Kruisig Hom, kruisig Hom!

15 April, 2025
Luister Na Hierdie Dagstukkie Kruisig Hom, kruisig Hom!

Lukas 23:13-25

VIDEO | OUDIO

Petrus luister ongeduldig na een van die lede van die Joodse Raad wat intussen tot ander insigte gekom het. Die ongelooflike het gebeur en die man het nou ook 'n volgeling van Jesus geword. Hy was die hele tyd by met Jesus se verhoor en hy vertel vir Petrus van die gebeure van daardie Vrydag: "Pilatus wou die saak van Jesus op Herodus afsmeer, toe stuur hy Jesus na die ou Tetrarg. Ons is natuurlik almal agterna."

"So, dit was toe Herodus wat vir Jesus veroordeel het?"

"Nee Petrus, Herodus het elke truuk in die boek probeer om Jesus aan die praat te kry, maar hy kon niks uit Hom kry nie!"

"Ja, en toe?" Petrus raak nou baie ongeduldig.

"Herodus het hom bitterlik vererg omdat hy niks kon uitrig nie. Maar van één ding was hy dóódseker - Jesus was ónskuldig aan ál die aanklagte wat die Raad teen Hom gegooi het!"

"En wat gebeur toe?"

"Petrus, die onverstaanbare is dat hy Jesus onskuldig bevind en toe stuur hy Hom terug na Pilatus om uitspraak te lewer en Hom te vonnis! Kan jy dit glo?!"

Petrus skud net sy kop in ongeloof.

Pilatus moes uitspraak lewer. Hy stel dit baie duidelik aan die priesterhoofde en Joodse Raad dat hy hulle saak baie deeglik ondersoek het en dat sy finale bevinding is dat Jesus onskuldig is. Herodus se bevinding bevestig dit en dit strook met syne.

Dan kom die totaal onverstaanbare: Pilatus besluit dat alhoewel Jesus onskuldig is, sou hy Hom tóg laat gésel voordat hy Hom vrylaat. Maar hiermee is die Jode gladnie tevrede nie. Dan moet Pilatus maar eerder vir Barabbas vrylaat, ‘n geharde misdadiger wat in die tronk is vir opstand en moord. Maar Jesus moet dood! Hy moet gekruisig word, want hulle wil die ergste moontlike straf vir Hom hê!

Dit gaan jou verstand te bowe dat jy so ‘n verskriklike haat kan opbou teen iemand, veral as daardie Persoon in Sy ganse lewe nooit enigiemand skade aangedoen het nie, maar net liefde en deernis uitgedeel het in oormaat.

‘n Tweede keer probeer Pilatus. Hy is vas oortuig dat daar géén skuld in Jesus is nie, veral nie die soort skuld wat ‘n mens die doodstraf laat verdien nie. Hierdie Jode is egter nou totaal besete en hulle wil nie eers hoor wat Pilatus sê nie. “Kruisig Hom, kruisig Hom!” hou hulle net aan skreeu.

“Watter kwaad het die Man gedoen?” Pilatus is desperaat. Vir ‘n derde keer probeer hy vergeefs om die Jode tot ander insigte te bring, maar hulle hou net aan skree, al harder en harder: “Kruisig Hom, kruisig Hom!” Nou is dit nie meer net die volksleiers nie, maar hulle het die hele volk saam met hulle opgesweep, ook diegene wat slegs enkele dae tevore nog in verwondering aan Jesus se lippe gehang het. “Kruisig Hom, kruisig Hom!”

Die duiwel was desperaat om vir goed van Jesus ontslae te raak, want hy het gesien waarheen dit op pad was en dat hy baie mag sou verloor as Jesus eers in volle beheer is. Ek dink hy het baie lekker gekry toe hy sien hoe goed sy plan werk en dat hy dit reggekry het om die hele volk teen Jesus op te sweep. Hy het al ook sy slag geslaan met Jesus se vertrouelinge. Judas het eerste gesneuwel en toe die grote, Petrus. Hierdie manne is geskiedenis! Hulle sal nooit weer dieselfde wees nie!

Maar die duiwel het nie met God rekening gehou nie, want met sy gemene spel het hy so reg in God se hand gespeel. Hy het nooit besef wat God beplan het nie en dat Jesus se teregstelling juis die einde van die duiwel se heerskappy sou beteken nie. Maar daar is ‘n ander element waarmee die duiwel ook nie rekening gehou het nie - die werking - die WONDERLIKE werking van die Heilige Gees! Hierdie dissipels wat hy so uitmekaar gejaag het, ook Petrus wat so hard geval het, sou later die heerlike, onmeetlike krag van die Heilige Gees beleef op Pinksterdag. Daar sou die Here hulle ophef uit die ellende waarin die duiwel hulle probeer dompel het en hulle sou kragtige getuies vir Jesus word! Só groot was die krag waarmee hulle gevul is, dat selfs baie van die volk wat saamgeskree het: “Kruisig Hom, kruisig Hom!” later ook volgelinge van Jesus geword het.

Ons wil ons dikwels so blindstaar teen die werke van die bose, dat ons nie die wonderlike hand van God kan raaksien nie. Maak jy vandag ‘n koerant oop, dan is al wat jy sien die verskrikking van misdaad. Bendegeweld, gesinsmoorde, oorlog, verkragtings. En dan hang die donker wolk van klimaatsverandering oor ons koppe. Ons word gekondisioneer om met oogklappe deur die lewe te gaan en net al die slegte dinge raak te sien.

Dit het tyd geword dat gelowiges ‘n slag daardie oogklappe afruk en begin kyk na die wonderlike dinge wat elke dag rondom ons gebeur, wonderwerke wat om ons plaasvind, wat ons maar net aan die hand van God kan toeskryf. Die “verskriklike” inperkings van Kovid 19 vyf jaar gelede het veroorsaak dat ons moes begin om eredienste uit te saai. Vandag bereik dit vyfkeer soveel mense as voorheen! Draai jou kop ‘n slaggie weg van die duiwel se werke en kyk na God se wonderlike werke!

Stel dan jou lewe tot beskikking van die Heilige Gees, dieselfde onveranderlike, onverganklike Heilige Gees wat vir Petrus en die ander opgetel en verhef het. Laat Hom toe om jou ganse lewe te vul en jy sal ook ‘n kragtige getuie van Jesus wees. Dan sal jy ook met nuwe oë begin kyk na die dinge wat besig is om rondom ons te gebeur. Jy sal verby die duiwel se laaste krampagtige pogings tot heerskappy sien en die Koninkryk van God raaksien wat besig is om in volle glorie te blom!

Gebed:

Here, vul my hele lewe met U Heilige Gees. Maak asseblief my oë oop sodat ek U wonderlike werke kan raaksien!

Argiewe


Onlangse Dagstukkies

Die Ark is Terug
24 August, 2026
‘n Warm Patat
21 August, 2026
Die Ark is Gebuit!
20 August, 2026
Luister en Doen
19 August, 2026
Wanneer die Here Praat
18 August, 2026