oor sondige begeertes, en dit is presies waarvan Jesus praat in Matteus 5.
In daardie tyd het die getroude vrou ‘n uiters kwesbare lewe gelei in die Joodse samelewing. Dit was haar eensydige plig om aan haar man getrou te bly, en sy moes bontstaan om die begerige oë en hande van vreemde mans te ontwyk. Die man, aan die ander kant, het dit maklik gehad, want die vrou was as’t ware sy eiendom, en hy kon eintlik met haar maak wat hy wou. Nou plaas Jesus egter die onus op die man wanneer Hy sê dat die man met die regte oog na ‘n vrou moet kyk. Dit sal beteken dat sy vrou dit makliker sal hê, en dat hulle huwelik veilig sal wees. Dit gaan nie hier oor ‘n onnatuurlike onderdrukking van jou sintuie, waar jy moet oë toeknyp en nie eers die mooi in die lewe mag raaksien nie. Dit gaan eintlik veel breër, waar ‘n man nie gedurig met begerige oë na ‘n mooi vrou kyk nie!
In ‘n tyd toe geen vrou veilig was alleen saam met ‘n vreemde man nie, het Jesus met Sy voorbeeld die samelewing genormaliseer met Sy verhouding met verskeie vroue, sonder enige bybedoelings. Sommige van hulle was selfs prostitute! Vandag is dit veral die predikant wat baie versigtig, en deurentyd biddend sy dagtaak moet aanpak, waar hy dikwels alleen saam met vrouens moet verkeer, en luister na hulle diepste hartsgeheime. Dikwels is ‘n vrou wat haar hart teenoor hom uitstort uiters kwesbaar, en dit kan potensieel in ‘n gevaarlike situasie ontwikkel. Bid dus gereeld vir jou leraar, dat hy sterk en staande sal bly.
Maar dit is nie net predikante wat uitgelok kan word nie, ons wêreld het in ‘n siek samelewing ontaard. Pornografie is aan die orde van die dag, nie alleen in tydskrifte wat eksplisiet op die rakke uitgestal word en die manne, en óók die vroue se hormone deurmekaarkrap nie, maar op TV word rolprente vertoon wat ‘n man kan laat hyg na jou asem. Dan het ons nog nie eers gepraat van die walglike pornografie wat vryelik tot elkeen se beskikking is op internet nie. In die samelewing staan die Evasgeslag dikwels skuldig deur uitlokkend aan te trek. Klere word dikwels gekies om die manne ‘n tweede en derde keer te laat kyk, en nie alleen te laat kyk nie, maar te laat begeer! Dit laat haar mos lekker voel as die manne haar nie in die oë kan kyk nie, maar eerder haar bates waardeer! Net só geld dit egter ook vir die manne. Ja, ‘n man kan óók uitlokkend wees en die vrouens laat swymel! Maar dis nie waaroor dit gaan nie, dit gaan baie eerder daaroor dat jy jou nie laat verlei nie, en dat jy slegs die mooi raaksien en nie die uitlokkende nie!
Dit bring ons dan by die derde teenstelling van Jesus, naamlik die egskeiding. Hieroor het ek al baie vrae gekry, maar ek wil dit baie duidelik stel dat ek nie ‘n huweliksberader is nie. Vandag het egskeiding baie maklik geword. In die Nuwe Testamentiese tyd was dit ook maklik, want die Jode het hulle eie interpretasie gehad oor ‘n versie in Deuteronomium 24:1, waar geskryf staan dat ‘n man maar van sy vrou kan skei as hy iets onbetaamlik aan haar kry. Hulle het op loop gegaan met hierdie versie, en gesê dat hy selfs van haar kan skei as sy maar net die kos verbrand. Wanneer ons Matt. 19 behandel, sal ons egter in meer diepte na die egskeiding kyk.
Kom ons stel dit baie duidelik: Egskeiding is nie vir God aanvaarbaar nie, en dit is nie die manier om huwelikskonflik op te los nie. Om ’n huwelik te beëindig is bloot egbreuk. Daarmee neem Jesus nie ’n absoluut ongenaakbare houding in nie, en weereens moet ek dit beklemtoon dat ons nie ’n enkele versie moet neem en daarmee ’n onverbreekbare wet maak nie. Ons moet die preek in sy geheel lees om die ware betekenis te kry. As ons na die groot prentjie kyk, sien ons dat Jesus wil hê dat ons as “draers van die oorvloediger geregtigheid” allereers biddend voor die Koning sal buig. Ons moet eers daardie basiese oorgawe maak voordat ons met enige “ja, maar” oor ons huwelik kan kom.
Die vraag is egter of ons ooit nog in staat is om onbevange God se wil in ons huwelik te soek? Of soek ons maar die eerste beste “oplossing” wanneer dinge skeefloop in die huwelik?
Gebed:
Here, ek bid dat U my sal bewaar teen struikeling. Hou asseblief my hart rein en bewaar my daarvan dat ek verkeerde begeertes in my hart sal koester!